Wat het Tamar, Ragab en Rut in gemeen?

Genealogy

[Ek besef dat hierdie ‘n baie lang artikel is.  Die skrywer het egter gevra dat dit nie verkort word, of oor twee uitgawes geplaas word nie – Red.].

Op die vraag wat Tamar, Ragab en Rut in gemeen het, sal die antwoord sekerlik spontaan wees:  vroue wat genoem word in die geslagsregister van Jesus Christus.  Gewoonlik is geslagsregisters iets wat ’n mens oorslaan, omdat die lys van name wat genoem word vir ons moderne lesers van die Bybel betekenisloos is.  Wat kan ’n mens enigsins baat by die aflees van ’n lys name?  Sommige mense geniet genealogiese navorsing en doen baie moeite daarmee.  Baie van ons ken waarskynlik tot ’n mate ons eie stamboom.  Maar ’n lys name van 2000 of meer jare terug in die Bybel, interesseer ons gewoonlik nie juis nie.

 

’n Verdere huiwering oor geslagsregisters kan natuurlik voortspruit uit Paulus se waarskuwing aan Timoteus in  1 Tim.1:3-4:  ‘Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied.  Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie.  Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee’.  Paulus gee ’n soorgelyke waarskuwing aan Titus in hfst.3:9:  ‘Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinloos.’  Die woord verdigsel kan met mites vertaal word, terwyl die OAV dit met fabels vertaal het.  Op grond van die verbintenis tussen geslagsregisters en verdigsels, koppel akademici dit aan allerhande Ou Testamentiese mites uit die apokriewe, wat dit aan uitgebreide geslagsregisters gekoppel het.

 

’n Ander faktor wat hier skynbaar ’n rol sou kon speel, is die feit dat gemeentes in daardie tyd uit bekeerlinge uit die heidendom en bekeerlinge uit die Jodedom bestaan het, en verder aanleiding kon gee tot twispunte, waarteen Paulus dan waarsku. Dit is sekerlik ’n waarskuwing wat ons altyd in gedagte moet hou.

 

Dit as sodanig hoef ons egter nie te verhinder om aandag te gee aan die geslagsregister in Matteus nie, aangesien hierdie geslagsregister nie gegee is as ’n twispunt nie, maar juis om aan te toon dat Jesus die vervulling van die Ou Testamentiese beloftes is.  Daarom gaan Matteus terug na Jesus as seun van Dawid, seun van Abraham. Uit hierdie evangelie is dit duidelik dat Matteus wil aandui hoedat God se woord in vervulling gegaan het, en lees ’n mens telkemale die refrein ‘en dit het gebeur…sodat vervul sou word’.  Hierdie evangelie bring die goeie nuus dat Jesus die beloofde Verlosser, die Messias is.  Skynbaar was sy lesers hoofsaaklik Joodse Christene.  Lukas, daarenteen, skryf aan Teofilus en toon aan dat Jesus gekom het as Verlosser van die ganse mensdom!  Daarom is dit opvallend dat Matteus se geslagsregister teruggaan tot by Abraham en Lukas tot by Adam.

 

My doel in hierdie werk is nie om ’n antwoord te probeer vind op die verskille in die twee geslagsregisters nie, maar om op die vroue wat in Matteus genoem word, te fokus en die redes daarvoor aan te toon.  Uiteraard word daar in Matteus, in teenstelling met Lukas wat glad nie na vroue verwys nie, na vyf vroue verwys – vier by die naam en ’n ander bekende vrou sonder om die naam te vermeld.  Hierdie vyf vroue is dan Tamar, Ragab, Ruth, Batseba (wie se naam nie vermeld word nie), die vrou van Uria die Hetiet, en Maria.  As ’n reël word daar nie na vroue verwys in ’n geslagsregister nie, en Lukas doen dit dan ook nie.  Matteus daarenteen verwys na die genoemde vyf vroue in sy samestelling van Jesus Christus se geslagsregister.  Ek wil aandag gee aan drie van hulle.

 

In georganiseerde gemeenskappe soos oud-Israel, het geslagsregisters ’n belangrike rol gespeel.  Dit het gedien as openbare rekords van ’n bepaalde geskiedenis en die opeenvolging van geslagte. Dit het gedien om identiteit te bepaal en veral om die geldigheid van sekere ampte te besvestig.  Geslagsregisters het ’n belangrike rol gespeel in sowel ou-Israel en die latere Israel (vgl. 1 Kron.1-9, Esra 8:2-14, Neh.7:7-63).  Dit was veral belangrik in die na-ballingskap periode.  Geslagsregisters was ook belangrik as die koningskap ter sprake gekom het, en dan spesifiek Dawid en sy nageslag wat dan uiteindelik ’n hoogtepunt bereik met die vervulling van die Messiasverwagting in die Nuwe Testament.

 

In die Nuwe Testamentiese era is geslagsregisters in ’n openbare argief op die tempelberg bewaar, terwyl daar ook in sommige families geslagsregisters bewaar is.  In die prediking ten tye van die Nuwe Testament, word hierdie geslagsregisters geherdefinieer.  Hierin word Jesus as die ware en wettige afstammeling van Abraham voorgehou.  Diegene wat hulle met Jesus identifiseer, word beskou as die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename (Gal.3:29).  So word Jesus as wettige nakomeling van Dawid en Abraham aangedui, en derhalwe die langverwagte Messias.  Let dan op hoe insiggewend Matteus se aanduiding is van wie die Christus is:  ‘Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word’ (Mt.1:16). Onthou, Jesus is nie ’n fisiese nakomeling van Josef nie, maar deur ’n passiewe vorm te gebruik wil Matteus aandui dat wat hier gebeur, uit God is.  Al word die maagdelike geboorte nie direk vermeld nie, word dit hier geïmpliseer in die lig van die wyse waarop Matteus die geboorte van Christus in die daaropvolgende verse 18-25 uiteensit.

 

In teenstelling met Matteus wat die genealogiese lyn na Jesus ‘afwaarts’ gebruik, (dit is van Abraham na Jesus), doen Lukas dit ‘opwaarts’ van Jesus na Adam.  Lukas verwys dan in Lk.3:23 soos volg na Jesus:  ‘Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud. Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef.’  Die belangrike boodskap hier is dat Jesus, die Seun van God, volkome mens geword het en – in die woorde van Johannes – onder ons kom woon het (Jh.1:14).

 

Tamar

In ’n artikel [THEKINGDOMNOW.ORG – Exposing false doctrines, myths and false hopes prevalent in mainstream ‘Judeo-Christianity’ today], doen ’n onbekende outeur onder die vaandel van The Covenant People/Permalink, baie moeite om aan te toon dat Ragab en Rut van Israelse afkoms was, want anders was Jesus van ’n onsuiwer ras wat volgens hom nie kan of mag wees nie.  Ek sal graag hierop ’n antwoord wil gee, al is ek van mening dat nie Matteus of Lukas gerig is op die suiwerheid van ’n bepaalde ‘ras’ nie.  Hulle wil eerder wys dat Jesus die Seun van God is, uit die Heilige Gees gebore, die verwagte Messias.  Ek is bewus daarvan dat die skrywer van die genoemde artikel nie op Tamar fokus nie (waarskynlik omdat die kwessie van afkoms nie hier duidelik ter sprake kom nie, hoewel sy waarskynlik ook van uitlanderherkoms was).  Ek raak egter tog hierdie saak aan om ander redes.

 

Matteus se verwysing na Juda en Tamar is belangrik, omdat God se plan met Juda uitgespel word in Jakob se seënuitspraak in Gn.49:8-9 (NAV) en 49:10 (OAV):

‘Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer;

jy sal jou vyande onderwerp

en jou broers sal voor jou buig.

Jy is ’n leeu my seun Juda,

wat van die prooi af wegstap.’

‘die septer sal van Juda nie wyk nie,

nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit

totdat Silo kom;

aan hom sal die volke gehoorsaam wees.’

 

Dit is in hierdie gedeelte waarin Juda ook beskryf word ‘as ’n jong leeu’, waarvan ons weer in Op.5:5 lees met verwysing na Jesus:  ‘Moenie huil nie.  Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.’  Matteus se geslagsregister van Jesus, en Openbaring se verwysing na die Leeu uit die stam van Juda, maak die verhaal oor Juda en Tamar des te belangriker.

 

Die verhaal van Juda en sy afstammelinge is aangeteken in Gn.38:1-30.  Hier is gebeure opgeteken wat eie is aan die menslike natuur, en tog vind ons hier die name van diegene wat in Jesus se geslagsregister genoem word.  Van Abraham na Isak na Jakob en nou Juda.  Die interessante is nou dat nie een van die aartsvaders se vroue se name in die geslagsregister van Jesus genoem word nie.  ’n Mens sou eintlik verwag dat die belangrike en gepaste name soos Sara, Rebekka, Ragel en Lea – die geheiligde viertal in die Joodse tradisie – genoem sou word.  En tog gebeur dit nie.  Waarom dan nie?  Dit kan toegeskryf word aan die feit dat vroue se name nie algemeen in geslagsregisters voorkom nie.  Lukas gebruik geen vrou se naam nie; Matteus ook nie, behalwe die reeds genoemde vyf.  Dit as sodanig maak dit noodsaaklik om Matteus se verwysing na die bepaalde vroue van naderby te beskou.

 

Wanneer die geskiedenis van Juda van naderby beskou word, kom ’n paar interessante gebeure na vore.  Die eerste is sy huwelik.  Nadat hy van sy broers weggetrek het, val sy oog op ’n Kanaänitiese meisie, die dogter van Sua.  Dit was liefde met die eerste oogopslag, en hy tree dan ook met haar in die huwelik.  Uit hierdie huwelik word Er, Onan en Sela gebore.  Juda (en dit is nou vir ons van belang) laat Er, sy seun, met Tamar trou.  Sonder enige nageslag egter, sterf Er. Gebruiklik vir daardie tyd was dit nou sy broer se verantwoordelikheid om Tamar as vrou te neem.  Dit sou later bekend staan as die  leviraatshuwelik.  Met Er se dood is sy weduwee, Tamar, kinderloos agtergelaat.  Nou was dit die jonger broer, Onan, se verantwoordelikheid om haar as vrou te neem en kinders by haar te verwek namens die gestorwe eggenoot, sodat daar ook vir haar ’n nageslag en derhalwe erfgename sou wees, en die gestorwe broer se naam sou voortleef.  Dit het alles te doen gehad met die versorging van die weduwee.

 

Terloops, hierdie leviraatshuwelik (wat later weer by Rut voorkom), is ook deur die Hettiete en Assiriërs beoefen.  Indien daar nie swaers was nie, of die wat daar was nie so ’n huwelik wou aangaan nie, het ander familielede ter sprake gekom (soos in die geval van Rut).

 

So gebeur dit dan dat Tamar, die weduwee van Er, aan Onan, Juda se tweede seun, as vrou gegee word met die doel om kinders vir sy broer wat gesterf het, te verwek.  Op hierdie wyse sou Er se nageslag hulle erfporsie kon bekom, en dit nogal ’n dubbele een aangesien Er die oudste was. Onan het dit besef en deur coitus interruptus (Gen.38:9) dra hy sorg dat daar nie ’n nageslag vir sy broer verwek word nie.  In die oë van die Here was dit verkeerd en het Onan gesterf.  Juda sien nie kans dat sy jongste seun dalk dieselfde  paadjie moet loop nie, en stuur Tamar terug na haar pa onder die voorwendsel dat as Sela oud genoeg is, hy die swaershuwelik met haar sou aangaan.  Eintlik impliseer die Bybel dit duidelik dat Juda nie van plan was om hierdie huwelik te laat plaasvind nie, want hy was bang Sela sou ook sterf (Gen.38:11).  Tamar het in elk geval snuf in die neus gehad dat Juda sy belofte aan haar nooit gestand sou doen nie.

 

Intussen sterf Bat-Sua, Juda se vrou.  Na die routyd vertrek Juda na die skaapskeerders in Timna waarvan Tamar te hore gekom het.  Sy vermom haar soos ’n prostituut en versluierd wag sy Juda in.  Onbewus van wie die ‘prostituut’ is, kry Juda haar langs die pad.  Die vlees kry die oorhand en hy vra in vers 16:  ‘Kom!  Ek wil met jou gemeenskap hê!’  Met die prysonderhandeling vra sy as pand (‘eraboon’) sy seëlring, ketting en kierie, totdat hy vir haar die ooreengekome boklam as prys sal stuur.  Op hierdie wyse raak sy swanger.

 

Toe Juda van Tamar se swangerskap hoor, eis hy dat sy summier verbrand moet word.  Tamar stuur onmiddellik die pand wat sy gehou het, en stel dit duidelik dat die man aan wie die pand (die ring, ketting en kierie) behoort, die man is by wie sy swanger geraak het.  Juda erken daarmee onmiddellik dat sý ‘reg’ opgetree het, eerder as hy.  Dit blyk dat sy ’n tweeling verwag, en so word Peres en Serag gebore.  Peres is die naam wat in Jesus se geslagsregister op Juda volg, en op Peres volg Gesron, en so gaan dit deur na Dawid en Salomo, en uiteindelik op die langverwagte Messias.

 

Waarom die sappige verhaal van Juda en Tamar?  Waarskynlik was Tamar van Fillistynse afkoms.  Hierdie name wys gewoon op die vrymagtige genade wat God openbaar teenoor die amptelike lyn van afstammelinge, en word ’n simbool van die feit dat die genade, soos geopenbaar in Jesus Christus, nog ryker is as wat ons kan dink.  Juda sien Tamar aan vir ’n prostituut, gaan by haar in en verwek vir Peres (almal name in die geslagsregister van Jesus).  Daardeur het die Verlosser deur die weg van menslike skuld en sonde hierdie wêreld betree, Hy wat dit ‘geen roof geag het om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis’ (Fil.2:6-8).  As God in Sy vrymag Tamar so kon begenadig, verskyn daar skielik hoop vir die ganse mensdom!

 

Daarna vind ons name soos Gesrom en Ram (Mt.1:3), wat vir ons net name is.  Ons weet niks van hulle vlekkelose of bevlekte reputasie nie, van hulle bekwaamhede of onbekwaamhede nie, van hulle suksesse of mislukkings nie.  Dis net name.  En tog het die Heilige Gees dit goedgedink dat Matteus hulle name sou insluit.  Vir God was hulle name belangrik genoeg om in Jesus se geslagsregister ingesluit te word.   Hulle name was nodig vir die uitwerking van God se heilsplan hier op aarde.  Onbekend hier, maar goed bekend by God, en dit is wat saak maak.  Tereg het Paulus opgemerk:  ‘as onbekendes, en tog is ons goed bekend’ (2 Kor.6:9).

 

Ragab

In die reeds vermelde artikel onder die opskrif Ruth and Rahab, maak die skrywer (na aanleiding van Mt.1:5 dat Salmon die vader was van Boas by Ragab) die volgende stelling:

 

‘It is often assumed that Rahab of this text is the Rahab of Joshua 2, who was a Canaanite, and helped two Israelite spies escape.  It is only an assumption.  Rahab was a common Hebrew name.  Moreover, it is an assumption that the Rahab of Joshua 2 was a racial Canaanite, simply because she lived in Jericho.  The Canaanites were not of a different race than the Israelites.  They were of a forbidden lineage.  Thus, even if Rahab was not an Israelite, her marriage to Salmon would not have been an interracial marriage’ (p.1).

 

Waarom die skrywer hier ’n ‘interracial marriage’ ter sprake bring, is vir my onduidelik, asook die ‘moontlikheid’ dat sy dalk tog nie ’n Israeliet kan wees nie.  Hy neem sy motivering uit Dt.7:1-3:  ‘As die HERE jou God jou in bring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy; en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie. Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie – jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter neem vir jou seun nie.’  Daarvolgens sou haar oorsprong haar in elk geval diskwalifiseer.

 

Die motivering vir hierdie opdrag laat die skrywer van hierdie artikel ooglopend weg, en dit lui soos volg:  ‘want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE ontvlam en Hy jou gou verdelg’ (vers 4).  Banvloek in ons moderne idioom is vir ons onverstaanbaar, maar in die lig van die agtergrond waarteen hierdie gebeure afspeel en die gevaar van geestelike afvalligheid, help dit ons om ten minste onsself in ’n mate na die leefwêreld van daardie mense te verplaas, al verstaan ons dit nie.  Dit is egter belangrik om die motivering vir hierdie opdrag in gedagte te hou.

 

Die gevaar van afvalligheid en vreemde gode was ’n wesenlike gevaar wat die geskiedenis dan ook bewys het, en uiteindelik tot ballingskap van die Noordryk (Israel) en die Suidryk (Juda) aanleiding gegee het.  Die wet verbied egter nie iemand uit een van daardie volkere om tot geloof in die God van Israel te kom nie.  Inteendeel, daarvan is daar heelwat voorbeelde (na aanleiding van Dt. 7:1-3 wonder ’n mens oor Uria in Mt.1:6, waarvan ons in 2 Sam. 11:24 as ‘Uria die Hetiet’ lees.  Uria se oënskynlike onkreukbare karakter staan sterk in kontras teenoor Dawid wat op sy beurt met Uria se vrou Batseba, ’n ongeoorloofde seksuele verhouding aangegaan het.  Dawid het uiteindelik toegesien dat Uria op die slagveld sterf en hy met Batseba kon trou, uit wie Salomo later gebore is.  Batseba en Salomo is deur Matteus opgeneem in die geslagsregister van Jesus.  God bereik sy doel, ongeag menslike gebrokenheid en sonde.  Ek bespreek egter doelbewus nie vir Batseba nie, aangesien daar niks spesifiek oor haar afkoms gesê word nie, behalwe die van Uria, om ons te herinner aan die grootheid van God se genade.

 

Die saak wat die outeur egter ter sprake bring, is die feit dat, omdat Ragab in Jerigo gewoon het, daar aanvaar word dat sy ’n Kanaäniet was.  Dit, volgens die skrywer, ‘is only an assumption’, want, sê hy, ‘Rahab was a common Hebrew name’.  Hiermee verloor die skrywer uit die oog dat Hebreeus deel is van ’n verskeidenheid  verwante Kanaänietiese dialekte, en dat Hebreeus nou verwant is aan Kanaänietiese literêre vorme.  Wat hy dan as eg Hebreeus beskou, is dus nie so eg is as wat hy reken nie.

 

Die skrywer stel dan sy konklusie in die vorm van ’n vraag:  ‘Are we to believe that the Rahab listed in the genealogy of Yehshua was a Canaanite, when the law spesifically forbade marriages between the children of Jacob/Israel and the Canaanites?’ (p.1).  Indien Ragab tog ’n Kaänaniet was, reken hy dat die profeet Sagaria volgens 14:21 verkeerd was:  ‘Ja, al die potte in Jerusalem en Juda sal aan die HERE van die leërskare heilig wees; en almal wat wil offer, sal kom en daarvan neem en daarin kook; en in dié dag sal daar geen Kaänaniet in die huis van die HERE van die leërskare meer wees nie.’  Derhalwe, volgens die skrywer, kon Ragab (as dit nou die Ragab van Jerigo is) geen Kanaäniet wees nie.

 

Op hierdie stadium is dit nodig om iets oor die Kanaäniete te sê, voordat daar aan Sag.14:21 aandag gegee gaan word.  Op die vraag wie die Kanaäniete is, kan daar basies drie antwoorde vanuit Bybelse, asook buite Bybelse gronde gegee word.  Die term word dikwels gebruik as ’n generiese verwysing na die inwoners van die hele Kanaän (Gn.10:18), insluitende Sirië asook die Jordaanvallei (Jos.5:1).  Die woord ‘Kanaäniete’ is later gebruik met verwysing na handelaars (Job 41:6, 40:25, Spr.31:24).

 

In die lig van hierdie gegewens is dit nie verrassend dat die NAV, asook die nuwe Direkte Vertaling waaraan daar tans gewerk word, Sag.14:21 met ‘handelaar’ in plaas van Kanaäniet vertaal het nie.  Uiteraard is beide vertalings moontlik, maar dit gee ’n aanduiding daarvan dat ’n mens nie sonder meer vanuit Sagaria se uitspraak een afleiding maak, die woord een betekenis gee, en daarby staan nie.  Hiervan is Sag.11:7 ’n goeie voorbeeld.  Die NAV, inteenstelling met die OAV, vertaal dit soos volg:  ‘Ek het toe ’n herder geword van die wat met die slagskape handel dryf.’  Die vertalers het hier gekies om die Septuaginta (dit is die Griekse vertaling van die OT), te gebruik in die lig van die moeilik leesbare Hebreeuse teks.  Dit gee die aanduiding dat die NAV met die vertaling van Sag.14:21 nie so uit voeling was om ‘handelaar’ te kies nie.  Die ou antieke tale werk nie so eenvoudig nie.

 

Die ander uiters belangrike saak is natuurlik die konteks waarin die uitspraak in Sag. 14 gemaak word. Die skrywer se gevolgtrekking is nl. ‘Zechariah was a prophet from the house of Judah, from which Jesus came, and was describing 1 st century events leading up to (and including) the fall of Jerusalem in 70 AD.  Even with a futurist view that Zechariah’s prophecies are yet to come, the idea that Jesus can have a true Canaanite line is untenable’ (p.2).

 

Jesus sou dan wat die skrywer betref, nooit op die troon kon sit met ’n Kanaänietiese voorgeslag nie, omdat Deut.17:15 die volgende sê:  ‘Stel dan tog die koning aan vir wie die HERE jou God kies.  Jy moet iemand uit jou eie volk as koning aanstel’.  Dit is opvallend dat die skrywer geen aandag gee aan verskillende vertalingsmoontlikhede of, en dit is die belangrikste van alles, die konteks nie.  Of jy die betrokke teks met ‘Kanaäniet’ of ‘handelaar’ gaan vertaal, gaan uiteindelik nie aan die uitleg van die teks ’n wesenlike verskil maak nie.

 

Sagaria tree op in die na-ballingskap periode om die teruggekeerde ballinge te bemoedig. Sagaria kan in drie dele verdeel word, nl. Sag.1-8 wat ’n oproep tot bekering is, hfst.9-11 wat dui op die koms van die Messiaskoning, en hfst.12-14 wat handel oor die eindtyd.  Gewoonlik wanneer daar na die eindtyd verwys word, is die reaksie dat dit nog moet kom of dat ons dit pas betree het.  Die koms van die Messiaskoning en die eindtyd val egter saam.  Die Nuwe Testament self gee ´n goeie aanduiding hiervan.  Daarvolgens het die eindtyd met die koms van Jesus na hierdie wêreld aangebreek.  Natuurlik leef ons ook in die eindtyd, maar so ook die Nuwe Testament.  Luister na die woorde van Jesus in Mt.12:28: ‘Aangesien Ek deur die Gees van God duiwels uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom’. Met die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag sê Petrus in Hd.2:16-17:  ‘Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:  So sal dit in die laaste dae wees, sê God:  Ek sal my Gees uitstort op alle mense’.

 

M.a.w die laaste dae het in daardie tyd reeds aangebreek.  Hebreërs sluit hierby in Heb.1:1-2:  ‘In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun’.  In Heb.9:26 verwys die skrywer na die feit dat Christus ‘net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem’.  Johannes skryf in 1 Jh.2:18:  ‘Kinders, dit is die laaste uur’.  Al hierdie verwysings dui daarop dat die einde van die tye reeds aangebreek het met die koms van Christus, en derhalwe leef ons ook aan die einde van die dae.

 

Wat het dit met Sag.14:21 te doen?  As Sag.12-14 oor die eindtyd handel, help dit ons om te verstaan dat die eindtyd reeds met die koms van Christus aangebreek het, en Sag.14 waarskynlik iets daaroor te sê het.  Trouens, ’n mens behoort in gedagte te hou dat Sag.9-11 met die verwysing na die Messiaskoning ook met die eindtyd verband hou in die lig van die Nuwe Testament se interpretasie daarvan. Hier moet ’n mens altyd versigtig wees om enersyds nie woorde in die profeet se mond te lê wat hy nie bedoel het nie, maar andersyds ook nie die Nuwe Testamentiese interpretasie van Sagaria buite rekening laat nie, asof die Nuwe Testamentiese skrywers nie verstaan het waaroor dit gaan nie.  Matteus interpreteer die intog van Jesus in Jerusalem in Mt.21:1-11 met ’n terugverwysing na Sag.9:9:  ‘Verheug jou grootliks, o dogter van Sion!  Juig, o dogter van Jerusalem!  Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel – op ’n jong esel, die vul van ’n eselin’ (OAV).

 

Daarna volg in Mt.21 die reiniging van die tempel wanneer Jesus die mense wat koop en verkoop uitjaag, die tafels van die geldwisselaars en stoele van die duiweverkopers omgooi, en in vers 13 sê:  ‘daar staan geskrywe:  “My huis sal ’n huis van gebed wees,” maar julle maak dit ’n rowersnes’ (NAV).  Hierdie is ’n aanhaling uit Jer.7:11 en Jes.56:7.  Markus se aanhaling lees soos volg:  ‘Staan daar nie geskrywe:  “My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies wees” nie?  Maar julle het dit ’n rowersnes gemaak’ (Mark.11:17, NAV).

 

Hier dink ek, sonder om die draad van alles wat tot dusvér gesê is te verloor, dat daar tog enkele opmerkings nodig is.  Dit is baie insiggewend dat Markus na die tempel verwys as ‘’n huis van gebed vir al die nasies’.  Daar moet onthou word dat die tempel buite perke was vir ander nasies behalwe Israel.  Die teruggrype na Jes.56 is net so insiggewend.  Die profeet stel die breëre verband soos volg vanaf verse 3-7:

‘’n Nie-Israeliet

wat by die volk van die HERE

aangesluit het,

moenie dink: die HERE sal my van sy volk afsny nie.

’n Ontmande moenie van homself dink:

ek is maar ’n droë boom nie.

So sê die HERE:

Aan die ontmandes wat my sabatte onderhou,

wat kies vir wat Ek wil,

en wat lewe volgens my verbond,

aan hulle sal Ek in my tempel

en aan sy mure

’n teken gee, ’n erenaam

wat beter is as seuns en dogters.

Ek sal aan sulke mense ’n naam gee

wat nie uitgewis sal word nie.

Ek sal die nie-Israeliete

wat by my volk aansluit

om my te dien, om my Naam

lief te hê,

en om my dienaars te wees,

almal wat my sabatte onderhou

en dit nie ontheilig nie,

en wat lewe volgens my verbond,

na my heilige berg toe bring.

Ek sal aan hulle vreugde gee

in my huis van gebed,

hulle brandoffers, hulle offers

op my altaar sal vir My

aanneemlik wees,

want my tempel sal uitgeroep word tot

’n huis van gebed vir al die volke’.

 

Wat opvallend is, is die feit dat die nie-Israeliet en ontmandes nie toegelaat was tot die formele vergadering van die volk van God nie.  Maar nou verander alles!  Des te meer omdat Jesus die laaste deel van hierdie teks (vers 7) op sy reiniging van die tempel laat dui.  Die heil is vir alle mense bedoel.

 

Wat het al hierdie besonderhede dan uiteindelik met Sag.14:21 te doen?  Hou in gedagte dat Sag.14:21 se laaste gedeelte die volgende te sê het:  ‘Daardie dag sal daar in die huis van die HERE die Almagtige geen handelaar meer wees nie’ (NAV).  Skielik maak die optrede van Jesus meer sin.  Hy jaag die ‘handelaars’ oftewel ‘Kanaäniete’ uit die tempel uit, omdat Sy huis ’n huis van gebed moet wees, en dit vir alle nasies.

 

Om nou Sag.14:21 op Ragab van toepassing te maak en die moontlikheid dat sy ’n Kanaäniet kan wees, as onmoontlik af te maak, hou wat my betref geen water nie.  Inteendeel, die vertaling van Kanaäniet met ‘handelaar’ (op grond van die Ou Testament self, asook die manier waarop die Nuwe Testament die Ou Testament interpreteer), is ’n wesenlike moontlikheid.  Tog sou die term ‘Kanaäniet’ as sodanig geen verskil aan bogenoemde interpretasie maak nie.  Om nou te probeer om Ragab se identiteit of afkoms in  twyfel te trek, en dit op grond van Sag.14:21, mis die hele doel van Matteus se uiteensetting van Jesus se geslagsregister.  Daaroor sal daar later meer gesê word.

 

Die skrywer van die artikel sluit dan sy argument af, en beroep hom op die argument van stilswye (argumentum ex silentio).  Hy beroep hom dus nie op die teks self nie, en lei dan sonder meer af dat die Israelse spioene nie by ’n prostituut van ’n ander volk sou tuisgaan nie, en daarom kan ons aanvaar dat Ragab ’n Israeliet was!  Dit is duidelik dat die skrywer hierdie soort argumentasie gebruik om by ’n bepaalde standpunt in te pas, en derhalwe vind ek dit nie nodig om daarop te antwoord nie, aangesien ’n mens deur die argument van stilswye bykans enigiets kan bewys.

 

Rut

Wat Rut se opname in die geslagsregister van Jesus betref, doen die outeur van genoemde artikel weereens baie moeite om aan te toon dat Rut nie ’n Moabiet was nie, maar ’n ware Israeliet.  Ek gaan uiteraard heelwat aanhalings maak omdat ek die outeur self aan die woord wil stel, omdat diegene wat hierdie artikel lees nie noodwendig die toegang tot die bron het nie, en omdat dit waarskynlik in ’n groot mate kan help om die gang van die gesprek te volg.

 

Sy uitgangspunt is of dit enigsins moontlik is om Rut as voorbeeld te gebruik van ’n geldige huwelik buite Israel self.  Hy haal uit verskillende bronne aan om die aanvaarde Christelike uitgangspunte in hierdie verband aan te toon.  Hierdie uitgangspunte aanvaar dat Rut ’n Moabiet was wat in die geslagsregister van Jesus opgeneem is, ‘n Moabiet wat haar geloof vooraf in die God van Israel bely het.

 

Hierteenoor stel hy dit dat ‘(t)here is much in the book of Ruth that would make it appear that Ruth was an Israelite, like her mother-in-law Naomi.  It’s actually difficult to draw the conclusion that she wasn’t, were it not for the proliferation of false doctrine coming from our pulpits’.  Dan haal hy die bekende Rut 1:16 aan:

 

“(W)aar u  gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word”.

 

Die skrywer vra dan die vraag:  ‘Where does it say that Ruth was not of the same race as her mother-in-law, Naomi?  It doesn’t.  It can easily mean that Ruth, who had lived among the Moabites, was now determined to live among her racial kin’.  Hy verwys verder na haar weduwee skoonsuster, wat daarenteen tog besluit het om terug te keer na haar volk en die gode van Moab en veronderstel daarom dat Rut ’n Israeliet was.

 

’n Verdere argument wat die skrywer van hierdie artikel aanvoer ter verdediging daarvan dat Rut nie ’n Moabiet kon wees nie, baseer hy op die feit dat daar volgens hom nie meer in daardie tyd ’n volk soos die Moabiete kon wees nie.  Hy bou sy gevolgtrekkings op Rig.11:12-13.  Rig.11 handel oor die Ammoniete wat teen Juda, Benjamin en Efraim oorlog gemaak het en ‘die Israeliete swaar laat ly’ het (9).  Hy argumenteer soos volg met betrekking tot die Moabiete:  ‘According to Judges 11:12-13, by 1450 B.C. all the land of Moab was Israel’s territory.  In 1142 B.C., three hundred years later, the land of Moab was still Israel’s territory.  Long before Ruth, the Moabites had been exterminated by the Amorites.  The Israelites occupied the land of Moab for the next several centuries, although the gods of those people persisted’.

 

Hieruit lei die skrywer af dat Rut nie ’n Moabiet kon wees nie, en buitendien, as sy ’n afstammeling van die Moabiete was, was sy ’n afstammeling van ‘Lot through his incestuous ralationship with his eldest daughter’, en dit kan tog nie wees nie.  So, Rut was ’n Israeliet.  Hierop is reeds vantevore geantwoord dat enige Skrifverklaring alleen kan plaasvind op grond van die teks voorhande, terwyl die skrywer van die artikel op veronderstellings werk en die teks in wese eintlik iets anders sê.

 

Die vraag is nou net of die skrywer in bogenoemde afleidings getrou is aan die teks soos dit in Rut hanteer word.  Daarom net enkele opmerkings met die verklaring van hierdie gedeelte.  Die skrywer maak onder andere hier weer gebruik van die argument vanuit stilswye.  Dit beteken dat ’n mens jou argument nie noodwendig bou op wat die teks sê nie, maar juis op wat die teks nie sê nie.  Omdat die teks dan volgens die skrywer nie uitdruklik sê dat Rut van ’n ander ‘ras’ as Naomi is nie, beteken dit dat Rut nou verkies het om saam met haar ‘racial kin’ te gaan woon.  Hierdie soort van argument is baie gevaarlik en onaanvaarbaar, want daardeur kan jy die teks laat buikspreek soos wat dit jou pas en berus jou afleidings op veronderstellings.

 

Die enigste aanvaarbare manier van uitleg is om die teks in sy onmiddellike, maar ook in sy breëre verband te lees, en daarvolgens te verklaar.  Die onmiddellike verband verwys in Rut 1:4 dat Naomi en haar twee seuns, na die dood van haar man, alleen agter gebly het.  En dan lees ons:  ‘Die twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut’ (NAV).  Die OAV lees:  ‘Hulle het vir hulle Moabitiese vroue geneem’.  Daar is niks onduidelik in die teks nie.  Na die dood van Naomi se twee seuns, Maglon en Kiljon, verneem sy dat die Here uitkoms gegee het en dat die hongersnood in Betlehem-Juda verby was.  Sy besluit om terug te gaan en die twee skoondogters gaan saam.  Dit is binne hierdie konteks dat die een omdraai en Rut aandring om by Naomi te bly.  Die onmiddellike konteks verwys na beide skoondogters as Moabitiese vroue.

 

Maar wat van die breëre veband?  In Rut 1:22 lees ons:  ‘So het Naomi uit Moab teruggekom en Rut, haar Moabitiese skoondogter, was by haar’.  Daarna verwys die skrywer van Rut telkemale na Rut as die ‘Moabitiese’ (vergelyk in hierdie verband Rut 2:1, 2:6, 2:21, 4:5; 4:10).  Let op hoedat Rut in 2:5 deur Boas se voorman beskryf word as ‘die jong Moabitiese vrou’.  Let ook op dat Boas in gesprek met Rut daarna verwys in 2:11 dat hy van haar weet:  ‘Dis my alles vertel wat jy vir jou skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het en na ’n volk toe gekom het waarvan jy vantevore niks geweet het nie’.  Dit is absoluut duidelik dat die skrywer alles in sy vermoë doen om sy lesers se aandag daarop te vestig dat Rut juis ’n Moabiet was en nie, soos die skrywer van die artikel insinueer, dat sy ’n Israeliet en nie ’n Moabiet kon wees nie.  Dit sou totaal vreemd wees as sy ’n Israeliet was, en ‘niks geweet het’ van die volk waarvan sy eintlik deel was nie.

 

Die argument dat daar nie meer ’n Moabiet in die land oor was ten tye van Rut nie, kom nie uit die teks self nie.  Die skrywer van Rut doen moeite om haar Moabietiese afkoms te bevestig.  Ter stawing van die argument dat Rut ’n Israeliet was, moet die outeur van die artikel egter buite Rut gaan soek vir inligting.  Daarvoor haal hy Rig.11:12-13 aan.  Daarvolgens het Israel teenoor die Ammoniete stelling ingeneem met Jefta as aanvoerder van die Israeliete.  In die voorafgaande onderhandelings (n.a.v. vers 12) vra Jefta aan die koning van die Ammoniete:  ‘Wat het tussen ons gebeur dat jy hiernatoe gekom het om teen my land oorlog te voer’.  Daarna volg die koning van die Ammoniete se antwoord in vers 13:  ‘Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, het hulle my land gevat, van die Arnon af tot by die Jabbok en die Jordaan.  Gee dit nou in vrede terug.’  Die gebied hier ter sprake is ten noorde van die Arnon tot by die Jabbok, wat dus nie Moab wat suid van die Arnon lê, insluit nie.  Dit was in elk geval die grens verdeling ten tye van die rigters.  Hierop reageer Jefta deur aan te toon dat die HERE,  die God van Israel die hele gebied tussen die Arnon en die Jabbok aan Israel gegee het.  Trouens, dit was die gebied wat toegeken was aan die stamme Gad en Ruben.  Rig.11:18 stel dit duidelik dat Israel nie in die gebied van Moab gekom het nie.  Jefta se verwysing in vers 24 na die god Kemos wat bekend was as die god van die Moabiete, verander nie die teks na die gebied van Moab nie.  Inteendeel, dit was gebruiklik dat volkere mekaar se gode kon ‘oorneem’ en deel van hulle godedom kon maak.  Die teks noem egter niks daarvan nie, maar vermeld uitdruklik dat die gebied ter sprake noord van Moab was.

 

Dit is tog insiggewend dat Dawid, uit die nageslag van Rut, in sy vlug van Saul af, skuiling by die Moabiete vir sy ouers soek volgens:  ‘Daarvandaan het Dawid na Mispe in Moab toe gegaan en vir die koning van Moab gevra:  “Laat my ouers tog uitkom na u toe totdat ek weet wat God aan my sal doen.”  Dawid het hulle toe in die sorg van die koning van Moab gelaat’ (1 Sam.22:3-4).  Later, tydens Dawid se bewind, het hy die Moabiete aan hom onderwerp.  Salomo, op sy beurt, neem ook vir hom ’n Moabitiese vrou (1 Kon.11:1), wat hy nie veronderstel was om te doen nie, aangesien dit hom tot afgodediens sou verlei.  Dit het dan ook inderdaad gebeur (vgl. vers 7).   Hierdie is genoegsame inligting om aan te dui dat die Moabiete hoegenaamd nie, soos wat die artikel beweer, uitgewis was nie.  Inteendeel, Israel was herhaaldelik in stryd teen die Moabiete en ons hoor van hulle selfs tot na die ballingskap, in die tyd van Esra en Nehemia.

 

Die artikel gaan dan voort na Rut 4 waarvolgens Boas as losser optree.  Hy bou sy argument op die feit dat, indien Rut ’n Moabiet was, sy geen wettige reg tot ’n erfenis in Israel sou hê nie.  Hy neem dan as vertrekpunt Deut.21 en Num.27 wat geensins handel oor die kwessie van losser of nie-Israeliet nie. Dit handel in Deut.21:10 oor huweliksake ingevolge ’n man wat ’n nie-Israeliet as vrou wil neem in ’n oorlogsituasie waarin die vyand oorwin is, en hy met haar wil trou.  Daarvolgens is daar sekere voorskrifte waaraan voldoen moet word, maar niks verhinder hom om so ’n persoon as vrou te neem nie.  Num.27 bied ook nie die antwoord wat die skrywer van die artikel voorgee dit bied nie.  Dit handel oor dogters uit die Manasse-stam waar daar geen seuns in die nageslag was om te erf nie, en hulle dan uiteindelik die grond kry wat hulle pa sou kry.

 

Weereens laat die skywer van genoemde artikel nie die teks self aan die woord kom nie, maar probeer hy die teks van buite af  interpreteer n.a.v.  Esra 9:1-2 wat verband hou met die vreemde vroue in Israel, waaronder dan ook Moabiete.

 

Hy haal dan ’n pastoor Ted Weiland aan:  ‘Yeshua could not have become king of the Israelites if He was from a forbidden lineage or mixed-race relationship.  Therefore, Ruth must have been known as a Moabite because she lived in the country of Moab – a possession of the Reubenites at the time of Ruth.’  Weereens kom die teks nie self aan die woord nie, maar word van ander gedeeltes af geherinterpreteer.

 

En dan, asof alle argumente dat Rut enigsins ’n Moabiet kon wees finaal uit die weg geruim is, verwys die artikel na Deut.25:5-6 en stel dit soos volg:  ‘As a nail in the coffin, consider that Boaz (stated as a close kinsmen several times in Ruth) applied the levirate law to her.  The levirate law requires Israelite men to raise up a male heir for a deceased kinsmen, thereby preserving his name and estate.’

 

Hier kom Deut.25:5-6 ter sprake:  ‘Wanneer broers saamwoon, en een van hulle sterf sonder ’n seun, mag sy weduwee nie met ’n buitestaander trou nie.  Haar man se broer moet met haar trou en so sy verantwoordelikheid teenoor sy broer nakom.  Haar eerste seun moet die naam van die afgestorwe broer dra sodat sy naam nie uit Israel uitsterf nie.’  Hier lees ons van wat bekend staan as die leviraatshuwelik, oftewel die swaershuwelik wat reeds ter sprake gekom het en verduidelik is by Juda en Tamar.

 

Daarna verwys die artikel na Rut 3:9-13 waar Rut Boas antwoord dat hy haar losser is.  Die artikel haal weer vir Weiland aan wat tot die konklusie kom:  ‘Had Ruth been from a  forbidden lineage of Moab or from another race, the levirate law would not have applied because her previous relationship with Boaz’s kinsmen Machlon would have been unlawful and, therefore, adulterous.  Had Ruth been a racial Moabite, the nearer kinsmen (Ruth 3:12, 4:5-6) would have only needed to raise this objection to keep from having to redeem Ruth along with Machlon’s land.’  Dit kom voor asof hierdie argumente gebou is op Esra 9:1-2 en Deut.25: 5-6.

 

Om Skrif met Skrif te vergelyk, is nodig en ’n gesonde beginsel in die verklaring van ’n gedeelte.  Om egter ’n bepaalde gedeelte slegs vanuit ander gedeeltes te verklaar sonder om die teks self behoorlik in ag te neem, is gevaarlik.  Dit het al vantevore duidelik geword dat die skrywer van die artikel Rut vanuit ander gedeeltes probeer verklaar.  Daarvolgens kon Rut nie ’n Moabiet gewees het nie, want die ander gedeeltes soos Deuteronomium en Esra het uitsprake wat dan met hierdie beginsel in botsing sou kom.  Volgens Esra 9 het die Israeliete getrou met nie-Joodse vrouens wat ontoelaatbaar was (en volgens Neh.13:3 het hulle van die wat van gemengde herkoms was, afgeskei).  Die agtergrond vir die verstaan van genoemde gedeeltes moet egter by die verklaring daarvan in gedagte gehou word.  By Esra en Nehemia het ’n gedeelte van die volk pas teruggekeer uit ballingskap.  Die rede vir die ballingskap was afgodediens, en nou trou hulle juis met vrouens uit die volkere wat hulle tot afgodediens verlei het (Deut.7 verbied huwelike met heidense volkere juis a.g.v. die gevaar dat hulle Israel sal verlei tot afgodediens, en geen ander rede nie).

 

Wat Deut.25:5-6 betref, kom die leviraatshuwelik ter sprake.  Ook hier probeer die skrywer van die artikel Rut vanuit Deuteronomium interpreteer.  Dit is duidelik uit Rut dat daar ’n kombinasie van lossingsreg en leviraatshuwelik ter sprake is.  Die artikel het ’n probleem met die feit as Rut ’n Moabiet was.  Nie een van die twee beginsels ter sprake sou van toepassing kon wees nie.  Die lossingsreg was van toepassing op iemand wat wat uit ’n noodsituasie losgekoop moes word.  As iemand ‘eiendomsreg’ verloor het, was dit die naaste familielid se verantwoordelikheid om so ’n persoon  ‘los te koop’.  Boas word verskeie kere in die boek Rut as losser voorgestel.  In die uiteindelike onderhandelings kom beide beginsels ter sprake.  Met die uitoefening van die lossingsreg word ‘Rut die Moabitiese weduwee’ (Rut 4:5) betrek ‘sodat die grond in die oorledene se familie bly’.  Met die afhandeling van die onderhandelings sê Boas dan:  ‘Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimelek en Kiljon en Maglon behoort het, van Naomi gekoop het en dat ek ook die Moabitiese vrou Rut, die weduwee van Maglon, vir my as vrou gekry het.  So sal die grond in die oorledene se familie bly en sy nagedagtenis nie vergeet word in die volkslewe nie.’

 

Dit gaan dus hier oor die voortbestaan van die familie van Elimek en sy seuns.  Die seun wat uit hierdie huwelik gebore sou word, word gesien as die nageslag van Elimelek.  Dit gaan dus nie oor die naam van Rut nie, en wanneer sy geboorte skenk aan ’n seun, verklaar die vrouens teenoor Naomi:  ‘Aan die HERE kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ’n losser gegee het… Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring’ (Rut 4:14-15).  Daarna het die buurvroue die seuntjie Obed genoem, want, het hulle gesê:  ‘’n Seun is vir Naomi gebore.’  Rut staan bekend as die Moabitiese, en die familienaam bly behoue en Obed was ’n voorvader van Dawid.

 

Die artikel sluit dan af met die woorde:  ‘Today’s Judeo-Christian leaders erroneously teach that Ruth and Rahab were of a different race than Salmon and Boaz, respectively.  As a result, they believe that Jesus was a bastard (mamzer) and does not sit on the Throne today.’

 

Om hieruit af te lei dat die skrywer maar net na Rut as die Moabitiese verwys, maar eintlik bedoel het dat sy ’n Israeliet was, hou nie water nie.  Dat die heilsplan van God veel wyer strek as wat ons kan dink en ’n universele karakter dra, is duidelik.  God gebruik ’n nie- Israeliet in die heilsgeskiedenis wat uiteindelik sy klimaks vind in die geboorte van die Messias, die Koning van die konings, Jesus Christus.  Tesame met Tamar en Ragab word hierdie vroue opgeneem in die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van God.

 

GEVOLGTREKKING

 

ENKELE UNIVERSELE TREKKE IN DIE OU TESTAMENT

By die verklaring van enige gedeelte moet die konteks van die teks in ag geneem word, en binne sy eie verband verklaar word.  Dit beteken nie dat Skrif nie met Skrif vergelyk kan word nie, maar dat die eie verband van die teks nooit ten koste van sodanige vergelykings daarbuite verklaar kan word nie.

 

Verder moet daar in gedagte gehou word dat daar ook in die Bybel ’n meer universele karakter na vore kom.  Behalwe vir die universele karakter van die skepping, vind ons dit ook in die verbond met Abraham in Gen.12:3:  ‘In jou sal al die volke van die aarde geseën wees’ (NAV). Hier gaan die belofte oor ‘volke’ of ‘geslagte’ volgens die OAV.  Hierdie universele karakter kan nouliks oor die hoof gesien word.  So sluit Gal.3:7-8 hierby aan:  ‘Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.  Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie-Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo.  Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring:  In jou sal al die nasies geseën word.’ (Om hierdie ‘nasies’ of ‘volke’ of ‘geslagte’ as Israeliete te interpreteer soos sommige wel doen, is om weereens van buite af na die teks te gaan en nie die teks self aan die woord te laat kom nie).

 

Hierdie universele karakter kom telkemale in die Ou Testament self voor.  Hier volg enkele voorbeelde:

 

Psalm 87:4-7 gaan oor die HERE se liefde vir Sion:

 

“Ek reken onder dié wat  my ken

Ook die mense van Egipte (Rahab)

En Babel,

Selfs dié van Filistea, Tirus en Kus.

Hulle het almal kinders van Sion geword (Hulle is daar gebore).

Daarom word van Sion gesê:

“Daar is hulle man vir man gebore;

die Allerhoogste hou Sion (dit) in stand.”

As die HERE die name van die volke aanteken (tel),

sal Hy by elkeen skrywe:

“Hierdie is ook ’n kind van Sion (daar gebore)” .”

(Multi-Vertaling)

In die lig van Deut.23:1-3 (m.b.t. diegene wat nie toegelaat word in die gemeente van die HERE nie) word soos volg geskryf:  ‘Iemand wie se geslagsorgane verbrysel is of iemand wat ontman is, mag nie lid van die gemeente van die HERE wees nie.  Niemand wat gebore is uit ontoelaatbare geslagsgemeenskap (Tamar) mag lid van die gemeente word nie selfs nie so ’n persoon se tiende nageslag nie.  Geen Ammoniet of Moabiet (Rut) mag lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.’

 

En dan verkyn in Jes.56:3-8 ’n absolute universele karakter.  Die vreemdeling en die ontmande in vers 3 dui op die treffende alles-omarmende inklusiewe karakter van die verlossing wat die HERE bring.  Hierdie verlossing is nie afhanklik van geslagsregisters nie, dit is universeel (vgl. die volledige aanhaling van Jes.56:3-7).

 

Die nie-Israeliet oftewel vreemdeling (of die OAV uitlander) wat by Jahweh (die HERE) aansluit, moet nooit dink die Here sal so ’n persoon van sy volk afsny nie, en so moet die ontmande (wat ook die vergadering van Israel belet is) nie dink dat hy ’n droë boom is nie.  Inteendeel, die HERE self sê aan die ontmandes:  hulle wat kies vir die wil van die HERE en vashou aan sy verbond, vir hulle gee Hy ’n gedenknaam in sy huis, wat beter is as seuns en dogters en wat nooit uitgewis sal word nie.  Wat die vreemdeling, uitlander of nie-Israeliet betref, wat by die HERE aangesluit het om Hom te dien en sy Naam lief te hê, en om sy dienaars te wees en vas te hou aan sy verbond, hulle sal vreugde vind in sy huis van gebed, want sy ‘huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke’ (Jes.56:7).

 

So is daar talle ander verwysings in die Ou Testament wat op hierdie universele karakter dui.

 

DIE UNIVERSELE KARAKTER IN MATTEUS

Dit gebeur nogal dat Matteus soms gebruik word om sy karakter van uitsluiting aan te dui.  Die gewilde verwysing is Mt.10:5-6 waar Jesus in sy opdrag aan die twaalf sê:  ‘Moenie met ’n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in die dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel toe.’  Die geslagsregister van Jesus dui egter in ’n ander rigting, en so ook die opdrag om dissipels te maak van alle nasies in Mt. 28:18.  Dit toon aan dat daar twee beginsels in Matteus is, nl. die sending aan die Jode en aan die wêreld.

 

In die geslagsregister word Jesus voorgestel as die seun van Dawid en die seun van Abraham.  As seun van Dawid word Hy as koning voorgehou, die langverwagte Messias.  Die vraag is egter wat die bedoeling van die geslagsregister is.  Matteus toon aan hoedat die geslagslyn van Dawid af oor Abraham tot by Jesus Christus loop.  Dawid met die fokus op Jesus as Messias, wat volgens Johannes na sy eie mense gekom het, en Abraham wat ’n aanduiding is van die sendingmotief.  Verder word Jesus die seun van Abraham genoem.

 

Daar moet in gedagte gehou word dat Abraham ook beskou is as vader van die proseliete, dit is bekeerlinge uit die heidendom na die Jodedom (Mt.23:15).  Die ironie is dat die eerste mense om aan Jesus hulde te bring, die sterrekykers uit die ooste was.  Hulle het ’n baie negatiewe konnotasie onder die Jode gehad.  Uiteindelik, met die kruisiging van Jesus, is dit ’n Romeinse soldaat wat bely:  ‘Waarlik, Hy was die Seun van God’ (Mt.27:54).  Eintlik is dit asof Matteus ons aandag op hierdie brokkies inligting wil vestig; so behep met die regte afkoms en geslagsregister, en tog so blind.  Die sending aan die Jode en dié aan die heidene loop hand aan hand.

 

Maar waarom dan die name van die vroue nl. Tamar, Ragab, Rut en Batseba, die vrou van Urija die Hetiet?  Van lg. weet ons bitter min, behalwe Dawid se owerspel met haar.  Met hierdie name word ’n universele motief by Matteus beklemtoon.

 

Matteus se fokus is nie net die name van die vroue nie, maar gaan ooglopend veel wyer.  Ragab word wel ’n prostituut genoem, maar was hoog aangeskrewe n.a.v. Jos.6:23-25, waarvolgens Ragab uiteindelik tussen die Israeliete gewoon het.  Uiteindelik maak sy deel uit van die wolk van getuies in Heb.11:31:  ‘Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.’  Rut, alhoewel ’n Moabiet, word hoog geag in die die boek Rut.  Dit is ook waar van Tamar.  God handel vrymagtig in Sy genade deur die heil universeel te maak, vir alle mense.  Dit geld ook vir die wyse van die koms van Sy Seun in hierdie wêreld.

 

Let dan op hoe sluit die geslagregister af.  Van almal lees ons die naam van ’n persoon, wat die vader was van so-en-so, en dan weer ’n herhaling tot Mt.1:16:  ‘Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.’  Na alles sê die engel vir Josef in Mt.1:20:  ‘Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.’

 

Uiteindelik beteken dit dat daar genadiglik vir almal hoop is, ook vir jou en my, ondanks ons afkoms of geslagsregister.  Daarvan is die Seun van die Mens, die Seun van God die bewys!   ‘Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.  En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename.  Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus’ (Rom.8:16-17).

Izak van der Walt

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Christus, Vals lering. Bookmark the permalink.