Huldeblyk aan Rochelle Jordaan (1921-2013)

Van tyd tot tyd sien ‘n mens op straat ‘n motor met die merk ‘LE’ iewers aangebring.  Dit staan vir ‘Limited Edition’, en wil daarmee sê dat van hierdie spesifieke model net ‘n paar gemaak is.  Ons Here het baie beter as dit gedoen:  eintlik is elke mens wat Hy gemaak het, ‘n ‘Limited Edition’:  ‘n besondere mens in eie reg.  Dis eintlik jammer dat ons min waardering daarvoor het, en eerder wil hê dat almal by geldende sienings moet inpas.  Dit sou slimmer wees om waardering vir mekaar se uniekheid te hê; om elkeen se besondere inset in die lewe na waarde te skat.

Tannie Rochelle Jordaan was in eie reg ‘n ‘Limited Edition’.  Vriendelik, maar streng en tog meelewend.  Wat sekere geloofsoortuigings betref – ononderhandelbaar.  Sy wou altyd meer weet.  Om te lees was haar liefde, haar stokperdjie, haar hartstog.

My eerste kennismaking met haar was op die plasie by Vaalharts, waar ons as ‘n paar jongmense oornag het, voor ons die volgende dag na ’n jeugkamp by Willowbanks, naby Kimberley sou vertrek.  Ons het in die vroeë oggend wakker geword met die hemelse musiek van ‘Aandlied van die voëls’ wat sy as wekker vir ons gebruik het.  Ek het nog nooit weer in my lewe só wakker geword nie.

Vir haar man was sy ‘n rugsteun, ‘n kritikus, ‘n onmisbare hulp wat in sy bediening as predikant by hom gepas het.  Sy het hom na haar smaak gebuig en gevorm, haarself in hom belê en uitgeleef – hy het baie bemind geword.  En sy was gelukkig daarmee.

Vir hulle agt kinders was sy ‘n doelgerigte en dinamiese ma wat haar wense duidelik oorgedra, en hulle gevorm het terwyl hulle nog baie jonk was.  ‘n Ma wat soggens vieruur opgestaan het om vir hulle te bid.  ‘n Ma wat by hulle aangedring het om hulle lewe aan die Here te wy.

Vir almal wat haar geken het was sy iewers tussen ‘n daadkragtige Debora en ‘n toegewyde Ester, ‘n dienende Martha en ‘n luisterende Maria.  Sy het die Here liefgehad en Hom na die eis van elke situasie met oorgawe gedien, totdat haar vermoë van skerpsinnige denke in die laaste jare in verwarring weggeval het.

Louis Lourens

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Huldeblyk. Bookmark the permalink.