C.S. Lewis: Een van die mees invloedryke Christene in die twintigste eeu

Lewis 2

Wie is op 22 November 1963 oorlede? Baie mense sal reg antwoord: “President John F. Kennedy.”  Op dieselfde dag is daar egter iemand anders oorlede wat kragtiger was in God se koninkryk as  President Kennedy. Sy naam was C.S. Lewis.

 

Die voorletters, “C.S.“, staan vir Clive Staples, maar vir sy vriende was hy “Jack.” Hy is in 1898 naby Belfast, Ierland, gebore en het groot geword in die Anglikaanse kerk. Toe hy tien jaar oud was het hy sy ma aan kanker verloor. Lewis se wêreld is geskud. Met ’n God wat so wreed was om sy ma te neem, wou Jack niks te doen hê nie.  Hy was dus reeds in sy vroeë tienerjare ‘n ateïs.

 

Jack het aan die Universiteit van Oxford gegradueer waar hy Wysbegeerte en Engelse Letterkunde gestudeer het. Oxford het vir die res van sy lewe sy tuiste geword.  Vir die eerste dertig jaar van sy akademiese loopbaan was Lewis ’n dosent (”fellow”) by Oxford se Magdalen College.  Hiervandaan is hy verkies tot die nuutgestigde professoraat in Middeleeuse en Renaissance Engels by Cambridge Universiteit.  In hierdie jare was hy elke naweek ’n pendelaar tussen die universiteit en sy huis in Oxford.

 

Jack se pelgrimstog terug na God het in 1926 begin na aanleiding van ’n gesprek met ’n mede-dosent wat ook by Magdalen College gewerk het. Hierdie vriend was hard en sinies, en Lewis was verras om te ontdek dat hy in die Drie-Enige God glo.  Hierdie ontdekking was ’n uitdaging vir Lewis se ateïstiese veronderstellings.

 

In 1929 het Jack nog ’n stap in sy pelgrimstog na God geneem; dit was tydens ’n busrit op ’n lentedag. In die bus het Jack oor die werke van verskillende filosowe wat hy gelees het,Lewis 3 gepeins.  Hy het Hegel se idee van die absolute gekombineer met Berkeley se begrip van Gees.  Hy kon verstaan dat daar ’n wese is wat hy “God” kon noem, maar van hierdie God het hy niks geweet nie.  Toe hy uit die bus klim, het hy geweet dat hy iets glo wat hy nie voorheen geglo het nie, naamlik dat ’n absolute Gees of God wél bestaan.

 

’n Paar maande daarna het Lewis begin dink aan ’n Absolute Gees, iemand wat kon sê: “Ek is die Here.” Hy moes dus eindelik erken dat God God is, en hy het vir die eerste maal in jare gebid.[i]

 

Die volgende stap in sy pelgrimstog was in die geselskap van twee vriende op ’n September aand.   J.R.R. Tolkien was ’n Rooms-Katoliek en  H.V. Dyson ’n Anglikaan.  Die drie geleerdes was besig met ’n gesprek oor die egtheid en belangrikheid van die Christelike leerstellings.  Namate die gesprek gevorder het, het Jack al hoe meer oortuig geraak dat die dinge in die Bybel regtig gebeur het.

 

Tog het die ware wending eers twee jaar later, in 1931, gekom. Een middag het en sy broer, Warren, met Jack in die sywaentjie van Warren se motorfiets, ’n veertig myllange reis onderneem na die Whipsnade Dieretuin in Londen.  ’n Motor met drie vriende en “Mr. Papworth,” ’n hond, het agterna gekom. Die Lewis broers het eerste by die dieretuin aangekom en het tyd gehad om ’n paar biere weg te slaan voordat die res van die geselskap by hulle aangesluit het.  Die geselskap het eers piekniek gehou voordat hulle die dieretuin binnegegaan het.  Honde is nie toegelaat nie en Jack het agtergebly om  Mr. Papworth op te pas.

 

Terwyl Jack in die park ontspan het, en die aangename moegheid van die lang motorfietsrit gevoel het, het hy besef dat hy in die afgelope paar uur tot ’n belangrike slotsom gekom het. Hy het besef dat hy, toe hulle by die huis weg is op pad na Whipsnade nie geglo dat Jesus Christus die Seun van God is nie.  Op een of ander manier het hy egter by hulle aankoms by die dieretuin wel geglo! Sonder dat hy doelbewus daaroor gedink het, het hy van geloof aan God oorgegaan tot vertroue in Hom as Verlosser.

 

Lewis se bekendheid as skrywer het in 1941 skielik ontluik met sy boek The Screwtape Letters (wat in Afrikaans vertaal is as Briewe aan Bitterals).  Daar het gereeld een of meer boek(e) per jaar uit sy pen gevloei.  Titels soos Mere Christianity, Surprised by Joy, A Grief Observed, en The Chronicles of Narnia is wêreldwyd deur die Here gebruik om die lewens van mense van alle ouderdomsgroepe te verander.[ii]

 

C.S.Lewis word as die mees invloedryke Christenskrywer van die twintigste eeu beskou – nogal ’n groot sprong van die ateïsme van sy jeug…

 

Vir nadenke: Waar is jý in jou pelgrimsreis na die ewigheid?

Skrifgedeelte: Johannes 3:8

 

Hierdie oordenking is ’n vertaling van THE ONE YEAR CHRISTIAN HISTORY, bl.654-55, saamgestel deur E.M. en S. Rusten en uitgegee deur Tyndale House uitgewers in 2003.

[i] Dit laat my dink aan Handelinge 9:11 se laaste gedeelte

[ii] Daar word vertel dat sedert Lewis se dood, nie een van se vele boeke ooit uit druk was nie! – Vertaler

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie, Uncategorized. Bookmark the permalink.