Johannes Calvyn: ’n Reus in die kerkgeskiedenis

Calvin 2

DEEL 1

 

Johannes Calvyn[1] was ’n teoloog, pastor, Bybel-eksegeet en onvermoeide apologeet vir die Gereformeerde Christendom.  Hy tel onder die belangrikste denkers in die kerkgeskiedenis.  Sy teologiese werke, Bybelkommentare, traktaatjies, verhandelings, preke en briewe het gehelp om die Hervorming as wettige en bloeiende godsdiensbeweging dwarsdeur Europa te vestig.  Geen ander teoloog is so hartlik verwelkom of so kwaai beledig as Johannes Calvyn nie. [2] (vry vertaal)

 

 

Calvyn is gebore in die dorp Noyon in Picardie, Frankryk.  Die dorp lê ongeveer 80 km Noord-oos van Parys.  Hierdie Hervormer het egter die helfte van sy lewe in Genève, Switzerland, deurgebring.  Calvyn was die tweede seun van streng Rooms-Katolieke ouers, Gerard en Jeanne (neé Le Franc) Cauvin.  Hy is op 10 Julie 1509 gebore.  Sy ma is oorlede toe hy vyf of ses jaar oud was, en sy pa en stiefma het hom grootgemaak.

 

Gerard Cauvin is deur die plaaslike biskop as ’n administrateur in die dorp se katedraal in diens geneem.  Hy kon vir sy seuns ’n goeie opvoeding reël en die jong Jean se speel- en klasmaats was afkomstig uit die adel.  Johannes (Jean) was intelligent en het uitgestaan bo die ander skoliere.  Toe hy 14 was het hy ’n universiteitsbeurs gekry en is hy Parys toe.  Hy sluit aan by die Collège de la Marche om ’n basiese kursus in Latyn, wat grammatika, lees, skryf en praat ingesluit het, te loop.

 

Terwyl Calvyn in Parys was, het hy sy naam, Jean Cauvin, verander na die Latynse vorm daarvan: Ioannis Calvinus.  Die Afrikaanse weergawe van Calvyn se naam is hiervan afgelei: Johannes Calvyn.  Die jong Calvyn se leermeester in Latyn was Marthinus Cordier, wat een van die beste Latyn onderwysers van die tyd was.  Dit is aan hóm wat Calvyn later sy kommentaar oor 1 Tessalonisense opgedra het:

 

“…dit was onder jou leiding dat ek ’n studiekursus begin en ver genoeg gevorder het, om ten minstens gedeeltelik bruikbaar te wees vir God se kerk… ek wou aan die nageslag betuig dat, indien hulle voordeel sou trek uit wat ek geskryf het, hulle moet weet dat jy gedeeltelik daarvoor verantwoordelik is.”[3] (vry vertaal)

 

Calvyn is na die Collège de Montaigu wat bekend was vir twee dinge: sy streng dissipline en die slegte etes!  Nie een van hierdie dinge was vir die studente lekker nie.  Wat Calvyn betref, is die fondasie vir die toekoms hier gelê.  Studente moes om 4 v.m. opstaan vir die oggenddiens.  Daarna was daar lesings tot 6 v.m. en die oggend mis.  Na ontbyt, van 8-10 Calvin 1v.m., was dit die hoof lesing, gevolg deur ’n bespreking van die onderwerp vir die sessie.  Tydens die daaropvolgende hoofmaaltyd is die Skrif, of die lewe van een of ander heilige, voorgelees.  Daarna is nog ’n uur gewy aan vrae om te verseker dat die studente die studies van die oggend verstaan het.  Tussen 1 en 2 n.m. was dit rustyd, maar selfs dán is daar baie keer Skriflesing gedoen.  Die middagklas het geduur van 3 tot 5 n.m.  Daarna het gebed, bespreking van die middag se lesse en aandete gevolg.  Voor slaaptyd was daar van 8 tot 9 n.m. verdere vrae en bespreking.

 

Vir iemand van Calvyn se intelligensie was hierdie veeleisende program ’n uitdaging (mense wat op ’n vroeë leeftyd min dissipline beleef het, sukkel om later in hulle lewe daarmee saam te leef).  Calvyn het elke aand voor hy gaan slaap het dít wat hy daardie dag geleer het, hersien om seker te maak dat hy dit nie sal vergeet nie.  Teen sy dertigerjare was Calvyn sieklik a.g.v. die streng roetine, en teen die tyd dat hy 50 was, was dit nog erger.  Hy het aan chroniese arthritis, bloedverlies, longontsteking en ’n vorm van tering gely.  Calvyn se vriend en biografis, Theodore Beza, reken dat Calvyn teen die tyd dat hy dood is, aan ongeveer 40 verskillende siektes gely het.  Die verstommendste is dat hierdie man tot en met sy dood ’n enorme hoeveelheid werk kon doen.

 

Vertaal deur Rex Jefferies

[1] http://www.biography.com/people/john-calvin-9235788

[2] http://www.calvin500.com/john-calvin/biography/

[3] Bron: die Inleiding tot Letters of John Calvin (The Banner of Truth Trust, 1980).

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie. Bookmark the permalink.