‘n Episode uit Martin Holdt se kinderdae

l

Die Wildekus waar die Holdts gewoon het, word beskou as een van die mooiste plekke aan die kus van Suid-Afrika. Dit strek langs die Oos-Kaap/Transkei kus tussen Port St Johns en Port Edward en verder tot by Oos-Londen. Die afstand is ongeveer 250 Km. Martin, soos seuns maar is, was altyd besig met dinge waarvan seuns hou.  Eendag het hy en ’n groepie maats, onder wie Boykie Grosvenor en Mkambati Msikhabam, besluit om te kyk wie van hulle die verste in die lagune kon inspring.  Die seuns het nie besef dat die plek waar hulle sou land, soos ’n bodemlose put was nie.  Nie een van hulle kon swem nie.

Toe Martin eers in die water was, het hy gevind dat hy sink en sink en sink… Hy het gesukkel om weer op te kom. Een van die ander seuns het egter bo-op hom beland en hom weer verder ondertoe gestoot. Martin het gevoel dat sy einde aangebreek het, maar hy het dit op een of ander manier reggekry om die oppervlak te bereik.  Hy het uit die water gesukkel – in ’n geskokte toestand.  God het sy lewe weereens gespaar.

Later het Martin homself die vraag afgevra: “Hoekom het God my gespaar van slange en hiervan?”

Wat Martin in Matteus 24 gelees het in die Bybel wat sy ma vir hom gegee het, het hom beangs gemaak. Hy het al geweet die oordeel volg op die dood, maar wat dan? Toe kry hy ’n slim plan. Om seker te maak dat hy nie sal verdrink wanneer daar dalk nog ’n wêreld-vloed kom nie, sou hy probeer om vir homself ’n rubberbootjie te maak.  So sou hy die kloue van die dood ontkom.

Interessant genoeg het Martin op daardie stadium nog nooit die evangelie van Jesus Christus gehoor nie.

tr

In Flagstaff, ’n klein dorpie met slegs drie kerke, het jong Martin dikwels verby ’n Rooms-Katolieke kerkie gestap. Deur die oop deur kon hy ’n tafel met ’n tafeldoek en kerse sien. Hy het besluit om dit by die huis te gaan probeer. Dalk sou die dekor en ’n paar towerwoorde help om die vrees wat hom gery het, weg te jaag. Hy het ’n klein tafeltjie in sy kamer gesit en dit bedek met ’n mooi tafeldoekie.  Toe sit hy kerse op die tafel, net soos in die Rooms-Katolieke kerk – maar dit het nie gehelp nie.  Martin het geweet dat hy ’n sondaar was, en op pad was hel toe…

…Tot volgende keer

 

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie. Bookmark the permalink.