Martin Holdt: Die mens en voorbidder

Praying hands

“En hulle sê vir mekaar:

Was ons hart nie brandende

in ons toe Hy met ons

op die pad gepraat en vir ons

die Skrifte uitgelê het nie?”

 (Lukas 24:32)

 

 

Ons het Martin Holdt in 1993 by die Jaarlikse Paaskonferensie op Cornelia ontmoet.  Hy was die hoofspreker by die konferensie.  My eerste indruk van die Paaskamp op Cornelia was dat dit die plek is waarheen ’n mens moet kom as hy honger is na voeding: geestelik, maar ook fisies…

 

Dit was gou vir my duidelik dat Martin werklik lief was vir die ABK.  Sy vyf boodskappe was iets om te onthou.  Selfs ons kinders het dit geniet.

 

Ek onthou die informele sessie van die manne met Martin in die eetsaal (die vroue het in die kerk agtergebly).  Dit was nie ’n lesing nie.  Martin het interaksie aangemoedig deur te vra vir vrae of opmerkings uit die gehoor.  Hy het met ons gepraat oor Die Huwelik.  Ek onthou nog sy woorde: ‘Komaan, manne, om die hele Saterdag op die gholfbaan deur te bring, is nie die Bybelse manier om jou vrou lief te hê nie!’

 

Die vers waaroor Martin met ons gepraat het, was 1 Petrus 3:7:  ‘Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is — sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.’  Die laaste gedeelte, ‘sodat julle gebede nie verhinder mag word nie,’ was en is steeds treffend.  Het ek nie alreeds gesien hoe my verhouding met my vrou my verhouding met my Here negtief (en positief) beïnvloed nie – afhangende van hoe ek haar behandel!  ‘Estrangement from others often affects our relationship with God.’ (R.C. Sproul, ESV Reformation Study Bible, p.1814).  Ek het die sessie uiters waardevol gevind.

 

Ek sou Martin weer ’n jaar later sien.  Ds. Johann Odendaal het hom Louis Trichardt toe genooi om in Mei 1994 ’n reeks van vyf preke te lewer.  Een van die preke het ’n kykie in die prediker se hart toegelaat.  Dit was gebaseer op Luk.24:13-35: Die Emmausgangers.  Die opgestane Here bring ’n paar uur deur met twee mistroostige dissipels.  Verstommend!  Wanneer Christus dan voor hulle oë verdwyn (vers 32), is hulle vervul met vuur en ywer; veranderde mense:  ‘En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?’  Martin het daardie aand bely dat hy self vir vyf lange jare (1981-1986) aan depressie gely het.

 

Twee dinge het uit sy depressie gevloei:

 

[1] Martin het gesien dat God hom deur ‘die vallei van doodskaduwee’ gedra het.

 

[2] Ten spyte van al sy pastorale verpligtinge het hy ook geleer dat die Skrif noodsaaklik is in die hantering van depressie – met Lukas 24 as uitgangspunt.

 

Dit is God ‘wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.’ (2 Kor.1:4).  Martin het Lukas 24 dikwels gebruik om juis dít te doen.

 

Gedurende die paar dae wat Martin Louis Trichardt bedien het, het hy by ons tuisgegaan.  Dit was my eerste ondervinding met die man in die bres.  By hom was die Engelse spreekwoord waar: early to bed, early to rise.  Hy het homself saans lank voor nege verskoon en kamer toe gegaan.  Vroeg-oggend, was hy reeds op en teen die tyd wat ek opgestaan het vir my stiltetyd, kon sy stem gehoor word waar hy by God gepleit het vir sy mense.

 

Toe Martin as Rektor van die Seminarium beroep is, het hy ons gekontak.  Sy versoek was duidelik: Sal jy en jou vrou dit asseblief oorweeg om my te kom help met die administrasie van die Seminarium?  God se leiding was duidelik, en op 4 Februarie 2008 het ons saam met Martin Holdt by Die Teologiese Seminarium van die Baptiste in Kemptonpark begin werk.

 

Die eerste gebedsessie met die Sem studente is gehou op die eerste Vrydag van Martin se eerste Semester as Rektor van die Seminarium.  Al die studente was betrokke en Martin het ook al die predikante van die ABK genooi om te deel in die tyd van gebed.  Hierdie gebedstyd is geskeduleer vir elke Vrydag van die akademiese jaar.

 

Martin was altyd gereed om in die bres te tree.  Elkeen by die Seminarium het geweet dat daar vir hulle gebid word – op ’n daaglikse basis – by die naam.

 

Ek en my vrou het Martin by geleentheid in die hospitaal besoek.  Ons is soos gewoonlik verwelkom met ’n breë glimlag.  Martin was ywerig besig met evangelisasiewerk.  Hy het ’n paar kopieë van John Blanchard se boekie Ultimate Questions (vertalings in verskeie Afrika-tale) onder die lakens gebêre.  ‘Sodra ’n verpleegster kom om te doen wat sy moet doen,’ het hy vertel, ‘deel ek die Evangelie met haar en dan gee ek een van hierdie boekies vir haar!’  Hy het geen geleentheid laat verby gaan nie; altyd die goeie nuus van Jesus Christus gedeel!

Rex Jefferies

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie. Bookmark the permalink.