Wat leer die Bybel oor engele?

Doctrine of angels

[A] Die aard en die natuur van die engele

 

(1) Die engele is almal geskape wesens

Die engele verskil wesenlik in aard en in natuur met die wese van God, deurdat hulle God se skepsels is, en nie ‘n selfbestaan het nie. Daar is sommige wat dit ontken dat engele geskape wesens is, maar die feit dat hulle God se skepsels is word duidelik in die Skrifte geleer.

 

Daar is sommige teoloë wat reken dat teksgedeeltes soos Gen.2:1; Ps.33:6; Neh.9:6 eerder verwys na die skepping van die hemelse wesens, as bloot net na die skepping van die uitspansel en sterrestelsels.

 

“So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.” (Gen.2:1).  “Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.” (Ps.33:6).  “U alleen is die HERE, Ú het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.” (Neh.9:6).  Toon egter duidelik dat die engele God se geskape wesens is: “Loof Hom, al sy engele, al sy leërskare!………Laat hulle die Naam van die HERE loof; want Hý het bevel gegee – en hulle is geskape.” (Ps.148:2, 5).

 

So word dit ook duidelik volgens Kol.1:16: “Want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.”  Die presiese tyd wanneer hulle geskape is, is egter onseker, maar as ons Gen.2:1 verstaan as die voltooide tydperk van God se skeppingswerk (wat die hemelse leërskares insluit), dan moes dit, volgens sommige se oortuiging, plaasgevind het een of ander tyd gedurende God se skeppingswerke aan die begin.

 

Die vraag is egter: as God die engele geskape het gedurende die skeppingstyd wat Gen.2:1 beskrywe, wanneer sou  Lucifer, wat ‘n aartsengel was, dan in opstand teen God gekom het, uit die hemel gewerp wees, en vir Eva in die tuin van Eden kom verlei het?  Sou dit dan plaasgevind het, een of ander tyd in die middel van die ses dae waarin God alles geskape het?

 

In Job 38:7 het die HERE egter met Job gepraat, en het Hy daar na die engel-wesens verwys dat hulle alrééds geskape was teen die tyd toe God die aarde gegrond het. Job.38:4-7 sê:  “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal? – jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê?  Toe die môresterre saamgejubel en die seuns van God gejuig het?”

 

Hier is ‘n aanduiding dat die engele teenwoordig was tydens die skepping en die grondlegging van die wêreld, en dat hulle gejuig het toe hulle God se skeppingswerke sien. Die ander vraag is:  van wanneer af bestaan die hoogste hemele, nl. die woonplek van God?  Ons weet, volgens die skeppingsverhaal dat die uitspansel, nl. atmosferiese hemele, eers begin bestaan het op die tweede dag, en die sterrestelsels eers op die vierde dag, en blykbaar was die aarde alrééds tot bestaan geroep vóórdat enige iets anders geskape was, die sterre inkluis.  Dit maak dit dus baie moeilik om vas te kan stel wanneer God die engele geskape het, en ook onmoontlik om te kan weet of die hoogste hemel waar God woon, van alle ewigheid af bestaan.

 

Tog weet ons ook dat nie eens die hoogste hemele God kan bevat nie: “Maar wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie….” (2 Kron.2:6).  God kan nie ingeperk word tot ‘n spesifieke spasie nie.  Nie eens die hoogste hemele kan hieraan voldoen nie.  Om die waarheid te sê:  God het nie ‘n hoogste hemel nodig as woning nie, maar indien Hy skepsels sou maak om Hom te kan loof en prys vir Sy ontsagwekkende majesteit, het húlle ‘n hoogste hemel nodig om dit daarin te kan doen.

 

Net God alleen kan alomteenwoordig wees, geen skepsel kan dieselfde wees nie, maar het ‘n spasie nodig waarin hulle dit kan doen. God sou dus nie vir Homself ‘n hemel skep nie, maar Hy sou ‘n hoogste hemel skep waarin die hoogste van Sy skepsels sou kon woon om Hom te aanbid en te vereer.  Ek dink dit sou veilig wees om te sê dat die engele dus geskep was toe God die hoogste hemele geskape het, en wanneer dit was, is onmoontlik om te kan bepaal.

 

Ek is van mening dat dit juis binne hierdie bedeling van engele in die hoogste hemele was waarin Lucifer sy sonde gepleeg het, en uiteindelik uit die hemele gewerp was. Die belangrikste onder hierdie punt is egter dat alle engele geskape wesens is, en nie ‘n gelyke bestaan met God het wat geen begin en geen einde het nie.

 

(2) Die engele is geestelike en onstoflike wesens

Hierdie punt word hoogs bestry deur baie mense. Die Jode en baie van die vroeë Kerkvaders het die engele beskryf as wesens in ‘n glansende en deursigtige tipe liggaamsvorm, of met vurige liggame (Heb.1:7).  Die Kerk tydens die Middeleeue het engele beskrywe as geheel en al geestelike wesens met geen vaste liggaam nie, tog het daar sommiges opgestaan wat van mening was dat dit onmoontlik sou wees om van ‘n skepsel te kan praat wat geen vorm van liggaam het nie.  Hulle het dus ook geglo dat engele ‘n bepaalde spasie nodig het om in te kan beweeg en waartoe hulle beperk is.

 

Ons het egter die Skrifte nodig om vir ons meer hieroor te leer. Toe Jesus duiwels uitgedryf het wat vanuit die engele wêreld kom, was na hulle verwys as “geeste”.

 

“En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ‘n woord uitgedrywe…” (Matt.8:16).

 

“En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander (geeste) slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar…” (Matt.12:43-45).

 

“En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siekte van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.” (Hand.19:11-12).

 

Van die heilige engele van God word daar ook verwys as “geeste”: “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” (Heb.1:14).

 

Geeste het geen vlees en bene nie – “Kyk na My hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.” (Luk.24:39).

 

Die engele is ook onsigbare wesens – (Kol.1:16) verwys na hulle as “onsienlik”.

 

Engele trou ook nie – “Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos die engele van God in die hemel.” (Matt.22:30).  Groot getalle engele kan teenwoordig wees in ‘n baie beperkte spasie:  “Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord Legio – want baie duiwels het in hom ingevaar.” (‘n Legioen bestaan uit ten minste drie duisend voetsoldate, selfs sesduisend seshonderd ses en sestig, en selfs uit twaalfduisend vyfhonderd). (Luk.8:30).  Legio het gewoonlik verwys na menigtes –  u kan uself dus indink hoeveel bose geeste in hierdie man was waaruit Jesus die bose geeste uitgedryf het.

 

Daar word geglo dat wanneer engele wel in ‘n liggaamsvorm aan mense verskyn het, dit nie hulle vaste vorm is nie, maar dat hulle bloot in daardie liggame verskyn het om sigbaar vir die mense te wees (‘n geleentheidsliggaam). Omdat hulle ook skepsels is, is hulle ook beperk en begrens, en kan dus ook net op een plek op ‘n slag wees.

 

(3) Engele is Rasionele, Morele, en Onsterflike wesens

Dit beteken dat hulle almal wesens is met individuele persoonlikhede, wil en intelligensie. Hulle is intelligente wesens:  “…Maar my heer (koning Dawid) is wys soos die wysheid van ‘n engel van God om alles te weet wat op die aarde gebeur.” (2 Sam.14:20).  Matt.24:36 impliseer intelligensie by engele:  “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net My Vader alleen.”  So ook Efes.3:10:  “…sodat nou ook deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word.”

 

1 Pet.1:12 sê: “Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is – dinge waarin die engele begerig is om in te sien.”  En 2 Pet.2:11:  “…terwyl die engele, hoeveel groter in sterkte en krag, geen lasterlike dinge teen hulle by die Here voorbring nie.”

 

Alhoewel hulle nie alwetend is nie, is hulle by verre ons meerdere in kennis en insig. Engele is natuurlik ook morele wesens, is onderworpe aan morele verpligtinge, word beloon vir hulle gehoorsaamheid en hulle word gestraf vir ongehoorsaamheid.  Die Bybel praat van die engele wat getrou gebly het as “heilige engele” (Matt.25:31; Mark.8:38; Luk.9:26; Hand.10;22; Openb.14:10), terwyl die afvallige engele vir die dag van straf in ewige boeie bewaar word:  “En die engele wat hulle eie beginsel nie bewaar het nie, maar hulle eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar..” (Jud.6).

 

Die goeie, of “heilige engele” is ook onsterflik in die sin dat hulle nie aan die dood onderworpe is nie. Dit is ook in hierdie sin dat die heiliges in die hemel hierin aan die engele gelyk is:  “Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is.” ((Luk.20:36).

 

Die engele is met ontsagwekkende krag toegerus, en hulle vorm die weermag van God. Hulle is Sy kragtige helde wat altyd gereed staan om God se wil uit te voer.  “Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat Sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord.” (Ps.103:20).  Die bose engele van Satan wat sý weermag vorm, neig slegs om die werke van God te probeer vernietig (Luk.11:21; 2 Thess.2:9; 1 Pet.5:8).

 

Die heilige engele van God is hulle wat in alles aan God getrou gebly het, die toets deurstaan het, en nie saam met Satan en die ander engele gefaal het nie. Hierdie heilige engele kan nou nooit meer sondig nie, sal nooit aan die dood onderworpe gemaak word nie en sal vir ewig lewe in die teenwoordigheid van God.

 

[B] Die getal en orde van die engele

 

(1) Hulle getal

Daar is geen definitiewe getal van engele wat deur die Bybel aan ons bekend gemaak word nie, behalwe dat die Bybel dit noem dat hulle bestaan uit ‘n magtige leërskare. Hulle word herhaaldelik in die Bybel ‘die hemelse leërskare’ en ‘die leërskare van God’ genoem.  Hierdie terme  spreek van ‘n enorme getal engele.  “Die HERE het gekom van Sinai en vir hulle opgegaan van Seïr af; Hy het in ligglans verskyn van die gebergte Paran en gekom van heilige tienduisende af; aan sy regterhand was vlammende vuur vir hulle.” (Deut.33:2).  “Die waens (chariots) van God is duisende; tienduisende, duisend maal duisende; dit is Sinai in heiligheid.” (Ps.68:18).

 

Ons het alreeds vir u genoem van die besetene van Gadara wie se naam Legio was, vanweë die ontsaglike aantal bose geeste wat in hom ingevaar het (tussen drie duisend en twaalf en ‘n half duisend). In die tuin van Getsémané (Matt.26:53) het Jesus vir Petrus gesê: “Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir my meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?” (d.w.s. as ‘n legioen uit 12,500 bestaan, praat Jesus hier van meer as 150,000 engele).  In Openb.5:11 sê Johannes:  “Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende…”  Hierdie getalle is simbolies, en die simboliek van honderd miljoen, volgens hierdie teks, spreek van ‘n ontelbare aantal engele skare.

 

Dit is dus veilig om te sê dat die aantal engele van God in die hemel ‘n vaste aantal is, maar dat hulle meer is as wat ‘n mens kan tel. Ons noem dit ‘n vaste aantal, omdat die getal engele vir ewig onveranderd bly – hulle trou nie met mekaar nie, en plant nie voort nie.  Elke engel is individueel deur God geskape, en nadat God almal geskape het, word hulle nie weer aangevul nie.  Daar sal vir ewig dieselfde getal engele wees, sedert die val van Satan en sy gevalle engele uit die hemel.  Ook die bose engele kan nie vermeerder nie.  Hierdie bose engele saam met hulle leier, Satan, sal vir ewig in die hel gewerp word.

 

(2) Hulle orde

Alhoewel die engele nie bestaan as ‘n organisme soos die mensheid nie, is daar wel ‘n vorm van organisasie onder hulle. Die benaming ‘engel’ kom as ‘n algemene term voor om as ‘n hemelse wese onderskei te kan word, maar die Bybel verwys tog ook na verskillende klasse van engele wesens in die hemel.

 

As ons byvoorbeeld na die mensdom verwys, dan praat ons bloot in die algemeen van al die menslike wesens, maar binne die mensdom is daar verskillende klasse van mense.  Daar is konings en staatspresidente, daar is werkers en bestuurders, daar is soldate en gewone landsburgers, daar is slawe en vrymense.  Daar is allerhande belangrike en minder belangrike mense, nie in wese nie, maar in range.  Dieselfde met die engele van die hemel:  daar is miljoene talle engele, maar nie almal is dieselfde in rang en funksie nie.

 

Gérubs

Die Gérubs word by menige geleentheid in die Skrifte so genoem. Hulle waak bv. in Gen.3:24 om die toegang tot die boom van die lewe te verhoed:  “So het Hy dan die mens weggedrywe (uit Eden) en gerubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat flam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.’  Daar word verwys na gerubs wat waak oor die versoendeksel van die ark (Exod.25:17-22 asook Ps.80:2, Ps.99:1, Jes.37:16. Heb.9:5).  2 Sam.22:11 en Ps.18:11 noem bv. dat God op ‘n gérub ry en vlieg:  “En Hy het op ‘n gérub bery en gevlieg; ja, Hy het verskyn op die vlerke van die wind.”

 

In Eseg.1 en Openb.4 word hulle beskrywe as wesens wat verskillende lewende wesens verteenwoordig in verskeidenheid van vorme. Al hierdie simboliese verteenwoordigings dien doodeenvoudig die doel om te toon watter buitengewone majesteit en krag hulle het.  Bokant alle ander geskape wesens, fisies en geestelik, is hulle bestem om die krag en majesteit en die heerlikheid van God te openbaar, en om te waak oor die tabernakel, die tempel, en die boom van die lewe, en om deel te hê aan God se neerdalings na die aarde.

 

Uit die aard van hulle funksie, is hulle voortdurend in die onmiddellike teenwoordigheid van God, en kan ons daaruit aflei dat die gerubs van die hoogste range onder die engele wesens in die hemele het. Weereens, ten spyte van hulle hoë rang en die majesteit waarmee God hulle beklee, mag hulle nie aanbid word nie – dit is juis wat Lucifer wou doen, en daarom is hy uit die hemele gewerp (later meer hieroor).

 

Serafs

‘n Soortgelyke klas van engele, is die Serafs, wat slegs in Jes.6:2, 6 by name so genoem word.  Hulle word ook simbolies verteenwoordig in ‘n menslike vorm, maar hulle besit ses vlerke – met twee vlerke bedek hulle hul gesig, met twee hulle voete, en met twee vlieg hulle om met ‘n ongelooflike snelheid God se opdragte onmiddellik uit te voer (Jes.6:2).

 

Die Serafs het die ongelooflike hoë rang om reg rondom die troon van God te wees, en alle toegang daartoe te bewaak, en hulle hele wese is daartoe gerig om God se heiligheid dag en nag te besing, en om Hom wat op die troon sit te loof en te prys: “En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van Sy heerlikheid vol.” (Jes.6:3).  “En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë, en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!” (Openb.5:8).  Dit blyk asof die Serafs die ewige en heerlike roeping het om slegs gemoeid te wees met die lof en die verheerliking van God in Sy ontsagwekkende majesteit.

 

Owerhede, magte, trone en heerskappye

Bo en behalwe die Gérubs en die Serafs, noem die Bybel dat daar onder die engele van God, verdere range bestaan: “Owerhede en magte, trone en heerskappye.” (Efes.3:10, Kol.1:16).  Dit alles spreek van die take en range van engele in die hemele, en dat engele onder die gesag staan van ander engele wat hoër range het as hulle.  Die hemel is ‘n ordelike plek waar engele nie maar net rondhang en niks doen nie.  God se hele bestuur van die hemele word onderverdeel in die range van Sy engele.  Alles word natuurlik gefokus op die verheerliking van God, en hierin het elke engel in die hemel ‘n aandeel.

 

Gabriël en Migael

Hierdie is twee engele wesens wie se name aan ons bekend gemaak word in die Bybel. Gabriël se naam kom voor in Dan.8:16, 9:21 en Luk.1:19, 26.  Uit die aard van Gabriël se verskynings en opdragte van God soos ons dit in die Bybel vind, is hy verantwoordelik met die taak om God se spesiale woord aan die mense te bring en te interpreteer.

 

Ek vermoed dat dit Gabriël was wat aan Johannes die interpretasies gegee het van verskeie gebeure tydens sy visioene op die eiland Patmos in die skrywe van die boek Openbaring, en toe Johannes voor sy voete neergeval het om hom te aanbid: “En dit is ek, Johannes, wat dit gesien en gehoor het; en toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het, Toe sê hy vir my: Moenie! Want ek is ‘n mededienskneg van jou en jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God.” (Openb.22:8-9).

 

Migael word ook genoem in Dan.10:13, 21. Hier verwys die engel Gabriël na Migael as een van die ‘vernaamste vorste’ wat hom kom help het teen die vors van die koninkryk van die Perse.  In Jud.1:9 word genoem dat “Migael, die aartsengel, in woordestryd met die duiwel was oor die liggaam van Moses..”  Ons lees ook in Openb.12:7 dat “Migael en sy engele oorlog gevoer het met die duiwel en sy engele, en dat hulle die duiwel en sy engele neergewerp het op die aarde..”

 

Migael is baie beslis ‘n baie magtige engel, ‘n aartsengel, wat aan die leiding staan van al die engele troepe van God. Hy word een van die ‘vernaamste vorste’ in Dan.10 genoem, wat spreek van die belangrikheid van sy rang onder die engele van God.  Daar mag dus miljoene engele wees wat onder sy gesag staan, en wat op sy opdragte moet reageer.  Migael en sy engele was betrokke in die stryd wat Israel op aarde gevoer het in hulle oorloë teen die vyande van God, en in die inname van die Beloofde Land Kanaän.

 

[C] Die diens of pligte van engele

 

Wat kan ons verstaan as die pligte van engele? Hierdie pligte bestaan hoofsaaklik in hulle lofprysinge aan God, dag en nag.  “Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejubel het.” (Job 38:7). Hier gaan dit oor hulle aanskouing van God se skeppingswerke, en hoe hulle God aanhoudend geloof en geprys het toe hulle sien hoe God se Skeppingswoord alles uit die niet laat voortkom het.

 

Ons as mense word gebore in ‘n wêreld wat alreeds bestaan. Ons word groot met alles wat ons in die sigbare skepping sien.  Maar die engele het gesien hoe iets wat nog nooit bestaan het nie, skielik op God se woord uit die niet te voorskyn kom, en alles was perfek en volmaak.

Dit moes ‘n ongelooflike belewenis vir hulle gewees het – hulle sien dit nie net ontstaan nie, maar hulle sien hoe God se krag en wysheid en verstand daarmee geopenbaar word.  Hier word die ganse leërmagte van die engele betrek in die lofprysinge aan God. “Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare!” (Ps.103:2).  Openb.5:11 verwys na die “stem van baie engele rondom die troon” wat deelneem in die aanbidding en lofprysinge aan God.

 

Hierdie lofprysinge van die engele bestaan nie slegs in hulle motiewe en gedagtes nie, maar hulle loof God letterlik met hulle stemme. So was dit ook gedoen by die geboorte van Jesus Christus toe die engele in ‘n hemelse koor God besing het:  “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” (Luk.2:13-14).  Sedert sonde die wêreld binnegekom het, het God Sy engele gestuur om tot diens te wees aan diegene wat tot die saligheid bestem is:  “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” (Heb.1:14).

 

Die Skrifte leer ons ook dat die engele hulle verheug in die bekering van elke sondaar: “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” (Luk.15:10).  Die engele waak oor die gelowiges:  “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.” (Ps.34:8).  “Want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.” (Ps.91:11).  In Matt.18:10 verwys Jesus nie net na die kindertjies nie, maar beslis na die kinders van God:  “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van My Vader wat in die hemele is.”

 

Engele is ook teenwoordig in die eredienste in die Kerk: “Daarom moet die vrou ‘n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.” (1 Kor.11:10).  In 1Tim.5:21 vermaan die apostel Paulus Timótheüs om nie net ter wille van God en die Here Jesus Christus onpartydig in die bediening in die Kerk te wees nie, maar ook ‘voor die uitverkore engele’.  Hoekom?  Want hulle is saam met God teenwoordig in die gemeente.  Efes.3:10 leer ons ook dat God juis deur die gemeente iets aan die engele bekend maak wat Hom tot lof en eer moet wees:  “Sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word.”  1 Pet.1:12 leer vir ons dat die engele begerig is om te sien hoe God se verlossingsplan deur die evangelie ontplooi word deur die gelowiges:  “Aan hulle (die Ou Testament profete) is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar aan ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is – dinge waarin die engele begerig is om in te sien.”

 

Dit blyk ook uit die getuienis van die Skrif dat dit engele is wat die gelowiges dra na die boesem van Abraham by hulle dood (hemel toe): “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.” (Luk.16:22).  Dit is ook die engele se taak om al die uitverkorenes van God te versamel by die wederkoms van Jesus Christus:  “en dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom met die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” (Matt.24:30-31).

 

Dit is ook die taak van die engele van God om Sy uitverkorenes te verseël op hulle voorhoofde, om hulle uit sonder van die res van die goddelose wêreld wanneer God Sy oordele op die aarde uitstort: “En ek het ‘n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ‘n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.” (Openb.7:2-3).

 

Dit is ook die engele van God wat die basuine blaas, die skale op die aarde uitgooi, en diep betrokke is in God se handelinge met die aarde in Sy oordele. Nadat Jesus Christus vir veertig dae en nagte in die woestyn was en daar gevas het (voordat sy aardse bediening sou begin), en ook daar deur die duiwel versoek was, het engele na Hom gekom en Hom gedien (Matt.4:11).  Al die engele in die hemel staan in diens van God, en hulle is oral betrokke in die hele skepping van God.

 

Hulle is in God se diens in die hemele en hier op die aarde, al sien ons hulle nie fisies nie, is hulle oral rondom ons besig om God se opdragte uit te voer. Ons besef dit nie aldag nie, maar ons is nooit alleen nie – daar is hemelse wesens, miljoene van hulle, aktief betrokke in God se skepping om ons.  Ons is baie geneig om te dink dat dit net die bose geeste is wat om ons is, en dat die duiwel en sy engele die kitaar hier slaan, en dat daar net so nou en dan ‘n engel van God hier teenwoordig is.  Die feit van die saak is egter dat daar baie minder van Satan se engele om ons is as die heilige engele van God.

 

God is alomteenwoordig, en oral waar God teenwoordig is, is daar ontelbare engele van God ook teenwoordig. Ek dink egter dat ons moet verstaan dat die engele van God nooit inmeng in die natuurlike gang van die lewe nie, en dat hulle slegs intree in opdrag van God.  Hulle bring ook geen boodskap uit hulle eie aan mense nie, maar dra slegs die boodskappe van God aan die mense oor.  Hierdie het veral in die Ou Testament plaasgevind, maar nou, in die voleinding van die tyd, noudat God Sy laaste boodskap aan die mensdom in Jesus Christus gebring het (Heb.1:1),  is daar geen spesiale openbaring meer van God af, of van die engele af, totdat die laaste basuin geblaas het nie.  God se boodskap kan vandag slegs gehoor word deur die verkondiging van Sy geskrewe Woord.

 

As jy dus iets van God wil hoor vir jouself, moet jy na die eredienste kom waar Sy Woord verkondig en geleer word. In hierdie sin is die predikant, God se engel of boodskapper deur die interpretasie van Sy Woord (sien Openb.2:1).

Neels Oosthuizen

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Engele en demone. Bookmark the permalink.