‘n Huldeblyk aan ds. Dirk de Vos

1 Maart 1933 tot 4 Oktober 2014

Dirk de Vos

Die kapel by die Glen Haven aftree-oord in Faerie Glen, Pretoria, was tot oorlopens toe volgepak met omtrent 150 mense.  Dit het reeds baie gesê oor ds Dirk de Vos se populariteit onder almal wat hom geken het.  Hy en sy vrou, Amy, het die afgelope veertien jaar in hierdie Baptiste aftree-oord in Pretoria gewoon.

Sy een seun Phillip, vertel dat toe hy as kind saam met sy pa winkels toe is, die uitstappie dikwels in ‘n lang ekspedisie ontaard het.  Die haakplek was dat dit gelyk het of elke derde mens in die winkel sy pa geken het, en eers wou dagsê voor hy verder gaan.

Dirk Cornelius Petrus de Vos het as jong man as landmeter gekwalifiseer.  Terwyl hy op ‘n stadium ondergronds in ‘n myn gewerk het, was daar ‘n ongeluk, en was hy vasgekeer terwyl dinamietladings al nader aan hom ontplof het.  In sy angs het hy gebid en beloof dat hy die Here sal dien as hy lewend daaruit kom. Maar tien jaar het verbygegaan voordat die werklike keerpunt in sy lewe gekom, en hy die Here gevind het.  Hierna het hy die Here getrou en met oorgawe gedien.

In Primrose gemeente was hy vir baie jare deel van die leierskap in die gemeente. Hy was ‘n ywerige en aktiewe sportman en het rugby gespeel tot ouderdom 45. Hy het selfs saam met sy oudste seun in ‘n wedstryd speel. Tennis, gholf, muurbal – enige mededingende sport was vir hom ‘n vreugde.

Met verloop van tyd het hy beleef dat die Here hom tot voltydse bediening roep, en het deur korrespondensie sy teologiese studies by die Baptiste Seminarium voltooi. Hierna het hy en Amy verskillende gemeentes bedien: Alberton Jan ’80 tot Jun ’81; Oos Londen Jul ’81 tot Apr ’82; Pietermaritzburg Mei ’83 tot Nov ’85 en Barberton Jan ’92 tot Des ’92.

Veertien jaar gelede het hy en Amy na die Glen Haven aftree-oord verhuis. Hier was hy ‘n geliefde vriend en pastor, en ‘n groot hulp in die teken van planne vir woonstelle of veranderinge daaraan. Hy het ‘n verbasende vermoë gehad om suksesvol met die burokrasie te onderhandel en planne vinnig en suksesvol te prosesseer.  Die woonstelle wat op die oomblik daar vir Alzheimer pasiënte gebou word, is nog deel van sy nalatenskap as plantekenaar.

Hy was ook vir vier jaar kapelaan in die oord, en toe sy opvolger oorneem, het hy nog steeds aktief by baie mense se lewens betrokke gebly. Hy was ‘n uitstaande luisteraar met besondere empatie en behulpsaamheid.

Toe een van die predikante in Pretoria vir hom ‘n huis laat bou, het hy vir Dirk genoem dat die argitek van mening is dat ‘n sekere faset daarvan nie moontlik is nie. Maar Dirk het dit laat gebeur! Volharding en uithou was deel van sy menswees. Tot die einde toe het sy lojaliteit aan mense sy bestaan dikteer. By meer as een geleentheid was hy self siek in die bed as iemand tot sterwe kom, aan wie hy beloof het dat hy die begrafnisdiens sal hanteer. Dan het hy sy lyf uit die bed gesleep, want “Ek het belowe.”

Sy vriendelike lag, innemende geaardheid en begrip vir mense se harte sal erg gemis word.

Louis Lourens

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Huldeblyk. Bookmark the permalink.