Hulp vir enkel gelowiges

Single man

Geniet die voordele van enkelskap solank jy dit het.  Moenie dink jy mis uit op die goeie lewe, of dink jy is ongetroud omdat daar iets fout is met jou nie (‘Ek is te kort, te lank, te dom, te vet, te maer, te weird, te oud, te…’).  Volgens die Bybel is jy enkel omdat Gód dit so besluit het (1 Kor.7:7).

 

Moenie jouself bejammer, depressief en hopeloos raak, bitter wees teen die Here, ’n fantasie wêreld skep deur films, sitcoms en boeke, of wag vir ’n prins op sy wit perd wat al jou probleme sal oplos nie.  Moenie jou enkelskap as ’n straf sien nie, maar as die gawe van ’n goeie en wyse God wat jou wil bevoordeel, sodat jy Hom beter kan dien (1 Kor.7:7, 32-35).  Moet dan nie rondsit en wag vir “die regte een” nie.  Raak betrokke in die kerk, dien, bou goeie vriendskappe, en groei geestelik.

 

Dink aan die voordele van enkelskap.  Jy hoef nie oor jou huweliksmaat en kinders te bekommer as jy ’n sendeling in Sirië wil word, vervolging Suid-Afrika tref, of ons soos Zimbabwe word nie (1 Kor.7:26).  Jy sit nie met die uitdagings van die getroude lewe nie:  skoonfamilie, konflik, die verdeling van jou tyd, huis, kos, bed, geld, lewe (1 Kor.7:28).

 

Jy sal nie so maklik versoek word om vir Jesus te sê:  ‘Ek het ’n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.’ (Lk.14:20).  Jy kan uitsluitlik op die Here fokus en hoef nie jou aandag tussen Jesus en jou maat te verdeel nie (1 Kor.7:32-35).  Jy hoef nie twee keer te dink voor jy lang ure in gebed deurbring, ’n halwe dag aan straat-evangelisasie bestee, of ’n groot deel van jou salaris vir sending gee nie.  Jy hoef nie op ’n Woensdagaand Bybelstudie te mis omdat jy klein kinders het wat vroeg in die bed moet wees, omdat hulle die volgende dag skool het nie.

 

As jy enkel is en graag wíl trou, doen jy nie sonde nie (1 Kor.8-9, 27-28).  Ek het egter vir jou ’n paar wenke:

 

[1] Moenie jou idees oor die huwelik in tydskrifte soek nie;kry dit in die Skrif.

 

[2] Soek en lees my preek, Opsoek na die regte huweliksmaat (www.baptistekerkkemptonpark.wordpress.com).

 

[3] Moenie met romanse speel nie.  Moenie dink jy kan jou hormone beheer en stop voor jy seks het nie.  Los sulke dinge vir die huwelik.  Werk eerder aan ’n goeie vriendskap.

 

[4] Moenie te lank wag om te trou as jy die regte lewensmaat ontmoet het nie.

 

[5] Dink reg oor ‘internet dating’.  Dis nie dat ‘internet dating’ noodwendig verkeerd is nie, maar daar is ’n paar waarskuwings.

 

  • Mense kan vir jou jok en die beste voet voorsit.
  • Die vrou kan ook op die internet rondsnoep om ’n maat te soek. So word sy die jagter en neem sy die manlike rol oor.
  • Jy kan selfgefokus raak en kyk wat jy wil , eerder as om die regte maat te wees.
  • Niemand kan sien hoe die verhouding ontwikkel nie. Baie dikwels is ’n geheime verhouding ’n gevaarlike verhouding (Spr.18:1).
  • Jy kan maklik twee, drie of meer persone gelyk ‘date’.
  • Die fokus is verkeerd om: romanse voor vriendskap.
  • Iemand kan ’n ongeredde kerkmens wees, en tog ‘Christen’ intik op sy status.

 

[7] Verliefdheid is ’n emosie.  Liefde word gesien in praktiese dade waarin jy opoffer en ander bo jouself stel (1 Joh.3:16-18).  Moenie die twee verwar nie.

 

[8] Moenie hoër standaarde as God stel, sodat jy weier om te trou as iemand nie aan jóú standaarde voldoen nie (hy moet lank wees … sy moet van sport hou).  Aan die ander kant moet jy nie die duidelike standaarde van die Bybel prysgee of kompromitteer nie.

 

[9] Moenie met ’n ongelowige trou nie (1 Kor.7:39).

 

[10] Moenie met iemand slaap, omdat jy dink jou biologiese klok loop uit en dat jy graag ’n kind wil hê nie.  God kan vir jou ’n kind gee as jy 90 of 100 is (Gen.17:7, 21:2, 5, vgl. Lukas 1:36-37).

 

Hoekom moet jy die voordele van enkelskap geniet?  Want as jy eers getrou het, kan jy nie sommer uit die huwelik nie.

Ivor Jefferies

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Enkelskap, Huwelik. Bookmark the permalink.