Kerkgroei in die Kaap

’n Terugblik op die Broerderking in die Suide

Church growth 2

Die Broederkring in die Suide het hierdie jaar met baie stampe en stote gerealiseer. Ons het, soos dit elke jaar gaan, verskeie uitdagings ten opsigte van die tyd wanneer hierdie byeenkoms moet plaasvind.  Aan die begin van die jaar is daar sóveel ander verantwoordelikhede waarby gemeenteleiers betrokke is.  Hierdie jaar moes twee van ons sprekers onttrek en op baie kort kennisgewing moes ons alternatiewe reëlings tref.  Die Broederkring het nogtans voortgegaan en ek kan met vrymoedigheid byvoeg dat ons ’n wonderlike tyd gehad het.  Ek sien altyd baie daarna uit om my vriende weer te sien.

’n Probleem met die gewone “venue” het hierdie jaar tot gevolg gehad dat ons in Oudshoorn bymekaar gekom het. Ons was aanvanklik ’n bietjie besorgd, maar moes gou erken dat die plek baie aangenaam was.  Ek dink ek het daar die lieflikste ontbyt geniet wat ek nog ooit geëet het.  Vir aandete het ons (soos in die ou dae) koepons ter waarde van R110 ontvang om in die dorp by ’n restaurant te gaan eet.  Die lys van eetplekke was heeltemal billik en as jou keuse goed was, het jy sommer heerlik geëet en trommeldik huis toe gegaan!

Omdat ons baie te sê gehad het, was ons program baie vol. Die tema van die byeenkoms was “Kerkgroei”, wat sekerlik ’n  paar wenkboue laat lig het.   Maar soos ek in my inleidende aanbieding gesê het: die tema kon net sowel “Gemeente gesondheid” gewees het.  Ons weet dat God werk.  Hy het nog altyd gewerk en werk vandag steeds.  Ons weet ook dat dit nie sy begeerte is dat iemand verlore moet gaan nie, maar dat almal gered moet word:  “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n  losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd,” (1 Timoteus 2:3-6).

Omdat daar geen fout by die Here te vind is nie, was ons genoodsaak om na onsself te kyk.   Dit was die invalshoek van hierdie Broederkring.  Ons het ons eie werk vir die Here onder die vergrootglas geplaas deur die Here se opdrag aan ons weer van naderby te beskou.  Ons het ook gekyk hoe ons hierdie opdrag op ’n praktiese wyse kan nakom.  Ons het gekyk hoe ons deel kan word van dít wat die Here klaar besig is om te doen.  Dit was opwindend!

Die behoefte is uitgespreek dat ons in die vervolg spesifiek ook ekstra kuier-tyd in die program sal inwerk, sodat ons mekaar as broers in Christus beter kan leer ken. Ek sien Oudtshoornreeds uit na volgende jaar se Broederkring (DV)!

Mag ek net laastens sê dat die Broederkring oop is vir almal wat die Here liefhet. Dit sal lekker wees as ons weer van ons broeders in die Noorde kan onthaal.

Ek wil eindig deur te sê soos die Engelse sê: ‘Watch this space!’

Tian de Beer

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Verslae. Bookmark the permalink.