Die man wat nie gestuit kon word nie

John Welch

‘n Boek oor die lewe van John Welch

 

John Welch was ‘n rebelse jong seun wat op al die verkeerde maniere gesoek het na avontuur.  Op 14 het hy van sy ouerhuis af weggeloop en by ‘n groep rowers beland.  Hy was op soek na avontuur.  Hy wou vry en onafhanklik wees.

 

Die lewe onder die rowers was iets wat vir hom heeltemal onbekend was.  Uiteindelik het hy tot die besef gekom dat hy nie net van sy pa nie, maar ook vir die Here weggehardloop het. God was die jongman genadig.  John het sy sondige lewe gelos en teruggekeer huis toe.  ‘n Paar jaar later het hy ‘n prediker geword.

 

Die mees ondenkbare dinge, beide goed en sleg, het met John en sy gesin gebeur oor die dertig jaar van sy bediening in Skotland, en daarna in Engeland en Frankryk.  Een aand het ’n besoeker by Welch se huis oornag en hom in die nagtelike ure hoor bid.  “Ek wil die Here ken soos jy Hom ken,” het hy gesê. “Jy kan,” het John Welch geantwoord, “dit is geen geheim nie.”  Gebed was die ‘geheim’ agter John Welch se lewe (E.M. Bounds sê dat hy nooit deur ‘n nag geslaap het nie, en tussen 7 en 8 ure per dag gebid het – Red.).  Hoe anders het dit gekom dat niks en niemand in sy pad kon staan nie; selfs nie eers die konings van Engeland en Frankryk nie?  Sy lewensfilosofie was:  “Die Here is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?”

 

In hierdie boekie kan jy uitvind hoe John Welch manne wat in ‘n aggressiewe swaardgeveg betrokke was, in die middel van die straat om ’n tafel laat sit het, en só die vrede herstel het.  Jy kan lees hoe hy ‘n stad van ‘n dodelike plaag gered het, en hoe hy oorleef het toe ‘n kanonkoeël in die middel van die nag sy bed aan flarde geskeur het.  Hierdie verhaal het my laat stil word en ernstig laat nadink oor wat dit beteken om die Here te volg. Kan ek die Here ken soos Welch Hom geken het?  Kan daar vandag nog sulke mans en vroue soos John en Elizabeth Welch wees?

 

Hierdie kort biografie word nie net deur kinders geniet nie, maar volwassenes vind dit uitdagend en inspirerend.

 

Van Zyl de Villiers

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie, Boekresensies. Bookmark the permalink.