Robert Raikes se invloed op jou gemeente

Die Man wat die Sondagskool Begin het[1]

first-sunday-school

DEEL 2

Die Tronk Hervormer

Robert Raikes het sy familie se “demokratiese instink” geërf. Vandat hy die Gloucester Journal begin redigeer het, was hy altyd aan die kant van die massa.  Sy doelwit was om die mense op te hef en diegene wat hulle direk óf indirek wou verneder in toom te hou.

 

Die koerant het week na week paragrawe bevat wat die aandag vestig op die noodsaaklikheid daarvan om die toestand van die gewone mense te verbeter. Die koerant het protes geblaas teen diegene wat die mense (armes?) tot so ’n mate verwaarloos het, dat hulle krimineel geraak het – en hulle dan ongenadig gestraf het, sonder ’n kans van verlossing.

 

Daar was twee tronke in Gloucester: die tronk van die Graafskap by die Kasteel en die Verbeteringsinrigting. Albei was aaklig.  Vir die gevangenes was hulle die naaste moontlik aan hel op aarde.  Hulle is deur ieder en elk in die stad eenkant toe gestoot as “huise vol pes”.  Die man op straat het byname gehad vir kapelane van die tronke en dit het gewys hoe bekend hulle was met die verskriklike gesig van galgdood.

 

Is dit nie waar dat herhaalde straf sonder verandering uiteindelik die sin vir morele waarde vernietig nie? Robert Raikes was een van die eerste mense in Engeland wat dit waargeneem het en wat op sy waarneming gereageer het.

 

Hy het begin om tronke te besoek; versoeke in die Gloucester Journal gerig vir gevangenes.  Hy het gewys in watter haaglike toestand ’n gemeenskap was wat sulke maatreëls nodig geag het.  Dis nie te betwyfel dat hy die uitslag te danke gehad het aan sy oorlede vader nie.  Sy besoeke aan die tronke het sy simpatie nog verbreed, sy liefdesdiens verdiep en hom nog verder laat nadink oor die toestande.  Hy het gou tot die gevolgtrekking gekom dat ondeug voorkom kan word.  Aangesien ledigheid die duiwel se oorkussing is, en onkunde die oorsaak van dié ondeug onder die massas, het Raikes homself voorgeneem om hierdie onkunde stop te sit.

 

Raikes het begin met die gevangenes in die Verbeteringsinrigting en die Kasteel tronk. Hy het vir die manne en vroue in die tronk gaan lees.  Sodra hy uitgevind het dat daar ’n gevangene is wat kan lees, het hy hom gebruik om vir die ander te lees.  Wanneer ’n gevangene vrygelaat is, het Raikes vir hom werk gesoek.  Tot sy ontsteltenis was die tronkvoël egter erger daaraan toe wanneer hy vrygelaat is.

 

Raikes het vir byna dertig jaar hier gearbei. Hy moes darem seker ’n paar goeie uitslae gesien het, anders sou sy dapperheid hom gefaal het.  Ons betrap Raikes soms waar hy as redakteur van die Gloucester Journal dink (aangesien weinig van sy briewe behoue gebly het, wat dit moeilik maak om sy karakter te ontdek).  Nadat ’n paar armsalige skepsels gehang is vir kleiner diefstalle, het hy geskryf: “How deplorable that society cannot be secured without so great a sacrifice!”

 

Daardie tyd was die mense al so gewoond dat die massas verwaarloos en mishandel word, dat hulle gedink het dat dit ’n goeie ding is dat hulle gehang word (of geslaan word, swak voedsel kry en in onkunde voortleef) en só die gepeupel op hulle plek sit. Raikes was dus nie gewild nie.  Hy is ’n “vyand van die samelewing” genoem omdat hy probeer het om mense ontevrede te maak met hulle lot.  “Bobby Reekes” (Robert Raikes) se idee om hervorming te bring in die tronke is dus deur sy mede-burgers geminag.

 

Oor die jare was daar net een man wat saam met hom gewerk het: Sir George Onesiphorus Paul, die Hoof van die tronk. Hervorming in die tronke het eers begin toe Howard, die groot filantroop vir tronke, op die toneel verskyn het – en dit eers na baie jare van ononderbroke arbeid.  Daar is geen rekord van Raikes se onselfsugtige toewyding nie.

 

Waar het hy dan inspirasie gekry? Die volgende sin wat hy geskryf het, gee vir ons ’n aanduiding:

 

“I am never in so proper a frame of mind,” he says, referring to the Psalms, “as when I am reading or repeating passages from that heavenly composition. They are my chief comfort and consolation when any distress approaches; they furnish the language of thanksgiving when the heart rejoices.”

 

Die Verhaal van die Sondagskool

Raikes was 44 jaar oud toe hy ’n “nuwe eksperiment” uitgevoer het. Vir byna 25 jaar lank het hy die lewe in die tronke en strate van Engeland bestudeer.  Hy het met volwassenes begin – en misluk.  Toe verander hy sy metode.  Hy het begin met die idee dat verdorwenheid voorkom kan word, en het met dieselfde idee gestaak.  Toe hy faal in sy pogings om volwassenes te help, het hy kinders probeer help en baie gou het hy besef dat hy op die regte pad was.

 

Wat was die toestand van die kinders van die werkersklas in 1780? Hoor net wat ’n arm vrou vir Raikes gesê het oor die stand van sake op Sondae:

 

“The street is filled with multitudes of these wretches, who released on that day from employment, spend their time in noise and riot, playing at ‘chuck’, and cursing and swearing….”

 

Dit was nie nuus vir Raikes nie. Dit waarvan sy hom vertel het, het hom eendag afgespeel onder sy kantoorvenster terwyl hy besig was om “proefkopieë” te lees en sy koerant te skryf.  Hy het egter geweet dat nie die kinders of hulle ouers en voorouers, ooit in die Huis van die Here was om Hom te aanbid nie!  Dit was vir hom nutteloos om hom tot sulke ouers te wend.  Selfs George Whitefield het die massas in Gloucester probeer bereik – en gefaal!  Die Wesleys en Howell Harris het oral die harte van mense geraak, maar hier was ’n nuwe veld vir Robert Raikes:  hy sou by die kind begin.

 

Wat was die omstandighede van hierdie kinders? Uiterlik het hulle armsalig gelyk.  In groepe was hulle blink-oog en intelligent; vol pret en plesier en kattekwaad; verwaarloos, vuil, verflenter en vieslik.  Maar in hierdie “verwaarlosing” wat die samelewing behandel het asof hulle net geskik was om gehang te word, was daar ontdekking, kuns, wetenskap, digkuns, taal, onderneming – alles wat nodig is vir die grootste beskawing.  Al wat nodig was, was ontwikkeling.

 

Raikes het vir jare in vertwyfeling na hierdie verwaarloostes gesoek. Terwyl hy oor hierdie dinge nagedink het, het die eenvoudige woordjie “probeer” by hom opgekom.  Ten spyte van teenstand en bespotting wat hy reeds teëgekom het en weinig vordering, sou hy wéér probeer om die mense op te hef!  Hier was ’n sending!

 

Terwyl hierdie idees vorm begin aanneem het, het Raikes op die regte oomblik die regte persoon ontmoet om hom te help. Rev. Thomas Stock, hoof van die Cathedral School het op ’n dag “toevalling” in dieselfde straat as Raikes gestap.  Die twee manne het oor die saak gesels en saam besluit om iets te doen – en hulle het.

 

Hulle het ’n paar arm, maar ordentlike vroue gekry wat kinders op Sondae kon onderrig. Daarna het hulle ’n paar ouers in die krotbuurtes van die stad besoek en hulle oorreed om hulle kinders na hierdie goeie vroue te stuur eerder as om hulle in die strate los te laat om kattekwaad aan te vang.

 

Die vroue is ’n sjieling per week betaal, plus ekstra vir steenkool in die winter. Ek glo nie dat Raikes en Rev. Thomas Stock besef het dat hulle daar die fondasie gelê het vir ’n instelling wat land- en wêreldwyd sou groei nie.

 

Ek moet iets sê oor Rev. Stock. Hy speel nie ’n pertinente rol in die ontwikkeling en organisering van die Sondagskool nie, maar hy moet eer ontvang vir sy hulp en morele ondersteuning voordat die idee bekend wêreld-wyd geraak het.

 

(word vervolg)

 

[1] Robert Raikes: the Man who Founded the Sunday School deur J. Henry Harris (Uitgewers: The National Sunday School Union – geen datum).

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie, Sondagskool. Bookmark the permalink.