Johannes Calvyn: Geneve en Strassbourg

DEEL 3

Calvin in Geneve

Calvyn het van 1536 af in Genève gewoon.  Hier het hy deel gehad in Farel se bediening.  Hulle doel was die hervorming van die kerk – om dit in lyn te bring met die Woord van God.  Reeds in 1536 is ’n Geloofsbelydenis neergelê en alle lidmate van die kerk moes dit onderskryf.  Die stadsraad het die Belydenis aanvaar, maar hulle het min gedoen om dit in werking te stel.  Die krisis het ontstaan toe die predikante diegene wat nié die Belydenis onderskryf het nie, geweier het om deel te hê aan die Nagmaal.  Daar was oproer in die straat buite Calvyn se huis.  Skote is gevuur en beledigings is oral uitgeskree.

 

Op Paassondag 1538 is daar wel gepreek, maar geen Nagmaal is bedien nie.  Calvyn en Farel is drie dae gegee om die stad te verlaat.  Die twee vriende het uitmekaar gegaan.  Calvyn het Strassburg toe vertrek.  Later het Calvyn geskryf:  ‘Alhoewel Genève vir my ’n baie moeilike provinsie was, het die gedagte nooit by my opgekom dat ek dit sou moes verlaat nie.  Ek was van mening dat die Here my daar geplaas het; soos ’n wag op sy pos… Tóg kan ek waarlik getuig dat daar skaars ’n dag verby gegaan het, waarin ek nie verlang het om tien dode te sterf nie.  Die gedagte om die kerk te verlaat en elders heen te gaan, het nooit by my opgekom nie!’ (vry vertaal).  Is dit nie die woorde van ’n toegewyde herder wat sy lewe sou neerlê vir die kudde nie?

 

Bediening in Strassburg

In ’n sekere sin is die volgende tydperk in Calvyn se lewe een van die gelukkigste wat hy ooit geken het.

 

  • Sy gemeente het tot 500 lidmate gegroei en groot denkers van die Reformasie, soos Martin Bucer, het onder sy vriende getel.
  • Hy het ’n belangrike nasionale figuur geword.
  • Hy het sy groot kommentaar oor die boek Romeine in Strassburg geskryf.
  • Hy is ook hier getroud.

 

Alhoewel Calvyn onseker was of hy wou trou, het sy vriende hom aangepor daartoe.  Hy het toe in ’n brief aan Farel geskryf wát hy in ’n vrou gesoek het.  ‘Die enigste skoonheid wat my trek, is dít:  sy moet rein wees, nie te vol fiemies nie, huislik, geduldig, en iemand wat na my gesondheid sal omsien.’ (vry vertaal).  Calvyn was iemand wie se liggaam feitlik voltydse mediese sorg nodig gehad het.  Hy was ’n man wat ’n karige bestaan gevoer het, en hy was altyd besig met die dinge van die Here.  Enigeen wat die vrou van só ’n man kon wees, moes deugsaam wees.

 

Calvyn se vriende het begin help om vir hom ’n vrou te soek.  Hy het uiteindelik self besluit om met Idelette de Bure, die weduwee van ’n voormalige Anabaptis, te trou.  Die egpaar het slegs een baba gehad, ’n premature baba wat vroeg dood is.  Calvyn het in sy droefheid aan ’n vriend die volgende geskryf:  ‘Die Here het my ’n bittere wond toegedien met die dood van ons pasgebore seuntjie wat so gou dood is.  Maar Hy is self ’n Vader wat weet wat goed is vir Sy kinders.’ (vry vertaal).  Hulle het nie weer ’n kind gehad nie, en Calvyn se vrou is in hulle negende huweliksjaar oorlede.  Calvyn skryf:  ‘Tydens haar leeftyd was sy die getroue ondersteuner van my bediening.  Sy was nooit vir my tot hindernis nie.  In die tyd wat sy siek was, was sy nooit vir my tot moeite nie en sy was meer besorgd oor die kinders as oor haarself.’ (vry vertaal).

 

In 1540 is Calvyn weer na Genève genooi.  Hy bieg in een van sy briewe:  ‘Daar is geen plek onder die hemel wat ek meer vrees nie – ek sou eerder ’n honderdmaal sterf as om terug te keer na die plek waar ek daagliks ’n duisend dode moes sterf.’ (vry vertaal).  Dit is immers die Christen se pad om daagliks te sterf, om sy kruis op te neem en Christus te volg.  Geen ander skrywer as Calvyn  het duideliker gemaak wat selfverloëning behels nie (hoofstukke 6-8 van Boek III van die Institusies).  Hyself het gehoorsaamheid geleer deur wat hy gely het.

 

Bediening in Genève

In September 1541 het Calvyn weer in Genève gaan woon.  Hy het onmiddellik met groot vrug begin skryf.  Die jare is gevul met lesings gee, prediking en die skryf van kommentare (o.a. oor die Nuwe Testament), verhandelinge en verskeie uitgawes van Die Institusies van die Christelike Geloof.

 

Sy terugkeer was egter nie sonder strydpunte nie.  Hy het opposisie gehad van die Libertyne wat in 1552 byna sy outoriteit bygelê en daarin geslaag het dat hy ’n tweede keer uit Genève verban is.  Sy grootste bedreiging het egter gekom van sy teologiese teenstander, Servetus.  Die gereelde briewe tussen Calvyn en Servetus bevat elemente van hulle swak verhouding wat vererger het toe Servetus Genève, teen Calvyn se bevele in, besoek het.  Servetus het die Drie-Eenheid in die openbaar ontken en die kerk so in onguns gebring.  Servetus is skuldig bevind aan dwaalleer en is tereggestel.[1]

 

Teen 1553 is Calvyn geprys vir sy werk in die vereniging van Genève en die beveiliging van die toekoms van die Reformasie.  Die kerk het aan vlugtelinge uit Engeland skuiling gebied.  Onder hulle was die Skotse Hervormer, John Knox.  Calvyn het verder meer as 100 Gereformeerde sendelinge Frankryk toe gestuur.  Hy het gereeld met beide politieke leiers en tweedegeslag Hervormers dwarsoor Europa gekorrespondeer.  Verder het Calvyn ’n skool in Genève begin waarvan Theodore Beza die eerste rektor was.  Calvyn se invloed het spoedig buite die grense van Genève gesprei.

 

Calvyn het vroeg in 1564 siek geword.  Dit het hom daartoe gedring om weer die Institusies van die Christelike Geloof te hersien en uit te brei.  Die nuwe dokument is in 1559 uitgegee, en is onmiddellik herdruk en dwarsoor Europa vertaal.  Hy het op 6 Februarie 1564 sy laaste preek gelewer.  Sy gesondheid het gedurende die lente verswak en hy is op 27 Mei 1564 dood.  Duisende mense het gekom om sy liggaam te sien.  Dit het die Stadsraad van Genève gedwing om hom in ’n ongemerkte graf te begrawe.  Theodore Beza, Calvyn se vriend, kollega en opvolger het die volgende geskryf:  ‘It has pleased God to show us in the life of a single man of our time how to live and how to die.’[2]

 

Die enigste geestelike lied wat aan Calvyn toegeskryf word, eindig met die volgende koeplet:

 

Lord, give us peace, and make us calm and sure

That in thy strength we evermore endure.

Rex Jefferies

[1] Calvinisme het bewegings tot stand gebring wat deur die eeue heen twispunte geword het.  Daar is oorloë geveg, beide om dit te verdedig en om dit uit te roei.  Die feit dat Johannes Calvyn se werke wat vier eeue gelede die eerste keer verskyn het, steeds gepubliseer en versprei word, is die getuie van sy belangrikheid en waarde vir die kerk van vandag.  Christen denkers van die 21ste eeu wat Calvyn se werke ignoreer, doen dit tot hulle eie ondergang.

[2] THE LETTERS OF JOHN CALVIN, page 30, first published by The Banner of Truth Trust in 1980

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie. Bookmark the permalink.