‘n Gelykenis van die wederkoms

kid-and-dog

Ons het onlangs die spanning beleef van ’n gesin (waarby daar ook drie kinders betrokke was) wat verhuis het na ’n ander dorp toe. As jy al getrek het, sal jy sekerlik weet waarvan hier gepraat word: onsekerheid wanneer Pappa alleen iewers heen ry; onmoontlikheid wanneer Mamma nie binne sig is nie; allerhande streke om net aandag te kry – al is dit negatief!

 

Die probleem het begin toe Mamma begin het om allerhande goeters te pak. Skielik het die twee seuntjies sommer baie stouter geword en dingetjies wat die ouers nie as ’n reël sou pla nie, het ’n kwessie geraak!  Elke keer wat iets uit sy kamer verdwyn het, het die 3-jarige meer onseker geraak.  Hy het nie meer vroeg op sy bed gaan lê om self aan die slaap te raak nie.  Skielik moes hy aan die slaap gemaak word.

 

Die kere wat Pa weg is om van die meubels en gepakte bokse te trek na die nuwe huis toe, was Ouboet onmoontlik. Hy het weer van vooraf begin huil wanneer hy kleuterskool toe moes gaan.  Die 18-maande oue Kleinboet wat sy boetie slaafs nagevolg het, het ook ’n handvol geraak.  Hy het alles gedoen wat hy nie moes nie.  Ook hy het nie meer so geredelik aan die slaap geraak nie.  Eers wanneer hy aan die slaap was, het die grootmense in die huis ontdek wat hy alles aangerig het voordat hy gaan slaap het.

 

Die oudste kind van die gesin, ’n dogter van elf, het haar emosies nie so maklik ten toon gestel nie. ’n Mens moes fyn kyk om haar onsekerheid raak te sien.  Sy het dit skynbaar geniet om in Oupa se studeerkamer te slaap.  Na die derde aand in die studeerkamer het ek egter ingespring.  Ons het haar kamer wat vol bokse gepak was, skoon gemaak en daardie aand kon sy weer in haar eie kamer slaap en dit het gehelp!

 

Ma en Pa was ook ongeduldiger as wat goed was vir hulle kroos. Net genade het ons daaraan herinner dat dit die spanning en onsekerheid van die trek was, wat sy tol eis.  Te midde van al hierdie omstandighede was die Here getrou – soos Hy in die Skrif belowe.  Hy het hierdie situasie gebruik om ons meer van Homself te leer.

 

Toe ek dít raaksien, het ek besef dat dit nodig was om die situasie te verduidelik aan die kinders wat verward en deurmekaar was. Dit het my die geleentheid gegee om die Skrif met die kinders – en ook met die betrokke grootmense – te deel:

 

“Moenie huil nie, Pappa het net gou julle beddens en die ander meubels en julle klere gevat om dit by julle nuwe huis te gaan aflaai. Hy kom môre terug.  Hy gaan gou die huis gereed maak sodat julle lekker daar kan bly.  En sodra die huis reg en gereed is vir julle, dan gaan hy weer terugkom om julle te kom haal om daar te gaan bly.

 

“Nét soos julle pappa nou weg is om al die meubels en die bokse te neem na julle nuwe huis om dit te gaan gereed maak, het Jesus opgevaar na die hemel om vir Sy kinders ’n plek te gaan gereed maak. En wanneer daardie huis gereed is, kom Hy weer om ons te kom haal sodat ons vir altyd by Hom kan wees.”

 

Is dit nie wonderlik nie: die Here praat met ons ook in moeilike omstandighede! Ons is herinner aan die dissipels daar op die berg in Markus 16, Lukas 24 en Handelinge 1. Hulle het toegekyk toe Jesus in die hemel opgeneem is en hulle het seker gedink aan Sy woorde aan hulle:

 

“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek.  As dit nie so was nie, sou Ek nie gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.  En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Johannes 14:1-3)

 

Die dissipels moes tóg hartseer gewees het omdat Jesus nie meer fisies by hulle sou wees nie; soos die twee seuntjies wanneer hulle pa weg is om meubels en bokse weg te neem na hulle nuwe huis wat hulle nog nie gesien het nie.

 

Kan ek en jy nie wees soos ’n klein kindjie nie? Kan ons God nie op Sy Woord neem en elke dag uitsien na Sy koms nie?  Sodra hulle hulle pa weer sien, was die kinders gerus.

 

Sodra Jesus ons plek voorberei het, kom Hy weer om ons te kom haal sodat ons vir ewig by Hom kan wees. Ons kan gerus wees in die wete dat Hy weer kom – want Hy het gesê Hy kom weer.

 

’n Ou vriend van ons gesin, ’n baie eenvoudige, ongeleerde man, het elke dag gekyk na die wolke met dié gedagte in sy hart: “Miskien kom Jesus op hierdie een.”

 

Ek en jy het meer rede om uit te sien na die koms van Jesus as wat die drie kinders gehad het om uit te sien na hulle pa se terugkeer. Wanneer Jesus weer kom, kom Hy ons, Sy bruid, haal om vir altyd in heerlikheid by Hom te wees!

 

Sodra my plek gereed is, kom Hy my haal…

 

“Maranata! Kom Here Jesus, ja, kom haastig, Here!”

Anoniem

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Wederkoms. Bookmark the permalink.