Robert Raikes se invloed op jou gemeente

Die Man wat die Sondagskool Begin het[1]

 Deel 1

 robert-raikes

Gloucester was in ongeveer 1780 n.C.’n pragtige ou stad. Die mense was meestal arm.  Die groot middelklas wat in die 20ste eeu tot stand gekom het, was nog ver in die toekoms.  Die lewenstandaard van die armes was uiters laag.  Hulle lewens is gekenmerk deur onwelvoeglike, vuil taal en wreedheid.  Ou lappe en vodde moes hulle teen die elemente beskerm.

 

Die stad met sy katedraal was “vol kerke en vol misdaad”. Van onderrig was daar nie sprake nie (daar was nog geen staatskole nie), en die meerderheid van die bevolking kon nie lees nie.  Die taal van die “ryk” burgers was rof, maar dié van die massas was skokkend.  [Ek het dit beleef so laat as 1976 by ’n sokkerwedstryd in London tussen QPR en Derby County].

 

Die ore van die luisteraars is gepeper met ’n gevloek – selfs onder die kinders wanneer hulle gespeel het. Soos hulle ouer geword het, is die groei van hulle siele belemmer.  Dit het gelyk asof die Christelike Kerk aan die slaap geraak het.

 

Gelukkig was die “gewone” mens egter gereed vir ‘n verandering.  Toe hulle dus stemme vol geestelike aantrekkingskrag hoor roep: “Bekeer jou!” het hulle daarop gereageer.[2] Dit was toe Engeland in die angs van ’n groot morele ontwaking verkeer het, wat die Sondagskool gebore is.

 

Die stigter van die Sondagskole in die stad Gloucester was afkomstig uit ’n ou Yorkshire familie. Hulle geskiedenis kon so ver terug as 1507 nagespoor word.  Die eerste keer wat ons van hierdie familie hoor, was hulle boere wat op Stillingfleet naby York gewoon het.

 

Hulle het gou die boerdery verruil vir handel en hulleself op Kingston-upon-Hull, in daardie tyd ’n belangrike dorp, gaan vestig.  Hulle het uiteindelik skepe besit en het deel gehad aan munisipale sake.

 

Timothy Raikes se oudste seun, Robert, was waarskynlik in York besig met opleiding in die drukkerswese. Hy het uiteindelik verhuis na Gloucester waar hy in vennootskap met ene Mnr. Dicey gegaan het.  Hulle het die koerant, die Gloucester Journal, wat later een van die oudstes in Engeland geword het, begin.

 

In 1722 is Robert getroud met Sarah Niblett. Sy is egter gou oorlede en Robert het weer getrou met Ann Mond.  Na háár dood, ongeveer in 1734-35, is Robert getroud met Mary, die dogter van Rev. Richard Drew.  Robert jnr. was die oudste seun wat uit hierdie derde huwelik van Robert Raikes gebore is.  Hy is op 14 September 1736 gebore in die gemeente van St. Mary de Crypt.  Hy is tien dae na sy geboorte ‘gedoop’.

 

Robert Raikes snr. was ’n energieke man wat konstant die voorkoms van sy koerant verander het. Hy was ’n minsame mens wat gereeld hulp gevra het vir die arme skuldenaars in die tronk.  Hy is in 1757 oorlede op die ouderdom van 68.  Hy het sy weduwee wat hom met twee-en-twintig jaar oorleef het, ’n dogter en vyf seuns agtergelaat.  Soos ek reeds gesê het, was die oudste seun ook Robert.

 

Ons weet baie min van Robert Raikes se ma. Mary Raikes was 25 jaar jonger as haar man.  Sy moes egter ’n goeie huisvrou gewees het, want hy het die bestuur van sy gesin en gesinsake aan haar oorgelaat.  Sy was ’n knap huisvrou.

 

Robert Raikes snr. se dood het nie ’n breuk gebring in die huis nie. Robert, sy seun, was net ouer as een-en-twintig jaar oud toe hy in sy vader se skoene moes volstaan.  Alhoewel die koerant se voorkoms verbeter is, het alles by die koerant soos gewoonlik voortgegaan.  Robert moes sy ma onderhou en moes ook omsien na die onderrig en onderhoud van sy broers en susters.

 

Ons kry verder ook insig in sy ma se karakter as ons hoor dat al haar kinders goed-geleerd en gevestig was in die sameleweing. Robert het nooit weggegaan van haar af nie, maar het by haar gebly totdat sy dood is en langs haar eggenoot te ruste gelê is in die familiegraf.

 

Ons weet nie soveel van Robert Raikes se kinderjare as wat ons graag sou wou weet nie. Ons weet dat hy ’n aantreklike knaap was met ligbruin, krullerige hare, ’n ligte vel en simpatieke blou oë.  Die St. Mary de Crypt Grammar School wat in 1528 begin is, was ’n klipgooi van Robert se ouerhuis af.  Van die mees begaafde jongmense in Gloucester het hulle opgvoeding hier ontvang: onder andere George Whitefield (die aangrypende evangelis) en John Moore, die Aartsbiskop van Kantelberg in 1783.  Die jongeheer Raikes het daar sy opvoeding ontvang, maar het waarskynlik die skool op 14-jarige leeftyd verlaat om ’n vakleerling onder sy pa te word.

 

Mnr. Raikes het homself nooit as “Redakteur” gesien nie, maar wel as die “Drukker” van sy Joernaal.  Jong Robert is van die begin af bestem om sy pa se opvolger te word, dus het hy sy ambag geleer…

 

Robert se opvoeding het die klassieke werke ingesluit. Uitgewers van daardie tyd het die kennis nodig gehad, aangesien die koerante “a display of learning in Latin and Greek quotations” nodig geag het.  Dit sou nie reg wees om Robert Raikes as ’n “great scholar” te sien nie.  Hy was eenvoudig net ’n goed opgevoede jongman, ver bo die gemiddelde burger wat in die ambag gestaan het.

 

Op 3 Desember 1767 is Robert getroud met Anne Trigge. Hy was 31 jaar oud.  Sy bruid was ’n sg. “society lady” wat diegene benede haar op ’n afstand gehou het.  Die huwelik is per spesiale lisensie in die St. James’ Church, Picadilly, voltrek.  Alhoewel daar vele opvallende verskille in die geaardheid van man en vrou was, was daar ’n treffende ooreenkoms tussen hulle: albei het ’n oorvloedige empatie gehad vir mense wat ly en in ellende verkeer.

 

Binne ’n jaar na die dood van sy pa het Robert verhuis na ’n pragtige ou huis in South Gatestraat. Dit was terwyl hy dáár was dat Raikes die idee gekry het om te belê in die lewens van die kinders van Gloucester.  Een venster in die huis het ’n uitsig gehad op Bolt Lane waar die verwaarloosde kinders van die stad gespeel, gestry en baklei het – en taal gebruik het wat te vreeslik was om te herhaal.  Dit was hier, in sy werkkamer, waar Robert waarskynlik die eerste beginsels uitgewerk het waarop die Sondagskool gefundeer is.

[word vervolg]

 

[1] Robert Raikes: the Man who Founded the Sunday School deur J. Henry Harris (Uitgewers: The National Sunday School Union – geen datum).

[2] Stemme soos die van John Wesley en George Whitefield

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie, Sondagskool. Bookmark the permalink.