Jesus, verslawing en die leemte in jou siel

empty-fuel-tank

Elke mens probeer om die leemte in sy siel met iets te vul. In ‘n poging om sy dors te les, gryp hy na iets om te aanbid.  Paulus sê dat alle vorme van gierigheid afgodery is (Kol.3:5).  Sommige mense aanbid geld (Mt.6:24), terwyl ander kos aanbid (Fil.3:20).  Ander aanbid hulleself, hulle liggame, plesier, nuwe goed, helde, slaap, ontspanning, sport, TV, Facebook, tegnologie, kennis, die natuur, stokperdjies, mense se goedkeuring, pille, drank, sjokolade, werk, musiek, enigiets – die lys is oneindig.  Ons probeer om ons dors met hierdie dinge te les, en hoop dat die afgode ons begeerte sal vervul.

 

Maar dan gebeur die teenoorgestelde: jy word ‘n slaaf van die dinge wat jy aanbid, sodat jy uiteindelik nie meer ‘nee’ kan sê nie.  Jy kom agter dat die afgod ‘n harde meester is wat baie vereis en nooit iets teruggee nie.  Die dwelms wat jy gebruik, die nuwe goed wat jy koop, en die plesiertjies wat jy geniet versadig jou nie finaal nie.  Dit wat vir jou lekker gelyk het trek jou kaal uit en los jou met niks.  Dit vernietig jou gesondheid, jou verhoudings, jou finansies, en uiteindelik ook jou ewige siel.  Maar jy besef dit nie, totdat dit te laat is.

 

En wanneer jy met jou hande in jou hare sit, dan fluister die afgod met sy stink asem in jou oor: ‘Ek weet jy het tot nou toe nie sukses gehad nie, maar dalk moet jy nog net één keer probeer.  Ek is seker jy sal hiérdie keer gelukkig wees.  Een man is nie genoeg nie; vyf mans behoort die ding te doen (Jh.4:18).’  Die afgod flous jou, sodat jy weer in die strik trap.  Jy kom nie agter dat Pd.1:8 waar is nie:  “die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.”

 

Net Jesus kan die leemte in jou siel vul en jou dors les (Jh.4:14). Wanneer sal jy agterkom dat jou gunsteling sonde jou nie gelukkig kan maak nie?  Los die gekraakte drinkbakke van die wêreld – dit kan nie water hou nie (Jer.2:13).  Kom deur geloof en gebed na Jesus toe, en drink gratis uit Golgota se ewige fontein.  Moenie net jou lippe natmaak nie, maar hou aan drink totdat jou siel versadig is met Christus wat jou na die hemel se waterfonteine toe sal lei (Op.7:17).

 

Dalk hét jy al van hierdie water geproe. Jy het dit so geniet dat jy gedurig met die emmer van gebed kom skep het.  Maar intussen het jy van die Herder af weggedwaal om weer uit die stilstaande waterpoele van jou sonde te drink.  Dit het jou siek gemaak.  Dit is glad nie ‘n oordrywing om te sê dat jy maande of jare laas die soetheid van ‘n verhouding met die Here geniet het nie.  Jou dae van vrede en blydskap in Jesus is ‘n vae herinnering, sodat jy saam met Dawid bid om dit weer te ervaar (Ps.51:14).

 

Hoekom kom jy nie vandag terug na die Here toe nie? Hy sal jou met sy hele hart terug ontvang, en is meer as bereid om jou te vergewe.  “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader… Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jk.4:8, 10).  Kom was jou vermoeide siel in die fontein van sy bloed, en drink uit die koel vars strome van sy plesier; die helder waterstrome van Jesus en sy Woord (Ps.36:9).

 

There is a fountain filled with blood

 drawn from Emmanuel’s veins;

 and sinners plunged beneath that flood

 lose all their guilty stains.

The dying thief rejoiced to see

 that fountain in his day;

 and there may I, though vile as he,

 wash all my sins away.

E’er since, by faith, I saw the stream

 thy flowing wounds supply,

 redeeming love has been my theme,

 and shall be till I die.

–William Cowper–

 

Ivor Jefferies

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Afgodery, Verslawing. Bookmark the permalink.