Ons verantwoordelikheid as ouers

Parenting

Dis eenvoudig verbysterend as mens daaraan dink dat God in Sy geheimenisvolle wysheid en raad ouers verordineer het om lewe voort te bring – so te sê vanuit niks nie. ‘n Nuwe wese –lewend, rasioneel, onsterflik! Kan enigiets wat ons hier op aarde vermag meer gewigtig en meer verhewe wees? Niks lig die mens tot ‘n hoër vlak nie. Niks wat deur ‘n skepsel verrig word, is groter as dit nie – nie op aarde nie, nie in die hemel nie. Niks bring ons nader aan die status van ons almagtige Skepper as dit nie.

Die grootsheid van ‘n baba se ontvangenis en geboorte word nie bloot gesien in die wondere van sy of haar liggaampie nie, verbysterend soos dit is. Die nog meer oorweldigende lê in die feit dat ‘n unieke individu voortgebring is wat vir ewig sal lewe. As jong ouers na hulle baba kyk, moet hulle besef dis ‘n onsterflike lewe wat hulle verwek het. Dis ‘n vlam wat nooit weer geblus kan word nie, ongeag waardeur so ‘n lewe in die jare wat voorlê ook al sal moet gaan. Dink daaraan:  die een oomblik was daar niks nie; die volgende ‘n wese wat persoonlik en bewustelik tot in alle ewigheid sal leef! In hierdie skepping is daar geen krag wat dit ongedaan kan maak nie. Die ouers het ‘n lamp aangesteek wat lank nadat die son tot as verval het, steeds sal bly brand – òf met die heerlikheid van gelykvormigheid aan Christus, òf met die rokende vlam van uitsiglose wanhoop en ellende.

 

Dis die feit van hierdie twee eindbestemmings wat so ‘n enorme verantwoordelikheid op ouers laai. Enersyds was hulle die instrumente wat aan elkeen van hulle kinders die gawe van ewige bestaan gegee het. Andersyds is dit húlle wat hul kinders vergiftig het met die erfsonde – die erfskuld wat ‘n mens van die eerste lewensoomblik af onder God se toorn plaas, en die erfsmet wat jou van kleins af tot sonde laat neig. Kan daar dus ‘n groter verantwoordelikheid op ons rus as om deur verkondiging, voorbeeld en voorbidding die Here se reddende ingrype in ons kinders se lewens te soek?

 

In Spr.22:6 word die ouer beveel om aan sy kind leiding te gee oor hoe hy of sy moet leef. Maar hoe móét ‘n mens leef? Volgens Ef.6:4 moet ons ons kinders grootmaak in die weë van die Here. Maar wat ís die regte pad? Wat ook al die antwoord, dít staan vas: vir die grootste gedeelte van ‘n kind se opvoedingstyd is hy of sy totaal onbekwaam om hierdie vraag te antwoord. Hy kan trouens nie eers begin om dit te doen nie. Dis gevolglik onontkombaar: die ouer moet vir hom of haar besluit! Natuurlik moet ouers hulle kinders toelaat om selfstandig en individueel te ontwikkel. Natuurlik kan ons nie hulle persoonlikhede en voorkeure soos lood in ons eie groefies giet nie. Maar dat God in Sy soewereine wysheid besluit het om aan ons ‘n ontsaglik belangrike rol toe te ken in die vorming van ons kinders, staan so vas soos die berge! En elke ouer mag en moet alles wat die Here tot sy beskikking stel in die proses gebruik. Hy moet elke geleentheid gebruik, hy moet die tyd uitkoop. Hy moet die voorbeeld stel, hy moet lering gee, hy moet die roede gebruik. Sonder huiwering moet hy sy meerdere kennis, ervaring en vermoëns gebruik om die waarheid, asook dit wat reg en verkeerd is, in die jong gemoed te vestig. Hy moet die kind alles leer wat hý geleer het. In die proses sal hy hom noodwendig oortuig, of probeer oortuig, waarvan hý oortuig is.
 

Hoe kragtig is hierdie invloed nie! Vir alle praktiese doeleindes lewer dit die kind aan sy ouers uit. En hy is – in elk geval aanvanklik – totaal onmagtig om dit te weerstaan. Dis hoekom appels na aan bome val. En dit het nie net met genetika te doen nie; dit het net soveel met opvoeding te doen. Nêrens anders gee God aan die mens soveel mag nie. Wat is meer verreikend? Wat raak ‘n medemens meer ingrypend? Wat dra meer langtermyn-gewig? Wat het meer ewigheidsbetekenis? En presies hier lê die rede vir die skrikwekkende verantwoordelikheid wat op elke ouerpaar rus! As die Here dan vir jou en my as ouers ‘n bykans goddelike rol gegee het in die voortbring en vorming van ons kinders – selfs wat hulle ewige lot betref – durf ons hierdie roeping verwaarloos?

 

O, mag die Here ons help! As ons dan so ‘n belangrike rol in ons kinders se lewens speel, kom staan ‘n vraag vierkantig voor ons: wat is die heel belangrikste inset wat ek in hulle lewens kan en moet lewer? Wat moet ek meer as enigiets anders by hulle tuisbring? Baie sal antwoord: morele waardes – die verskil tussen reg en verkeerd! Gewis is dit van die allergrootste belang. Sonder twyfel lê dit aan die hart van opvoeding. En tog is dit nié die heel belangrikste nie. Moraliteit op sigself sal immers aan niemand die ewige lewe besorg nie. Wat is dan die summum bonum? Waarheid! Waarheid! Waarheid! En wat is die hoekpilare van die waarheid waarsonder ons nie ons kinders die wêreld mag instuur nie?

 

God – Sy heilige karakter en volmaakte standaarde soos Hy dit aan ons geopenbaar het.

 

Die mens – sy onontkombare rentmeesterskap en gepaardgaande aanspreeklikheid voor sy Skepper, maar ook sy mislukking in hierdie verhewe roeping.

 

Jesus Christus – God se enigste maar volmaakte oplossing vir ons verskriklike dilemma.
Nou lê dit voor die hand dat hierdie elemente van die waarheid wat tot in alle ewigheid saak maak, bloot akademiese inligting vir ons kinders sal wees as hulle nie elke dag sien hoe dit óns lewens beheers nie. Ons moet dit as ‘t ware modelleer. En hulle moet nóg mense sien in wie se lewens dit ‘n ingrypende verskil maak. En hulle moet die onmiskenbare verskil sien tussen diegene vir wie Christus die weg, die waarheid en die lewe is, en diegene wat maar gewoon afdryf in die stroom van hierdie wêreld se beheptheid met selfhandhawing, selfbevoordeling en selfbevrediging.

 

Die diepste essensie van ons opvoedingstaak as ouers is om dag na dag die waarheid by hulle in te prent deur ‘n lewe van dissipelskap voor hulle oë. Dis om hulle geduldig te leer en te laat leer. Dis om hulle gewetens te slyp op die steen van God se wet. Dis om sonder ophou vir hulle te bid – dat die Here Sy waarheid diep in hulle harte sal ingrafeer. Dis om by ‘n gemeente in te skakel waar die volle raad van God twee-en-vyftig Sondae per jaar gepreek word – en waar die lidmate in Jesus se voetspore stap en God die Vader in gees en waarheid aanbid. Dis om jou kinders te leer dat daar ‘n verskil is tussen waarheid en leuen, tussen egtheid en skynheiligheid, tussen lig en duisternis.

 

Laat ons in ‘n duisend ander dinge misluk, maar nie hierin nie! En wat van dié van ons wie se mislukking ‘n onomkeerbare feit is? By God is daar altyd vergifnis vir die ootmoedige. En wanneer ‘n ootmoedige bid, is amper niks onomkeerbaar nie!

 

Nico van der Walt

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Ouerskap. Bookmark the permalink.