Wat sê die Bybel oor charismatiese tale?

Speaking in tongues

Wêreldwyd is daar miljoene mense wat daarop aanspraak maak dat hulle in tale kan praat.  As jy dit bevraagteken, beskuldig hulle jou daarvan dat jy die Heilige Gees bedroef, blus of weerstaan.  Moet jou nie hieraan steur nie, maar toets alles aan die Skrif.  Daar is ‘n groot verskil tussen die Bybelse gawe van tale en dit wat vandag in charismatiese kerke gebeur.

 

Tale kan nie aangeleer word nie

Die Christene in Handelinge 2:4 het nie vir taalklasse gegaan nie, maar het bonatuurlike hulp ontvang om in ander tale te praat.  Vandag sê charismatiese leiers vir mense dat hulle moet oefen om in tale te praat:  ‘Begin net praat – die Heilige Gees sal jou tong losmaak.  As jy 800 keer New York unique sê, sal jy dit regkry.’  Party pastore sê dat hulle mense sal leer om in tale te praat.  1 Korintiërs 12:11 sê egter dat die Gees “aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.”

 

Nie almal kan in tale praat nie

In Handelinge 2:4 het die dissipels in tale gepraat “soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.”  Die Heilige Gees is soewerein oor die gawes.  In die meeste charismatiese kerke wil almal in tale praat.  Maar die Bybel sê duidelik dat nie almal die gawe van tale het nie (1 Korintiërs 12:6, 10-11, 18, 24, 28).

 

Tale en Doping met die Heilige Gees

Pinksterkerke glo dat tale dié bewys is dat iemand met die Gees gedoop is.  Dis onsin.  Selfs nadat hulle die Gees ontvang het, is daar geen bewys dat die gelowiges in Handelinge 2:38-39 in tale gepraat het nie.  In Handelinge 4:8, 31 is Petrus en die dissipels onderskeidelik met die Gees vervul, en het hulle met vrymoedigheid gespreek.  In Handelinge 6:10 was wysheid die teken dat Stefanus met die Gees gevul is.  Toe hy in Handelinge 7:55 met die Gees gevul is, het hy die heerlikheid van Jesus gesien.  In Handelinge 11:24 wys baie bekerings dat Barnabas met die Gees gevul is.  In Handelinge 13:9 is Paulus met die Gees gevul, en kon hy onderskei dat die towenaar ‘n vals gees gehad het.  In Handelinge 13:52 is blydskap die bewys van ‘n Geesvervulde hart.

 

Die tale van engele

Nuwe Testamentiese tale was nie ‘n vreemde gebrabbel nie, maar die bonatuurlike vermoë om, sonder lesse, in ander lande se tale te praat (Handelinge 2:4-11).  Dit is onwaarskynlik dat die tale in Jerusalem en in Korinte verskillende tale was.  1 Korintiërs 14:9-11 sê tog:  “Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ‘n mens weet wat gespreek word?  Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.  Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie.  As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker ‘n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my ‘n vreemdeling wees.”  In 1 Korintiërs 14:21 haal Paulus Jesaja 28:11 aan.  Hy het geweet Jesaja praat van ander lande se tale:  “In die wet is geskrywe:  Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here.”

 

Mense sal beswaar maak:  ‘Maar 1 Korintiërs 13 praat dan van die tale van engele.’  Paulus maak gebruik van hiperbool of oordrywing.  Hy sê:  “Al sou ek die tale van mense en engele spreek… En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit… En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word…” (1 Korintiërs 13:1-3).  Paulus het nie gesê hy kán al hierdie dinge doen nie.  Buitendien blyk dit dat die tale van mense en engele een is; dat mense en engele dieselfde tale praat.

 

Tale as ‘n private gebedstaal

Sê 1 Korintiërs 14:2 tale is ‘n private gebedstaal:  “Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God”?  Die vers sê eenvoudig dat iemand wat in tale praat die Here prys.  In Handelinge 2:11, 10:46 het die gelowiges dit in die openbaar gedoen.  Tale, soos enige ander gawe, moet gebruik word om die gemeente op te bou:  “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.” (1 Korintiërs 12:7).  Om dit in jou binnekamer te gebruik, is selfsugtig en bou nie die gemeente op nie.

 

Maar praat 1 Korintiërs 14:14-19 nie van ‘n private gebedstaal nie?

 

14 Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar. 15 Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid.  Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing. 16 Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van ‘n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie? 17 Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie. 18 Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal; 19 maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tien duisend woorde in ‘n taal.

 

Waar sê die teks tale is ‘n private gebedstaal?  Die teks sê wel dat mense in tale kan bid, maar sê nêrens jy moet dit in jou binnekamer doen nie.  Inteendeel, Paulus sê dit moet uitgelê en verstaan word, sodat dit die gemeente kan opbou (v.16-18).  In v.14-16 sê hy dis nie goed as jy in ‘n taal praat sonder om te verstaan wat jy sê nie.  Tale moet uitgelê word, “sodat die gemeente stigting kan ontvang… So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente… Hoe staan die saak dan, broeders?  Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging—laat alles tot stigting geskied.” (1 Korintiërs 14:5, 12, 26).

 

God is ‘n God van orde

Volgens 1 Korintiërs 14:33, 40 soek God orde en vrede.  Selfbeheersing is ‘n kenmerk van dié wat in die Gees lewe (Galasiërs 5:22-23).  In die meeste charismatiese kerke is daar nie orde, vrede, of selfbeheersing nie, maar praat ‘n klomp mense gelyk in tale.  Tog sê die Skrif:  “En as iemand in ‘n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê.” (1 Korintiërs 14:27).  Is dít wat in charismatiese byeenkomste plaasvind die werk van Gees of die vlees?  Dis te verstane dat ongelowigs daarmee spot:  “As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie?” (1 Korintiërs 14:23).

 

Ivor Jefferies

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Geestelike gawes. Bookmark the permalink.