Sielkundige of geestelike probleme?

question-mark-in-brain

Party mense is in die moeilikheid omdat hulle die fisiese en die sielkundige verwar met die geestelike. Ander doen weer die teenoorgestelde: hulle verwar die geestelike met die fisiese.  Ongeglukkig raak dit al hoe meer gewoon in Christelike kringe.  Ek hanteer nou die neiging om geestelike probleme te vermy deur dit weg te redeneer in terme van die psigologiese of doodgewoon fisiese.  Wat my die meeste verbaas is dat dit algemeen word in die evangeliese afdeling van die Kerk.  Sielkunde en Psigiatrie het die laaste dertig jaar baie gewild geraak onder evangeliese Christene.  Artikels in hierdie rigting het in sekere godsdienstige tydskrifte verskyn en baie mense se denke is in hierdie rigting.  Ek wil die saak illustreer met ’n storie.

 

Ongeveer vyftien jaar gelede het ’n jong man my een Sondagaand na die diens kom sien. Hy was verontrus en bedroef.  “Ek wonder of u my kan help,” het hy gesê.  “Kan u vir my ’n Christen sielkundige aanbeveel?”  “Hoekom het jy ’n sielkundige nodig?” het ek gevra.  Toe vertel hy my sy verhaal.

 

Hy was ’n bakker in die Weste van Engeland. ’n Sendeling was op ’n keer in die dorp op ’n 10-dae sending.  Die jong man het, aangesien hy ’n mooi stem gehad het, die solis geword by die Sending-byeenkomste.  Toe die veldtog verby was, het die evangelis die jong man gevra: “Het jy ooit daaraan gedink om voltyds in die werk in te gaan?  Jy weet, jy het die gawe.”  “Maar ek kan nie praat nie,” het die jongman geantwoord.  “Ag,” het die evangelis gesê, “jy het net ’n bietjie opleiding nodig.  Met ’n stem soos joune sal jy ’n goeie evangelis wees.”  Hy het toe vir die jong man gesê dat hy wel opleiding kon ontvang by ’n kollege wat onlangs spesifiek vir daardie doel begin is.  Hy het aanbeveel dat die jong man soontoe moes gaan.  Die jong man is toe kollege toe.

 

“Ek het binne die eerste week ontdek dat ek dit nooit sou kon doen nie,” het hy vir my gesê. “Ek kon nie die lesings volg nie, en ek is nooit geleer hoe om aantekeninge te maak nie.  Ek is baie jonk uit die skool uit.  Ek kón dit net nie doen nie.”  Toe het hy gedink dat hy nie moes tou opgooi nie, en het dus volgehou.  Teen die tweede week was hy egter redelik seker dat hy besig was om ’n groot fout te maak en dat hy nooit die eksamen sou slaag en ’n evangelis sou word nie.

 

Hy gaan sien toe die Hoof van die Kollege en vertel hom alles. Hy het vir hom gesê dat hy wou bedank en sy vorige werk wou hervat.  Die Hoof het dadelik gesê hy moet ’n sielkundige gaan sien.  Daarom het die jong man my kom sien om te hoor of daar ’n Christen sielkundige is wat ek kon aanbeveel.

 

“My liewe jongman,” het ek gesê, “jy het nie ’n sielkundige nodig nie. Jy moes een gaan sien het toe jy by daardie Kollege ingeskryf het.  Maar jy het nou reeds tot jou sinne gekom.  Gaan terug en gaan werk as ’n bakker en hou aan om jou Christen-getuienis uit te dra soos jy in die verlede gedoen het.”

 

Die Kollege Hoof se raad was egter: “Gaan sien ’n sielkundige.” Hy het gedink die jongman was ongebalanseerd en onstabiel en dat hy verander kon word.  Hy kon nie insien dat die jongman in die eerste plek die verkeerde raad ontvang het nie.  Daar was hoegenaamd geen sielkundige probleem nie.  Dit was bloot ’n kwessie van geestelike begrip; net gesonde verstand.  Die jongman moes nooit die bakkery verlaat het nie.  Dít was sy werk. Hy het daar gehoort.  As bakker was hy, en is hy steeds ’n goeie Christen.

 

Die jongman is huis toe en het onmiddellik ontslae geraak van sy probleme.

 

Vertaal uit pp.214-215 van Martyn Lloyd-Jones se boek,

The Christian Warfare: An Exposition of Ephesians 6:10-18

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Sielkunde. Bookmark the permalink.