Tweestryd

Tug of war

‘n Eenvoudige verduideliking van die gelowige se stryd met sonde soos uiteengesit in Romeine 7:14-25

Hoe gebeur dat ‘n mens kan sê dat jy ‘n kind van die Here is – maar nogtans ‘n verdeelde hart het? Mense wat die Here dien, beleef dikwels dat hulle totaal uit die bus val – en twyfel of hulle hoegenaamd kinders van die Here is.  Hoe moet ek hierdie tweestryd in my verstaan?  Romeine se sewende hoofstuk antwoord tot ‘n mate die verwarring:

Die gelowige het ‘n aanhoudende stryd met sonde!

Ek wil probeer om die waarheid van Romeine 7 in die vorm van ‘n storie met drie hoofstukke oor te dra. My storie sal nie in elke detail die boodskap van Romeine 7 volg nie. Maar dit sal hopelik die impak daarvan oordra.

Laat ek jou van Hetta Hopeloos te vertel – jy ken haar ook baie goed.

 

[I] HETTA SE EERSTE HUWELIK – EK EN DIE WET

Hetta Hopeloos was met Piet Perfek getroud. En dit was ‘n katastrofe!

Jy sien, Hetta was maar grof, erg grof.

Piet Perfek was teenoorgesteld – fyn gesny; onberispelik in elke ding. Die reëlboek vir onberispelikheid was sy lewe!

Heeldag het Hetta deurgeloop: “Nee, Hetta, ‘n mens doen nie só nie. Nee, Hetta, ‘n mens práát nie so nie. Nee, Hetta, ‘n mens gedra jou nie só nie. Hemel, Hetta! Jou manier van dink is siek!”

Sy het swaar gekry in hierdie huwelik.

Tog moes sy erken dat Piet Perfek se reëls eintlik baie goed was. Dis net dat sy dit nie kon verdra nie. Oor hierdie belewenis, skryf die apostel Paulus in Romeine 7 vers 7 en vers 12.

Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.”

Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.

Piet was fanaties oor reëls soos (jy sal van die tien gebooie herken):

  • ‘n Mens moet tussen belangrike, en minder belangrike dinge onderskei.
  • Jy moet dink voor jy praat.
  • Luiheid is onvergeeflik.
  • Respek vir jou ouers, is ‘n móét.
  • Elke mens moes lewensruimte gegun word.
  • Huwelikstrou is ‘n vereiste.
  • Steel is uit.
  • Waarheid is fundamenteel.

 

Hetta was van ander ‘n ander dam se eende. Piet se goeie reëls het haar gedaan gemaak – al het sy geweet dat die fout in haar was, en nie by die reëls nie.

As sy wakker word, het hy haar aangepraat. As hy werktoe ry, het hy notatjies gelos oor wat moet en wat nié moet nie. Saans het hy haar kapittel oor die deurmekaar huis; kos wat laat is; wasgoed wat ophoop; bure wat oor haar kla.

En toe een dag gebeur dit: Piet slaan morsdood neer (seker maar die stres oor sy vrou wat te veel vir sy hart geword het). Sy kon nie sy eise nakom nie, en hy kon haar nie uit haar ellende optel nie.

 

[II] HETTA SE TWEEDE HUWELIK – EK EN CHRISTUS

Hetta het weer getrou. En moet nou nie lag nie – weer met ‘n perfekte man. Maar hy het haar sonder voorwaardes en eise liefgehad.

Sy het vir hom gesê wie en wat sy is. Al wat hy gesê het, was dat hy haar beter ken as wat sy haarself ooit sal ken. En dat hy haar ter wille van haarself liefhet – ongeag wat sy doen, of nié doen nie.

Hy het vir haar gesê dat hy verantwoordelikheid sal neem vir die dinge waarmee sy nie kan regkom nie. Wat sy nie kan doen nie, sal hy vír haar doen. Paulus beskryf ons situasie só:

Dit is ook die geval met julle, my broers. Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou ‘n vrugbare lewe lei in diens van God (Romeine 7:4).

In hierdie nuwe verhouding, het iets vreemd met Hetta begin gebeur: die liefde van hierdie wonderlike man het diep in haar iets wakker gemaak. Sy het begin respek kry vir die reëls waaraan sy voorheen wou stik; dinge wat hy getrou en sonder verwyt langs haar, en selfs vir haar, uitgeleef het.

Sonder dat sy dit mooi kon verstaan, het dit vir haar belangrik begin word om eerste dinge eerste te stel; kos betyds klaar te hê; huis aan die kant te maak; mooi te praat sodat hy hom nie vir haar hoef te skaam nie. Toegepas op die Christen, sê Esegiël 36:26:

Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

Daarmee saam het ook nuwe spanning gekom: nie meer van buite af deur reëls wat iemand op haar probeer afdwing het nie, maar van binne af. Want nou trek die liefde van haar nuwe man haar een kant toe, maar die mens wat sy nog steeds in haar diepste menswees is, trek anderkant toe.

Sy het wel ‘n nuwe man, maar sy is nog dieselfde Hetta.

Daar is ‘n ou deel van haar wat so eie aan haar as haar bloedsomloop is, en daar is ‘n nuwe verlange wat in haar lewe en groei. Lees hoe Romeine 7 vers 21 tot 23 dit beskryf:

So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

En hoe meer sy vorder om soos hy te leef, hoe meer word sy van haar tekorte bewus. Hoe nader sy aan hom kom, hoe meer sien sy haar eie foute.

Sy is nie meer ‘n slaaf van haar ou self nie, maar nog steeds daartoe aangetrokke. Sy leef nie langer in haar ou natuur nie, maar die ou natuur leef nog sterk in haar.

  • Sy hou van die skoon huis, maar is nie altyd lus om die besem en stofsuier uit die kas te gaan haal nie;
  • Sy dink nou ook dis gaaf om op ‘n skaflike tyd in die aand ‘n lekker bord kos te eet, maar is dikwels meer lus om met haar tydskrifte en ‘n koppie koffie te sit;
  • Sy waardeer ook nou om te hoor dat mense ordentlik met mekaar praat, maar is nie altyd lus om haar eie tong in toom te hou nie.

Haar ou natuur is so sterk dat dit nog aan haar hang, haar lewe vlek, en haar verlange om reg te leef, frustreer. Daar is ‘n toutrekkery in haar: die nuwe lewe wat wil hê dat sy reg moet doen, en ou instinkte wat anderkant toe trek.

 

[III] HETTA SE ONTDEKKING – MY ONTDEKKING

Hetta moes met die tyd leer dat haar nuwe man se verhouding met haar, nie die gevolg van haar vordering was nie: hy het haar ter wille van haarself liefgehad. Dit het nie oor haar groei gegaan nie, maar oor hom wat haar aanvaar het.

Natuurlik was hy bly as sy groei, maar hulle verhouding het nie daarvan afgehang nie. Haar vooruitgang was nie die basis van hulle verhouding nie: dit was die resultaat daarvan.

Van haar kant af moes sy gedurig wakker loop sodat sy nie vanuit haar nuwe situasie na die oue toe teruggly nie; van die persoon terug na die reëlboek; van vryheid terug na slawerny; van inwonende lewe na uiterlike reëls.

Sy moes ook oppas dat sy nie die eer wat haar man s’n is, vir haarself wil neem nie.

Want daar was die gevaar dat sy darem graag self ‘n bydrae tot hulle verhouding wou maak. Genoeg dat sy nie hoef te voel dat sy met leë hande voor hom staan nie. Iéts doen sodat sy trots op haarself kan wees. Minder van ‘n begenadigde, meer van ‘n vennoot, wat darem ook met ‘n paar pou-vere kan spog. Ook ‘n bietjie eer kan kry.

Oor daardie risiko skryf die apostel Paulus in Efésiërs 2 vers 8 tot 10:

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Sy moes ontdek dat sy vry van die reëlboek, en net aan haar man verbind is. Sy het net een taak gehad: om by haar nuwe man te bly; aan hom deur eenvoudige eerbied en dankbare liefde verbind.

Wat is ons gevolgtrekking dan? Hetta se verhaal is die verhaal van Romeine 7. Dis jou en my verhaal van tweestryd.

Ons was onder die wet se heerskappy. Die wet het die regte goed van ons vereis, maar ons was nie in staat om dit te doen nie.

Toe het Christus gekom en ons geneem soos ons is – ter wille van onsself, en nie ter wille van ons prestasie nie. Hy het die eise van die wet op Hom geneem, en dit namens ons uitgeleef. Hy het die straf van die wet in sy liggaam en gees gedra.

Ons verhouding met Christus is die resultaat van sy opoffering, nie die gevolg van ons vordering nie. Dis sy genade, nie ons verdienste nie. Die eer vir ons verhouding is syne alleen.

Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het! (1 Johannes 4:19, OAV).

 Louis Lourens

Posbus 16738      

Atlasville

1465              

Telefoon (011) 973-3351

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Christelike lewe. Bookmark the permalink.