God se groot werk: reën

’n Oordenking van danksegging uit Job 5:8-10

Girl in rain

“As ek jý was,

sou ek my tot God wend

en my saak aan Hom voorlê.

Wat God doen, is groot

en ondeurgrondelik,

wonder op wonder.

Dit is Hy wat reën op die aarde gee,

wat water oor die veld uitgiet.”

 

As ’n mens vir iemand sou sê:  ‘My God doen groot en ondeurgrondelike dinge; Hy doen wonders sonder tal,’ en hulle sou antwoord:  ‘Werklik?  Soos wat?,’ sóú jy sê:  ‘Soos reën’?

 

Toe ek onlangs dié verse uit Job lees, het ek eers gevoel soos wanneer ek na swak poësie luister wat iets sê soos die volgende:  ‘Laat my swaarkry, Laat my sterf om jou hand,  Laat ek selfs ’n berg oor, of padlangs ry…’  Régtig!  “Selfs”?  Moet ek swaarkry en sterf en sélfs padlangs loop?  So al asof padlangs loop ’n groter opoffering is as sterf?  Dit klink meer soos ’n grap.

 

Maar Job maak nie grappe nie.  ‘God doen groot en ondeurgrondelike dinge; wonders sonder tal.  Hy gee reën op die aarde.’   In Job se gedagtes is reën werklik een van die groot, ondeurgrondelike wonders wat God doen.  Toe ek dit dus ’n paar weke gelede lees, het ek myself voorgeneem om dit nie te hanteer soos die betekenislose lirieke van ’n ‘pop’liedjie nie.  Ek het besluit om ’n gesprek te voer met myself (dis wat ek bedoel met mediteer).

 

Is reën ’n groot, ondeurgrondelike wonder wat deur God geskep is?

 

Verbeel jou dat jy ’n boer is in die Nabye Ooste, vér van enige dam of stroom af.  ’n Paar putte gee water aan mens en dier.  As die gewasse moet groei en die mense van maand tot maand moet eet, moet daar ook uit ’n ander oord water op die landerye kom.  Waarvandaan?

 

Uit die lug natuurlik.  Uit die lug uit?  Kan daar water uit die helderblou lug kom?  Wel, nie sommer nie.  Water sal deur die lug van die Middellandse See af gedra moet word – oor etlike honderde kilometers – en dan uit die lug oor die landerye uitgegooi word.  Deur die lug gedra?  Hoeveel weeg dit?  As 254mm reën gedurende die nag op 2.59km2 plaasgrond val, is dit 65,785,698 m3 water, wat gelyk is aan 65,781,099 liter.  Dis 65,561,959 kg water.  Dít is swáár!

 

Hoe kom die water dan in die lug en hoe bly dit daar as dit so swaar is?  Dit kom natuurlik daar deur verdamping.  Regtig?  Dís ’n mooi woord, maar wat beteken dit?  Dit beteken dat die water (in gasvorm) vir ’n tyd lank ophou om water te wees, sodat dit kan opstyg en nie val nie.  Nou hoe kom dit dan weer af?  Wel, daar vind kondensasie plaas.  Wat is dit?  Die waterdamp word weer water wanneer dit rondom klein stofdeeltjies (tussen 0.00001 en 0.0001 cm wyd) saampak.  Dis klein.

 

Maar wat van die sout?  Sout?  Ja, die Middellandse See is sout.  Dit sal die gewasse doodmaak.  Wat van die sout?  Wel, die sout moet uitgehaal word.  O, so die lug tel miljoene kilogram water uit die see op, neem die sout daaruit, dra die waterdamp (of wat dit ookal is as dit nie water is nie) 483 km ver, en gooi dit dan (nou weer water) oor die plaas neer?

 

Dit gooi dit nie eintlik neer nie.  As miljoene kg water oor ’n plaas neergegooi word, sal dit die graan verbrysel.  Die lug laat die miljoene kilogram water in klein druppeltjies neerdrup.  Wat meer is: die druppels moet groot genoeg wees om vir ongeveer 1.6 km te val sonder om te verdamp, en klein genoeg dat dit nie die graan beskadig nie.

 

Hoe word al hierdie mikroskopiese spikkels water wat miljoene kilogram weeg, swaar genoeg om te val (as dit is hoe die vraag gevra behoort te word)?  Wel, dit word samesmelting genoem.  Wat is dít?  Dit beteken dat partikels water teen mekaar begin stamp, saamsmelt en groter word.  As hulle dan groot genoeg is, val hulle.  Sommer net so?  Wel, nie heeltemal nie, want as daar nie ’n elektriese veld teenwoordig is nie, sal hulle van mekaar afbons, in plaas daarvan dat hulle saamsmelt.  Wat?  Toemaar, aanvaar maar net my woord daarvoor.

 

Ek sal Job se woord daarvoor aanvaar.  Ek kan steeds nie verstaan waarom druppels ooit by die grond uitkom nie. As hulle begin val sodra hulle swaarder is as lug, sou hulle te klein wees om nié te verdamp op pad ondertoe nie.  Maar as hulle wag voor hulle afkom, wat hou hulle daarbo totdat hulle groot genoeg is om nie te verdamp nie?  Ja, ek is seker daar is ’n naam dáárvoor ook.  Ek is egter vir eers tevrede dat dit – ongeag die naam daarvoor – ’n groot en ondeurgrondelike daad is wat God gedoen het.  Ek dink ek behoort dankbaar te wees – baie dankbaarder as wat ek is!

 John Piper

(uit Taste and See, pp.24-26)

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in God. Bookmark the permalink.