‘n Lening aan die Here

Loans

‘n Lening aan die Here? As ons na so ‘n gedagte luister, dan staan ons verdwaas.  Die Here is tog onmeetbaar ryk:  die aarde met alles daarop behoort aan die Here.  Dit is tog net iemand wat behoeftig is, iemand wat in ‘n finansiële verknorsing is, of iemand wat iets op skuld wil koop, wat ‘n lening maak.  Ons is tog nie ryker as die Here nie.  Hy het nie nodig om iets by ons te leen nie.  Hoe op aarde is dit moontlik vir ‘n mens om aan God ‘n lening te gee?  Maar ongeag van wat jy van die tema dink:  dit staan tog swart op wit in die Skrif dat ons ‘n lening aan die Here kan maak.  Luister mooi na die volgende Skrifgedeelte:  “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.” (Spr.19:17).

 

Ons dink baie van God en Sy vermoëns, wat natuurlik reg is. God ís almagtig en alwys, en inderdaad behoort alles in die hemel en op aarde aan Hom.  Maar die grote God wat ons dien hou daarvan om deur mense soos ek en jy te werk.  Ons is God se hande.  Ons is Sy rentmeesters.  Ons is geroep en aangestel om God se eiendom te bestuur.  En daarom vertrou God ons met besittings.  Die probleem is dat ons alles wat ons in die hande kry op ons eie rekening aanteken.  En ons tel gereeld op om te sien hoe ons bates aangroei.

 

En nou vra God ‘n lening van my? Hy vra dat ek van my goed vir die armes sal gee.  God staan nie op die straathoeke en brood uitdeel nie.  Hy gee dié voorreg vir jou en my.  En Hy beskou dit as ‘n lening.  Hy onderneem om dit terug te betaal.  Waar en hoe en wanneer?  Ek weet nie.  Kom ons beskou dit as ‘n langtermyn belegging, as ‘n hemelse belegging.  Of beter nog:  kom ons skryf die lening af as ‘n dankoffer!

 

Laat my toe om u uit te daag: jy is God se hande.  Rol nou jou moue op, haal uit jou beursie, en laat God se hande aan die werk kom.

 

Tian de Beer

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Geld. Bookmark the permalink.