Die God van Elia

Rain

In sy boek Sit, Walk, Stand[1] vertel Watchman Nee[2] hoe hy en ’n klein groepie metgeselle deur God gebruik is om Satan se houvas op ’n eiland langs die Chinese Suidkus te breek.  ’n Sestienjarige assistent van Watchman Nee, Broer Wu, het die ‘hoofrol’ in die drama vertolk.  Die titel van hierdie verhaal is:  ‘Die God van Elia.’

 

Op 9 Januarie het Broer Wu, ’n jong bekeerling, en ’n paar ander sendelinge met ’n groep toehoorders gesels in een deel van die hoofdorp.  Op een stadium het Broer Wu vir hulle gevra:  ‘Hoekom wil nie een van julle glo nie?’  Hulle antwoord was onmiddellik:  ‘Ons het ’n god; een god en hy het ons nog nooit in die steek gelaat nie.  Ta-wang is ’n effektiewe god.’  ‘Hoe weet julle dat julle hom kan vertrou?’ het Wu gevra.  Hy het uitgevind dat daar elke jaar vir die afgelope 286 jaar, ’n dag in Januarie voorspel is waarop dié god deur sy volgelinge geëer is.  Elke jaar was die aangewese dag perfek:  sonder reën of selfs ’n wolkie.

 

Toe vra Wu:  ‘Wanneer is die prosessie vanjaar?’  ‘Dit is vasgestel op die 11de Januarie om 08h00,’ was hulle antwoord.  ‘Dan,’ het Wu ewe voortvarend gesê, ‘verseker ek julle dat dit sekerlik vanjaar op die 11de Januarie sal reën.’  ‘Genoeg – niks geprekery meer nie!  As dit op die 11de reën, is julle God God!’ het die toehoorders geskree.

 

Op daardie tydstip was Watchman Nee in ’n ander deel van die dorpie.  Toe hy dus hoor wat gebeur het, het hy geweet die saak was ernstig.  Die nuus het natuurlik soos ’n veldbrand deur die dorp versprei en kort voor lank het meer as 20,000 mense geweet wat gebeur het.

 

Watchman Nee se volgende vraag was:  ‘Wat staan ons te doen?’  Die antwoord was natuurlik vir hom duidelik.  Hulle het onmiddellik opghou met preek en begin bid.  Hulle het God gevra om hulle te vergewe as hulle oortree het.  Hulle was doodernstig.

 

Watchman Nee het baie vrae gehad:  ‘Wat het ons gedoen?  Het ons ’n ernstige fout gemaak, of durf ons God vra vir ’n wonderwerk?’  Nee het gesê dat ’n mens dit kon bekostig om in ’n geskil met God betrokke te raak as jou geloof in ooreenstemming was, andersins nie.  Hulle het geweet dat dit ’n einde van die Evangelie-getuienis op die eiland sou beteken as God nie hulle gebede sou hoor en beantwoord nie – en Ta-wang sou dan vir altyd oppermagtig heers.

 

Die manne se ernstige, opregte gebed was:  ‘Wat moet ons doen?  Moet ons nóú weggaan?’  Tot op daardie stadium was hulle bang om te bid vir reën.  Maar toe het die woord Nee soos ’n weerligstraal getref:  ‘Waar is die God van Elia?’  Dit het met soveel duidelikheid en krag gekom, dat hy gewéét het dit kom van God af.  Hy het met vertroue aangekondig:  ‘Die Here sal reën gee op die 11de!’

 

Die sewe mans het God saam gedank en vol lof uitgegaan – en dit aan almal vertel.  Daardie aand het die bossiedokter hulle verseker dat die vissermanne van daardie dorpies uit lange ervaring twee tot drie dae vooruit behoort te weet wanneer dit nie sal reën nie.  Dit het die sewe mans ontstel.

 

Tydens hulle aandgebed het hulle almal gebid dat dit moes reën – nou!  God het hulle berispe:  ‘Waar is die God van Elia?’  Toe het hulle geweet dat hulle moes rus in die voltooide oorwinning van Christus.  Hulle het weereens hulle sondes bely.  ‘Here, ons het nie reën nodig tot die oggend van die 11de nie,’ het hulle gesê en toe gaan slaap.

 

Die 10de Januarie is hulle na die naburige eiland toe vir ’n dag se prediking.  God was genadig en drie gesinne het hulle na Christus gewend, Hom openlik bely as Here en hulle afgode verbrand.  Die manne is moeg, maar verheug bed toe.

 

Warm sonstrale het Nee die volgende oggend wakker gemaak…  Dít was nie reën nie, en dit was reeds ná 07h00!  Hy het neergekniel en gebid:  ‘Asseblief, Here, gee vir ons reën!’  Die woorde:  ‘Waar is die God van Elia?’ het weereens in sy ore weerklink.  Hy het die trappe in nederige stilte voor God afgegaan.  Agt manne het aangesit vir ontbyt (hulle gasheer ingesluit) – almal doodstil.  Daar was nie ’n wolkie te sien nie, maar hulle het geweet God is betroubaar.

 

Toe hulle buig om die seën te vra voor ontbyt, het Nee gesê:  ‘Ek dink dit is tyd.  Dit moet nou reën.  Ons kan die Here daaraan herinner.’  En hulle het.  Die antwoord was sonder enige teregwysing:  ‘Waar is die God van Elia?’  Voordat hulle ‘Amen’ kon sê, het hulle die reën op die dakteëls hoor drup.  Dit was ’n stewige bui en hulle het God daarvoor gedank en gevra vir nóg harder reën.  Die reën in emmervol neergesak.  Teen die tyd dat hulle hul ontbyt klaargemaak het, was die straat reeds vol water – die drie trappe by die huis se deur was onder water.

 

Reeds toe die eerste reëndruppel geval het, het van die jongmense op die eiland begin sê:  ‘Daar is God!  Daar is geen Ta-wang meer nie!  Die reën hou hom weg.’  Ta-wang is op ’n stoel uitgedra – om die reën te stop!  Toe begin dit nóg harder reën.  Drie van die draers het gestruikel en tien tot twaalf treë verder geval.  Die stoel, en Ta-wang saam daarmee, het geval.  Die afgod se kaak en linkerarm het afgebreek.

 

Die manne was egter vasbeslote, en het Ta-wang op een of ander manier gly-gly halfpad deur die dorp gesleep, maar toe het die vloed die oorhand gekry.  Van die oudstes van die dorp, tussen 60 en 80 jaar oud, het geval en was in ernstige moeilikheid.  Die prosessie is gestop en die afgod is in ’n huis ingeneem.

 

Daar is weer ’n voorspelling gemaak:  ‘Vandag was die verkeerde dag.  Die fees moet op die 14de gehou word, met die prosessie om 18h00.’  Watchman Nee en die manne by hom was onmiddellik seker dat God reën sou gee op die 14de.  Hulle het gaan bid en God gevra vir reën om 18h00 op die 14de Januarie.  Hulle het ook gevra vir vier sonnige dae tot dan.

 

Daardie middag, nadat hulle gebid het, het die lug oopgetrek.  Die manne het nou ’n goeie geleentheid gehad om die Evangelie te bring.  Die Here het gedurende die drie dae tussen die 11de en die 14de meer as dertig mense in die dorp en op die eiland gered.

 

Die 14de Januarie was weereens ’n pragtige dag.  Hulle het goeie byeenkomste gehad.  Teen die aand het die manne weer bymekaargekom.  Teen die vasgestelde uur het hulle die saak voor God gebring.  Sy antwoord was onmiddellik met strome reën en vloede soos voorheen.  Die God van Elia het Satan se mag in die afgod vir ewig gebreek!  Ta-wang was nie meer ’n effektiewe god nie.  Die verlossing van siele sou volg – dít alles omdat manne gebid, en God geglo het.

vertaal deur Esta Jefferies

 

[1] Lees gerus ook die Skrifgedeelte oor Elia en die Baäl profete in 1 Konings 18-19.

[2] Nie alles wat Watchman Nee skryf is Bybels-behoudend nie.

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie, Gebed. Bookmark the permalink.