Huldeblyk aan Shirley Coertze

Dit is amper onmoontlik om 50 jaar in die bediening saam met Shirley en amper 59 jaar met haar in die huwelik met u te deel.

Ek was ‘n berede polisieman in Roodepoort en het op 19 jarige ouderdom onder die prediking van Evangelis Ivor Powel in die Roodepoortse stadsaal tot bekering gekom.  Ek was na ‘n Polisiestasie te Nooitgedagt verplaas.  Shirley se pa was ‘n boekhouer maar het ook ‘n plaas besit.  Ek is te perd daarheen gestuur om ‘n klagte te gaan ondersoek en het daar vir Shirley ontmoet.  Sy was mooi, manierlik en ‘n opregte klein dametjie.  Hier het ons verhouding begin.  Die familie was ook Baptiste.  Haar moeder was ‘n orrelis in Troyville Baptist Church.  Haar oupa, Alf Law Palmer, was ‘n stigterslid van die gemeente.  Shirley het altyd tergend vir my gesê:  ‘Ek het nie op jou verlief geraak nie maar op jou perd en die mooi berede polisie-uniform.’

Shirley het ‘n leerling verpleegster aan die Johannesburgse Hospitaal geword.  Hier het sy ‘n liefde vir verpleging ontwikkel.  Ek het ‘n speurder geword en is na Jeppe naby Hillbrow verplaas.  Ons het toe saam by die Sentrale Baptistekerk aanbid en is in 1953 deur Dr. Chris Parnell gedoop.  Ons was albei aktief in jeugwerk betrokke waar ek later ‘n Sondagskoolonderwyser en diaken was.  Shirley was vol blydskap en het gebid dat ek tog die Speurdiens moet verlaat.  Haar gebede is op ‘n wonderbaarlike wyse vervul!

Op 5 Maart 1955 is ons getroud en ons het na ‘n Christelike vakansieoord, Dawnings op die Suidkus, gegaan vir ons wittebrood.  Op die 4de dag het die seestrome vir Shirley weggevoer.  Na ongeveer ‘n uur was dit duidelik dat daar geen kans van redding was nie.  Sy was nêrens te sien nie.  Maar God het ingetree.  Ek het in die sand op my knieë geval en gebid:  ‘Here, U alleen kan haar red, en as U dit doen gee ek my lewe as voltydse werker aan U.’  God het haar wonderbaarlik gered.  Later toe ek dit vir Shirley by die hospitaal waar sy opgeneem was vertel, was sy verheug en het sy God geprys.

In 1958 het ek aansoek gedoen vir studies by die Baptist Theological College en is as student aanvaar.  Ons was arm, maar Shirley het gesê:  ‘As God vir die Israeliete 40 jaar in die woestyn kon onderhou, kan Hy ons seker vir 4 jaar onderhou.’  Ons het toe twee kinders gehad.  Sy het ook gesê:  ‘Jy studeer en ek bid.’  God het voorsien en ek het my studies voltooi en niks geskuld nie.

Ons is na Brakpan beroep en hulle kon ons nie onderhou nie.  Shirley het gesê:  ‘Moenie bekommer nie, ek gaan verpleeg en jy gaan aan met die bediening.’  Die gevolg was dat Shirley vir 25 jaar verpleeg het.  Shirley was meestal hoof van die Chirurgiese sale.  In Nelspruit is sy die pos as matrone in Rob Ferreira hospitaal aangebied.  Sy het dit geweier omdat sy met mense wou werk en haar eerste liefde ook die bediening was.  In die hospitaal het sy heelwat manne wat deur leeus en krokodille aangeval is, verpleeg.  Sy het die verpleging gedoen en dan vir my ingeroep om die finale aanbieding te doen, en hulle sodoende na die Here toe te lei.

Afgesien van verpleging was haar kinders haar kroon.  Sy het haar kinders in die Kerk groot gemaak.  Sy het altyd gesê:  ‘Ek wil my kinders soos klein Samuel grootmaak, in die Huis van God.’  Ek was baie weg met vergaderings en 5 keer vir ‘n maand lank as evangelis in Amerika.  Shirley het tweekeer saam gegaan.  Daar het sy met welslae dames byeenkomste waargeneem met geseënde gevolge.  Verder het sy ook in kore gesing waar ek gepreek het.  Sang en musiek was een van haar voorliefdes.

Shirley het die voorreg gehad om 3 van haar susters na die Here toe te lei.  Een van hulle is later Sendingveld toe in Zambië.  God het haar geseën met 4 kinders en 8 kleinkinders.  Die twee seuns, Nicki en Stephen, is albei in voltydse diens van die Here.  Die twee dogters, Dawn en Sandra, dien die Here in die musiekbediening en ander areas in hulle gemeentes.  Die skoonseuns en -dogters dien ook almal die Here.  Een van my dogters het gesê, die beste manier om Mammie te beskryf, is deur Galasiërs 5:22-23.

Shirley was vir die afgelope vier jaar nie wel nie, maar sy het nooit gekla nie, haar geloof behou en gedurig gebid.  God het my geseën met goeie gesondheid om vir 4 jaar elke dag by haar in die mediese fasiliteite te wees, haar te bemoedig, vir haar te bid en met die Skrif te bedien.  Sy kon nie meer sien nie, nie loop nie, en as’t ware glad nie praat nie, maar kon baie goed hoor.  Ek het 160 liedere en koortjies saam met haar gesing terwyl sy baie kere saam geneurie het.  As ek ‘n fout gemaak het met die woorde van die liede, het sy my goed laat verstaan dat ek verkeerd sing deur te sê ‘No’.  Sy het Bybelverhale, stories van die kinders en verhale van haar hondjie Smiley baie geniet.

Nou is sy waar sal altyd wou wees.  Alle siekte, pyn, lyding en smarte is iets van die verlede.  Prys die Here, sy is op 23 Januarie huis toe en nou by Hom!

Frans Coertze

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Huldeblyk. Bookmark the permalink.