George Friederich Händel

Die komponis van Die Messias (1685–1759)

GF Handel

Lutheraanse Musikante

Dit is ongelooflik dat twee van die grootste komponiste van alle tye in dieselfde jaar en in dieselfde land, in Duitsland, gebore is; en albei Lutherane. George Friedrich Händel en Johann Sebastian Bach is in 1685 gebore.  Tóg het hulle mekaar nooit ontmoet nie.  Bach het uit ’n musikale familie gekom, maar Händel was die heel eerste musikant in sy familie.

 

Van Wetsgeleerdheid tot Musiek

George Friedrich Händel se vader was ’n chirurg-haarkapper. Hy het alles probeer om sy seun te ontmoedig om musiek sy loopbaan te maak.  Dit was sy begeerte dat sy seun ’n prokureur moes word.  Alhoewel George tot 1703 in ’n wetsrigting studeer het, is hy van negejarige ouderdom toegelaat om musiek te neem.  Reeds op 12-jarige ouderdom kon hy as orrelis vir sy leermeester instaan, en het hy toe reeds sy eerste komposisie geskryf.

 

Teen die Mode van die Tyd

Nadat Händel musiek studeer het in Duitsland en Italië, het hy Engeland toe verhuis. Dáár het hy vir die res van sy lewe gebly.  Hy het die komponis geword vir die Royal Chapel.  Die tydsberekening van sy  groot belangstelling in opera was nie gepas vir die tyd nie.  Händel het egter in die 1740’s aangehou om operas te komponeer.  As gevolg hiervan het hy al hoe meer geld verloor.  Sy vriende het hom daarop gewys dat die konsertsale byna leeg was.  Händel se pittige antwoord was:  ‘’n Leë saal het beter akoestiek.’

 

Van Bankrotskap en Boikotte tot Sukses

In 1737 speel Händel se operamaatskappy bankrot en kry hy ’n beroerte. Sy eerste oratorium, Ester, is deur die kerklike owerhede verdoem omdat dit toegelaat het dat die Woord van God in ’n teater uitgespreek is!  Die Biskop van London het die uitvoering van die oratorium verbied.  Händel het egter voortgegaan met die uitvoering.  Die uitvoering is deur die koninklike familie bygewoon en was ’n sukses.  In 1739 is advertensies vir Händel se Israel in Egipte deur kerkleiers afgeskeur en die uitvoerings ontwrig.

 

Toonset die Skrif

Händel was oortuig van sy roeping om die Skrif te toonset. “Ek het my Bybel deeglik gelees en sal self kies wat om te doen.”  Hy het daarop gestaan dat hy die Bybel nét so goed soos enige Biskop verstaan.

 

Gekonfronteer deur Mislukking

Die aanvalle op Händel het verander in dreigemente van ’n sg. “debtor’s prison” [1].  Teen 1741 was George Frederich Händel ’n mislukking.  Finansieel was hy bankrot en fisies het hy baie pyn gely.  Verder was daar ook sameswerings om sy beroep te saboteer.  ’n Ernstig depressiewe Händel het sy afskeidsoptrede in London begin beplan vir April 1742.

 

Die Messias

Daardie somer het hy Die Messias gekomponeer.  Händel het op 22 Augustus 1741 begin met die komposisie van die Messias (en dit op 14 September 1741 voltooi).  Hy het Deel 1 binne ses dae voltooi en Deel 2 binne nege dae.  Deel 3 was ses dae daarna klaar.  Händel het soos ’n besetene gewerk.  Hy het die kamer selde verlaat en het baie min geëet.  Binne 24 dae Messiahhet hy 260 bladsye musiek geskryf wat erken is as een van die grootste komposisies ooit.  Nadat hy klaar was met wat bekend sou raak as ‘Die Halleluja Koor’, het hy gesê:  ‘Dit was asof ek die ganse hemel en die grote God Self voor my kon sien!’ Die Messias is onmiddellik begroet as: ‘Die Samevatting van die Christelike Geloof.’

 

Staan vir die Lofsang tot die Koning van die konings

Die openingsaand of premiêr van Die Messias op 13 April 1742 het plaasgevind voor ’n oorvol saal van 700 mense.  Dit was sensasioneel.  Die aanvraag vir kaartjies was so groot dat mans gevra is om nie swaarde, en vroue om nie hoepels in hul rokke te dra nie.  So kon nog ’n honderd mense in die gehoorsaal ingepas word.

Met die uitvoering van Die Messias in London was die koning teenwoordig.  Toe hy by die klank van die eerste note van Die Halleluja Koor opstaan, het hy ’n tradisie begin wat sedertdien dwars-oor die Engelssprekende wêreld sou voortduur.

 

Kragtiger as Vele Preke

John Wesley, die evangelis, het ’n uitvoering van Die Messias bygewoon in die Bristol Katedraal.  Na die tyd het hy gesê:  ‘Ek twyfel of daardie gemeente ooit so ernstig was oor ’n preek as wat hulle was gedurende die uitvoering.’

 

Ek het die Hemel Geopen Gesien

Teen die tyd van sy dood het Händel reeds by 30 uitvoerings van Die Messias as dirigent opgetree.  Op die dag voor Paassondag 1759 is George Friedrich Händel oorlede in dié hoop:  ‘[that he would] meet his good God, his sweet Lord and Saviour, on the day of His Resurrection’.[2]  ’n Vriend het opgemerk dat George gesterf het soos wat hy gelewe het:  ’n goeie Christen met sy opregte pligsbesef voor God en mens, en in perfekte naasteliefde vir die hele wêreld.

 

[1] Ironies genoeg is die volgende opgeteken in The One Year Christian History (E. Michael & S. Rusten, p.517):  ‘The premier performance of Messiah was April 13, 1742, in Dublin.  The benefit freed 142 persons from debtor’s prison.’

[2] Peter Hammond, Victorious Christians who Changed the World, Christian Liberty Books, KAAPSTAD, 2011, pp.241-244 OF http://www.reformationsa.org/index.php/history/79-gfhandel

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie. Bookmark the permalink.