Christene en rassisme

Racism

Anderskleuriges in die kerk

Wat sal jy doen as ‘n Zulu Christen wat goed Afrikaans kan praat by jou gemeente wil aansluit?  ‘n Afrikaanse predikant het vir my vriend gesê:  ‘Ek sal nie ‘n k#&$!@r in my kerk toelaat nie!’  Hoe voel jy oor die saak?  Sal jy vra dat daar eers ‘n vergadering gehou moet word?  Sal jy wil hê dat daar ‘n paar ekstra vereistes vir lidmaatskap moet wees?  Sal jy sê hy of sy kan ‘n lidmaat word, maar nie ‘n ouderling of diaken nie:  hulle mag nie met die geld werk, kos aan die armes bedien, of die vrouebediening lei nie?  Sal jy en jou kinders wegbly as hy preek of ‘n Bybelstudie lei; as sy Sondagskool gee?  Sal jy ophou om die nagmaalbeker te gebruik as hy daaruit drink?  Sy jy hom as lidmaat aanvaar, maar apart sit by gemeente etes; apart staan by tee?  Sal jy verleë voel as hy jou in die hospitaal kom besoek?  Sal jy uiteindelik die kerk verlaat en jou kinders uit die Sondagskool neem as die gemeente 70% swart en 30% wit is?  Laat sulke vrae jou ongemaklik voel?  Sê jy in jou gedagtes:  ‘Ja, maar…’?

 

God trek niemand voor op grond van die uiterlike nie en ons moet ook nie.  Toe Samuel ‘n nuwe koning moes salf, was hy beïndruk met Eliab se voorkoms.  Die Here het vir hom gesê:  “Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” (1 Samuel 7:16).  Geen Jood sou saam met ‘n heiden eet nie.  Hy het geglo dit maak hom onrein.  Na ‘n openbaring van die Here het Petrus vir die heidene gesê:  “Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie… Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” (Handelinge 10:28, 34-35).  Moet dan nie probeer om mense van ander nasies uit die kerk te hou nie.  Bely eerder saam met Petrus:  “As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?” (Handelinge 11:17).

 

Is swart mense vervloek?

Het jy al gehoor as ‘n ma vir haar rebelse kind sê:  ‘Eendag gaan jy dit dubbel terugkry as jóú kind vir jou soveel probleme gee soos wat jy vir mý gegee het’?  Dit is wat Noag vir sy seun Gam gesê het.  Gam het vir sy pa se naaktheid gelag.  Daarom het Noag Gam se seun vervloek:  “Vervloek is Kanaän!  ‘n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers. vir Kanaän, Gam se seun, vervloek.” (Genesis 9:25).  In die verlede het kerke dié vers gebruik om apartheid en slawerny te regverdig.  Omdat Gam se nageslag onder andere na Noord- en Oos-Afrika toe versprei het, het hulle gesê dat swart mense deur God vervloek is (Genesis 10:6).  Maar sê die vers dat Gam en sy hele nageslag vervloek is?  Of is net Kanaän vervloek?  Buitendien is daar in die Nuwe Testament geen vervloekte volk nie:  “waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kolossense 3:11).

 

Almal het dieselfde pa

Alle nasies het uit Noag en sy seuns ontstaan (Genesis 10:1, 32).  Ons kan nie roem asof ons beter is as ander nie.  Dalk wonder jy hoekom velkleure, neuse en oë dan so verskillend is.  Die inligting vir ligte en donker velle was in Noag, sy seuns en hulle vroue se DNA.  Om sonbrand en velkanker te vermy, sou mense met ligte velle uit warm Racism 2kontinente soos Afrika wegtrek.  Hulle sou beter aard in Noord-Europese lande.  Mense met donker velle soek son vir vitamien D, en sou nie maklik in koue gebiede aard nie.  Daarom het hulle na warmer gebiede toe getrek (soos swaeltjies in die winter).  Mense in warm areas sou ook groter neusgate ontwikkel het om meer suurstof in te neem.

 

Wat van Chinese wat kleiner oë het as Westerlinge?  Daar is ‘n ligament wat Chinese se oë ‘toe’ hou.  Alle babas word hiermee gebore, maar op ses maande skeur dit los.  By Chinese skeur hierdie ligament nie los nie.  Hulle het ook ‘n dubbel vetlaag bo die oog, terwyl Westerlinge net ‘n enkel vetlaag het.  Skrefie-oë sou perfek werk vir sneeustorms en sonstrale wat van die sneeu af weerkaats.

 

As ons dan almal dieselfde oorsprong het, dan mag mense uit verskillende nasies met mekaar trou.  Natuurlik moet jy jou voorberei dat daar kulturele verskille sal wees, maar die enigste verbod wat die Here stel, is dat Christene nie met ongelowiges moet trou nie (1 Korintiërs 7:39).  Wat jou anders maak, is nie jou gelaatstrekke nie, maar God se genade.  Vergeet van jou Afrikaner-trots en roem in die Here wat nasies se grense bepaal het en dit gee aan wie Hy wil:  “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:26).  Uiteindelik sal alle lande en nasies in elk geval onder Jesus se bewind wees:  “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Psalm 72:8).

 

Afrikaans en ander tale

Alle tale het in Genesis 11 ontstaan.  Moenie ‘n nasionale snob wees wat dink Afrikaans is beter as ander tale nie.  Moenie so hoogmoedig wees dat jy weier om met die kelner of petroljoggie Engels te praat nie (behalwe natuurlik, as jy regtig nie Engels kán praat nie).

 

In Jesus vind ons eenheid met mense van ander tale.  In Genesis 11 het tale verdeeldheid gebring.  In Handelinge 2:1-13 is tale die teken dat God mense uit verskillende lande in Christus verenig.  In die hemel sal ons ons nasionale identiteit behou:  “daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9).  Tog sal ons vir ewig een wees:  “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9).

 

Kulturele sonde

Daar bestaan so iets soos kulturele sondes.  Oor die inwoners van Kreta sê die Bybel:  “Een uit hulle, hul eie profeet, het gesê:  Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes, lui buike.” (Titus 1:12).  Om dan te sê dat Tsongas lui is, dat Afrikaners rassiste is, dat Xhosas steel, dat Indiërs skelm is, is nie ‘n rassistiese stelling nie.  Deur die krag van die evangelie en God se Heilige Gees, moet Afrikaners die sonde van rassisme aflê.  As Darwin se teorie reg is, het sekere nasies verder gevorder in die evolusie proses as ander, en dan kan ons apartheid en rassisme verdedig.  Maar as die Bybel waar is, moet rassisme sterf en nooit weer opgewek word nie.

 

Is jy moeg vir die kwota sisteem in ons land?  Pla dit jou as koerantopskrife sê dat ons krieketspan ten minste vyf ‘gekleurde’ spelers moet hê?  Ons sal seker saamstem dat die beste spelers in die span moet wees – al is almal swart.  Laat ons nie soos die wêreld wees en hierdie euwel in die Christelike gemeenskap toelaat nie.

 

Ivor Jefferies

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Kultuur, Rassisme. Bookmark the permalink.