Lesse uit die verlede

So het God ons Skredes Gelei

By vanjaar se Cornelia Paaskamp het twee mans J.D. Odendaal I (die stigter van die ABK) se graf ontdek.  Ná ek sy graf gesien het, het ek besluit om oor die ABK se geskiedenis op te lees.  Een van Odendaal se nasate, dr. Kobie (J.D.) Odendaal, het dié geskiedenis in ’n boek opgeteken:  So het God ons Skredes Gelei.[1]  Die boek handel oor die ABK se geskiedenis van 1886 tot 1978.  Na my mening het dr. Odendaal goeie navorsing gedoen en die geskiedenis redelik objektief geïnterpreteer.  Daar is ’n klompie lesse wat ek uit sy boek geleer het.

 

Kerklike tug

Die eerste Cornelia gemeentes was getrou in hulle toepassing van kerklike tug.  Die gemeente was nie bevooroordeeld nie, en het selfs lede van Odendaal se familie en sy mede-leraar onder tug geplaas.  Na die bediening van Cornelia se derde leraar, J.D. Odendaal II (oom Kooitjie), het die toepassing van kerklike tug begin verdwyn.  Min gemeentes gehoorsaam nog dié Bybelse opdrag.  Vandag bestempel mense dit as liefdeloos – ten spyte van wat Jesus gesê het:  ‘Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek.’ (Openb.3:19).

 

Evangelisasie, kerkplanting en Sondagskole

Die ou Baptiste was Evangeliste.  Hulle was ywerig in hulle evangelisering van wit, swart, en bruin mense; enigiemand.  Die Cornelia gemeente het op ’n tyd 550 lidmate gehad, waarvan die helfte swart was.  Baie ander ABK-gemeentes het ledetalle van 200, 300 of meer gehad:  Aucklandpark, Kemptonpark, Rietfontein, Parow, Primrose, Nelspruit om maar net ’n paar te noem.  Selfs kleiner gemeentes soos Evander het 101 lidmate gehad.

 

Die ou Baptiste se evangelisasiepogings het goeie vrug afgewerp. In later jare is evangelisasie egter met die onbybelse ‘altar call’-sisteem besmet.[2]  Hoewel party waarlik tot bekering gekom het, was daar hope vals bekerings.  Baie mense het van redding getuig, maar nie die vrug van bekering gedra nie.  Hordes mense is gedoop en is as lidmate van gemeentes opgeneem.  In sommige gemeentes was daar baie name op die lederol, maar min mense in die bank.  In ander gevalle was dié mense getroue kerk mense, maar hulle ongelowige optrede het probleme en verdeeldheid in gemeentes veroorsaak.

 

Ten spyte van hulle verkeerde metodes, het hierdie evangeliste egter die regte hart gehad.  Baie wat die regte metodes volg, het nie die hart wat hierdie ou manne gehad het nie.  Hulle moet hulle koppe in skaamte laat sak.

 

Die eerste gemeentes was maar kort op die been, voordat preekpunte in die omgewing uitgesoek is.  So het daar baie nuwe gemeentes ontstaan.  Soos Paulus, sou predikers ’n gemeente plant, vir ’n paar maande of ’n jaar daar preek, en dan verder beweeg sodra die gemeente iemand kon beroep.  Dit was ’n baie goeie strategie.

 

Ongelukkig het jonger predikante wat nié kerke geplant het nie, ook dié voorbeeld gevolg.  Hulle het ’n jaar of twee of drie by ’n gemeente gebly, en dan aanbeweeg.  Dominees en lidmate het mekaar skaars leer ken, of die leraar het vertrek na ’n ander gemeente.  Min gemeentes het onder ’n langtermyn, lerende bediening gesit.

 

Cornelia het 180 kinders in die Sondagskool gehad.  Primrose het op ’n tyd oor die 200 gehad.  Sondagskole van meer as 60 kinders was algemeen.  Die ou Baptiste het ’n hart gehad om kinders vir Jesus te bereik.

 

Komitees

In die begin was die komitees ’n blink idee.  Die werk het gevorder.  Evangeliewerk is effektief gedoen.  Later het die komitees egter wit olifante geword.  Die fokus het verskuif.  Talent- en sangkompetisies het evangelisasie en Woordprediking vervang.  Uiteindelik het die komitees doodgeloop.  Dit is jammer, want toe dit reg benader was, het dit die werk van die Evangelie goed gekomplementeer.

 

Charismatiese invloede

Die charismatiese beweging in het die 1960’s onstaan.  Byna geen denominasie is nié daardeur geraak nie.  Deur dié invloed het ook die ABK het sy deel aan probleme gehad.  Talle ABK-studente en -leraars het gesê dat hulle die doping met die Gees ontvang het, en in tale gepraat het.  Gevolglik het hulle die ABK bedank om in charismatiese kerke betrokke te raak.  Sommige het nié bedank nie, maar gemeentes geswaai en met òf die mense, òf die geboue, of beide weggestap.

 

’n Hoë uitvalsyfer

Dit is verstommend om te sien hoe baie studente en leraars die bediening verlaat het.  In die boek sal jy lees van leraars en studente van wie jy nog nooit gehoor het nie.  Selfs ná 1978 het dit ’n tendens gebly.  Dit is so dat baie van die mense oorlede is, maar dit is ook waar dat baie eenvoudig van die aardbol af verdwyn het.  Dit blyk dat baie manne van die begin af nie vir die bediening van die Evangelie geroep was nie.  Dit blyk ook dat leraars, gemeentes, die Seminarium en die ABK nie sorgvuldig genoeg was in hulle keuring van studente en leraars nie.

 

’n Fout in die geskiedenis                                                                                    

J.D. Odendaal I was nie die eerste gelowig-gedoopte Afrikaner in die land nie.  ‘Wat!?  Maar dit staan dan so op sy grafsteen!’  Ek weet, maar dis ’n fout.   Dr. Odendaal skryf hieroor:

 

‘Dit was vir ’n lang tyd algemeen deur Baptiste aanvaar dat Odendaal die eerste Afrikaanssprekende was wat in Suid-Afrika gedoop is … Dit was egter nie die geval nie.  Volgens die Kerkraadsnotule van die Riversdalse NG Kerk is ene Frederik Charles Purchase van daardie gemeente reeds voor 25 Sept. 1866 deur ene Groenewoud gedoop… Odendaal het later enige verwantskap met ’n J.D. Mellet, wat homself as ’n Baptisteleraar uitgegee het, en met Groenewoud en sy gemeente van ‘Wederdopers,’ wat van Wellington die ‘Stad van God’ wou maak, ontken.’[3]  Dit is wel so dat Odendaal Hugo Gutsche se eerste doopskandidaat was.[4]

 

Vyf reuse plus een

Die manne wat regtig ’n impak gehad het, manne van wie jy oor en oor sal lees is:  J.D. Odendaal I, J.D. Odendaal II, D.J. Raubenheimer, P.J. Raubenheimer, en W.J. Venter.  Hulle was heilige manne.  Soos Apollos was hulle magtig in die Woord.  Hulle was vurige Evangeliste en kerkplanters.

 

Een man word natuurlik nie in die boek erken nie:  die outeur, dr. J.D. Odendaal.  Volgens dié wat hom geken het, staan hy nie terug vir enige van die ander vyf nie.  Mag die Here weer manne opwek wat hulle skoene kan volstaan.

 

Die volgende hoofstuk

Dr. Odendaal is in 1979 oorlede.  ’n Rapsie meer as 35 jaar van die ABK se geskiedenis is nie amptelik op rekord nie.  Wie sal die geskiedenis opdateer?  Wie sal die volgende hoofstuk skryf?

Ivor Jefferies

[1] Eksemplare van die boek is verkrygbaar by die ABK Kantoor.  Kontak (011) 394 223 of abk@mweb.co.za

[2] Hierdie inligting is nie in die boek nie.  ‘n Afgetrede ABK leraar het dit by ‘n vergadering vertel, en so my interpretasie van die boek gekleur.

[3]So het God ons Skredes Gelei, pp.310-311, n.11.  Odendaal verskaf bronne om sy punt te bewys.

[4] Ibid, pp.15, 311, n.11

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Boekresensies. Bookmark the permalink.