Johannes Calvyn: Sy bekering en beroep

DEEL 2

John Calvin

Gedurende die hele tydperk van sy opvoeding was Calvyn, so het hy later self erken, ‘vasgeheg (was) aan die pousdom’.  Die kollege studente moes weekliks hulle sondes bely.  Onbelyde sondes sou deur mede-studente verklap word, en Calvyn was so goed hiermee dat hy die bynaam:  ‘die akkusatief’ gekry het.  Hy het gedurende dié tydperk in kontak gekom met die leer van die Hervorming wat Luther gepropageer het.

 

Calvyn het uiteindelik op 17-jarige leeftyd sy graad gekry.  Sy pa het hom uit die bloute belet om verder te studeer in die teologie.  Hy wou hê sy seun moes verder studeer in die regte, want dit was ’n loopbaan wat vir hom rykdom sou bring.  Calvyn is dus na Orleans waar hy weereens akademies suksesvol was.  Trouens, hy het so goed gevaar dat hy soms toegelaat is om lesings aan studente te gee.  Dit is egter waarskynlik in die stad Bourges waar die tweede belangrike fase van sy lewe begin het: hy het hier tot bekering gekom.

 

Min is bekend oor presies wanneer Calvyn tot bekering gekom het.  Ons weet dit was tussen die ouderdom van 20 en 25 jaar (1529-1534).  Hy skryf in sy Kommentaar oor die Psalms:

 

‘My pa het my onttrek van my studies in filisofie en my ingeskryf vir studies in die regte.  Ek het myself, in gehoorsaamheid aan my pa, gewy aan hierdie studies.  God het my lewe egter, deur die onsigbare leiding van Sy voorsienigheid, in ’n ander rigting gestuur.  Aangesien ek ook ewe koppig die slaaf was van die bygeloof van pousgesindheid … het God my verstand deur ’n skielike bekering onderwerp en my leerbaar gemaak.’

 

Calvyn het nie dadelik sy regstudies gestaak nie, maar het heelwat minder tyd en ywer daaraan gewy.  Na verloop van byna ’n jaar het Calvyn met verbasing besef dat baie mense wat na die suiwer leer gehunker het, na hóm toe gekom het om daarvan te leer.  Die Here het, ten spyte van die feit dat Calvyn homself teruggetrek het, dinge só bewerk dat die mense al hoe meer van hom gehoor het.

 

Op pad na Strassburg, tydens ’n oorlog, moes Calvyn deur Genève reis.  Sy bekendheid het hom egter vooruitgegaan.  Iemand het hom herken en vir William Farel, die Hervormings-leier, gesê:  ‘Johannes Calvyn, die skrywer van Die Institusies is in Genève!’

 

Calvyn was van plan om verder te reis na Strassburg, want hy was op soek na ’n stil plek waar hy verder kon studeer.  Toe Calvyn weier om aan Farel se versoek dat hy in Genève  moes bly, gehoor te gee,  het hy vir Calvyn gesê dat die Here sy rus sou vervloek as hy nie in Genève wou bly nie.  Calvyn se reaksie was:

 

‘Hierdie vervloeking het my vreesbevange gemaak, tot só ’n mate dat ek besluit het om my reisplanne te laat vaar.  Dit het vir my gevoel asof God sy magtige hand op my gelê het om my te verhinder.’

 

Daar was twee redes vir Farel se poging om Calvyn in Genève te hou:

 

[1] Die groot behoefte in Genève aan ondersteuning, en

[2] Hierdie jong man, Calvyn, was die skrywer van Die Institusies van die Christelike Geloof.

 

Calvyn was maar 26 toe die boek in Maart 1536 uitgegee is.  Hy het die werk geskryf as ’n verdediging van die geloof van die Hervormde Christene.  Dit het egter later ontwikkel in studies van Christelike leerstellings.  Sy doel was ‘om die kandidate in teologie voor te berei vir die lees van die Heilige Woord van God, sodat hulle instaat sou wees om maklik toegang daartoe te hê, én sodat hulle daarin kon groei sonder om te struikel.’

 

Calvyn het nooit die rus en vrede waarna hy gesoek het, gevind nie.  Hy het oor die jare Die Institusies gereeld hersien om dit te vervolmaak.  Verder was sy lewe een van opskudding en arbeid; trouens, hy was nie lank in Genève nie, toe moes hy na Strassburg terugkeer– ’n hartseer man.

(word vervolg)

Rex Jefferies

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie. Bookmark the permalink.