Die illusie van luiheid

lazy-man-on-couch

Die luiaard sê: ‘Daar is ’n leeu buitekant; ek kan in die middel van die strate gedood word!’ (Spreuke 22:13). Ek het nie verwag dat Spreuke dít sou sê nie.  Ek sou eerder iets verwag soos: “Die bangbroek sê: ‘Daar is ’n leeu buitekant!  Ek sal in die middel van die strate gedood word!’”  Maar dit sê “luiaard,” nie “bangbroek” nie.  Die sterkste emosie hier is dus luiheid, nie vrees nie.  Maar wat op aarde het luiheid te doen met ’n leeu in die straat?  Ons sê mos nie: “Hierdie man is te lui om te gaan werk, want daar is ’n leeu buite” nie?  Die teenwoordigheid van die leeu het nie luiheid tot gevolg nie, maar vrees!  Wat is dus die punt van hierdie Spreuk?

 

Die hele punt is dat die luiaard denkbeeldige omstandighede skep om die feit dat hy nie sy werk doen nie, te regverdig. Dit skuif dus die fokus van die verdorwenheid van sy luiheid af na die gevaar van die leeu.  Niemand sal dit immers goedkeur dat hy heeldag tuisbly omdat hy lui is nie.

 

Hulle mag egter met hom simpatie hê en sy tuisblyery goedkeur as daar regtig gevaar buite is. Om dus sy luiheid weg te steek en homself te reverdig, lei hy die aandag weg van die waarheid (sy luiheid) na ’n illusie (die leeu).

 

As ons wys wou wees – mense op pad om verstandig te wees – moet ons verstaan hoe ons sondige menseharte en denke werk. Een diep Bybelse insig wat ons moet aanneem, is dat ons harte ons denke uitbuit om dit wat die hart wil hê, te regverdig.  Ons diepste begeertes gaan dus die rasionele funksie van ons denke vooruit en neig die denke om in te sien en só te dink dat die begeertes reg sal lyk!  Dit is ’n illusie om te dink dat die hart neutraal is en neig na koel, redelike waarneming van die waarheid.  Die teendeel is waar.  Ons voel sterk begeertes of vrese in ons harte en dan buig die hart die waarheid of realiteit om die begeertes en vrese te regverdig.

 

Dit is presies wat die luiaard doen. Hy begeer regtig om by die huis te bly en nie te gaan werk nie, maar daar is nie ’n goeie rede vir hom om tuis te bly nie.  En wat doen hy nou?  Probeer hy om sy slegte begeertes te oorkom?  Nee!  Sy lui hart buit sy intellek uit om onrealistiese omstandighede te skep wat sy begeerte kan regverdig.  Hy kan selfs hierdie skepping van sy denke glo.  Misleiding kan oorgaan van morele verdorwenheid na geestelik versteurdheid – van misleiding van ander mense na die misleiding van self.

 

Daarom sê Spreuke 26:16: “Die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe wat verstandig antwoord.” Hoe so?  Maak luiheid mense dan trots?  Nie noodwendig nie.  Maar dit veroorsaak wel dat hulle hul teësit teen enige waarheid wat hulle luiheid sal ontbloot.  As sewe mense dus sê: “Daar is nie ’n leeu in die straat nie,” kan die luiaard nie toegee nie.  Hy moet volhou dat sy eie antwoord reg is, anders word sy luiheid ontmasker.  Daar is ’n leeu in die straat!  En so word die waarheid op die altaar van selfregverdiging geoffer.

 

Dis ’n ou storie. Van Kain (Gen.4:9) af tot by Amerikaanse presidente is die waarheid aan begeerte geoffer.  En die verstand is op ’n slinkse wyse gebruik deur die verdonkerde hart om sy passie weg te steek.  Dit is die punt van Romeine 1:18: daar is mense wat “in ongeregtigheid die waarheid onderdruk.”  Die waarheid word die gyselaar van die sondige verbintenis van die hart.  Die sondige hart gebruik dan die verstand om te verwar en te bedrieg.  Dit is soos Jesus gesê het: “Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.” (Joh.3:20).

 

Wanneer ons die boosheid doen waarvoor ons so lief is, maak dit ons vyandig teenoor die lig van waarheid wat die kwade sal ontmasker en ons sal beroof van die vlugtige plesier daarvan. In hierdie toestand word die verstand ’n vervaardiger van halwe waarhede, dubbelhartighede, drogredenering, ontduiking en leuens – enigiets om die bose begeertes van die hart te beskerm teen ontmaskering en ondergang.

 

Ons is almal daartoe geneig.  Ons enigste hoop is God se veranderende werk in ons harte om ons te bevry van die slawerny van ’n verharde hart wat nuttelose denke tot gevolg het.  Dit is Paulus se diagnose van die “nuttelose denke” en die “verduisterde begrip” – wat gewortel is in die verhardheid van die hart.  “Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie – mense wat verduister is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart” (Ef.4:17-18, klem bygevoeg).  Die worteloorsaak lê in die hart, nie in die verstand nie.  Die denke is verduister en word nutteloos gemaak deur die rebellie van die hart.

 

Dit beteken nie dat liefhebbers van die waarheid moet ophou om die waarheid te praat, te verduidelik en te beskerm nie. Dit beteken wel dat ons moet bid dat God ons harte sal verander sodat hulle die skoonheid van waarheid sal kan sien, en dit sal liefhê – al begin dit met: Daar ís nie ’n leeu in die straat nie, jy’s net lui.

 

Dit is vir hiérdie goddelike werk wat Paulus dankie sê in Romeine 6:17: “Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewe is”. Gehoorsaamheid het uit die hart gekom.  God sy dank!  En as die dank God toekom, laat ons dan tot God bid.  Hy is ons enigste hoop om te ontsnap van ons eie misleiding en ander te red.

 

Vertaal uit John Piper:

Taste and See (pp.27-29)

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Christelike lewe. Bookmark the permalink.