Robert Raikes se invloed op jou gemeente

Die Man wat die Sondagskool Begin het[1]

Robert Raikes

DEEL 3

Robert Raikes was 44 jaar oud toe hy ’n “nuwe eksperiment” uitgevoer het.

Vir byna 25 jaar lank het hy die lewe in die tronke en strate van Engeland bestudeer.  Hy het met volwassenes begin – en misluk.  Toe verander hy sy metode.  Hy het begin met die idee dat verdorwenheid voorkom kan word, en het met dieselfde idee gestaak.  Toe hy faal in sy pogings om volwassene te help, het hy kinders probeer help en baie gou het hy besef dat hy op die regte pad was.

 

Wat was die toestand van die kinders van die werkersklas in 1780?  Hoor net wat ’n arm vrou vir Raikes gesê het oor die stand van sake op Sondae:

 

“The street is filled with multitudes of these wretches, who released on that day from employment, spend their time in noise and riot, playing at ‘chuck’, and cursing and swearing….”

 

Dit was nie nuus vir Raikes nie.  Dit waarvan sy hom vertel het, het hom eendag afgespeel onder sy kantoorvenster terwyl hy besig was om “proefkopieë” te lees en sy koerant te skryf.  Hy het egter geweet dat nòg die kinders, nòg hulle ouers en voorouers ooit in die Huis van die Here was om Hom te aanbid nie.  Dit was vir hom nutteloos om hom tot sulke ouers te wend.  Selfs George Whitefield het die massas in Gloucester probeer bereik – en gefaal!  Die Wesleys en Howell Harris het oral die harte van mense geraak, maar hier was ’n nuwe veld vir Robert Raikes: hy sou by die kind begin.

 

Wat was die omstandighede van hierdie kinders?  Uiterlik het hulle armsalig gelyk.  In groepe was hulle blink-oog en intelligent; vol pret en plesier en kattekwaad; verwaarloos, vuil, verflenter en vieslik.  Maar in hierdie “verwaarlosing” wat die samelewing behandel het asof hulle net geskik was om gehang te word, was daar ontdekking, kuns, wetenskap, digkuns, taal, onderneming – alles wat nodig is vir die grootste beskawing.  Al wat nodig was, was ontwikkeling.

 

Raikes het vir jare in vertwyfeling na hierdie verwaarloostes gesoek.  Terwyl hy oor hierdie dinge nagedink het, het die eenvoudige woordjie “probeer” by hom opgekom.  Ten spyte van teenstand en bespotting wat hy reeds teengekom het en weinig vordering, sou hy wéér probeer om die mense op te hef.  Hier was ’n sending.

 

Terwyl hierdie idees vorm begin aanneem het, het Raikes op die regte oomblik die regte persoon ontmoet om hom te help.  Rev. Thomas Stock, hoof van die Cathedral School het op ’n dag “toevalling” in dieselfde straat as Raikes gestap.  Die twee manne het oor die saak gesels en saam besluit om iets te doen – en hulle het.

Hulle het ’n paar arm, maar ordentlike vroue gekry wat kinders op Sondae kon onderrig.  Daarna het hulle ’n paar ouers in die krotbuurtes van die stand besoek en hulle oorreed om hulle kinders na hierdie goeie vroue te stuur eerder as om hulle in die strate los te laat om kattekwaad aan te vang.

 

Die vroue is ’n sjieling per week betaal, plus ekstra vir steenkool in die winter.  Ek glo nie dat Raikes en Rev. Thomas Stock besef het dat hulle daar die fondasie gelê het vir ’n instelling wat land- en wêreldwyd sou groei nie.

 

Ek moet iets sê oor Rev. Stock.  Hy speel nie ’n pertinente rol in die ontwikkeling en organisering van die Sondagskool nie, maar hy moet eer ontvang vir sy hulp en morele ondersteuning voordat die idee bekend wêreld-wyd geraak het.

 

Robert Raikes en twee ander manne het tussen 1780 en 1783 sewe of agt Sondagskole begin.  Aanvanklik was daar net seuns in die Sondagskole, maar na ’n ruk is dogters ook toegelaat.  Moontlik het hulle broers se skoon gesigte, netjies gekamde hare, skoon klere (wat vir hulle gegee is) en blink skoene hulle getrek.  Dus was dit deels nuuskierigheid en deels ydelheid wat die meisies getrek het.  Hulle is nie toegang geweier nie.

 

Die kinders (voorheen regte smeerlappe) het ’n nuwe atmosfeer aangedra na hulle smerige huise toe.  Daar is selfs ’n tipe hervorming in die ouers van hierdie kinders begin.  Diegene wat die verwikkelinge dopgehou het, was verwonderd hieroor.

 

Op 3 November 1783 het Raikes die uitslag van ’n paar van sy pogings bekend gemaak.  Dié dag was dubbel geseënd: Raikes se eie seun is gebore.  Hy het hom in ’n brief “lieflik” genoem.

 

Die sukses van die skema was onmiddellik.  Oral was goeie mense die idee van nuwe lewe “being breathed into the masses” goedgesind.  Hulle het nie geweet wat hulle te doen staan nie, en het dus aan Raikes geskryf om te vra vir inligting.  Raikes het ’n antwoord gepubliseer in die Gentleman’s Magazine waarvan oral afskrifte gemaak is.

 

William Wilberforce, later bekend vir sy rol in die afskaffing van slawehandel, het Mev. Hannah More aangemoedig “to take in hand the savages of (the town of) Cheddar”, in die Somerset Graafskap.  John Wesley (ongeveer 80 jaar oud), wat Robert Raikes geken het, het vlamgevat: as dit enigsins moontlik was, was daar oral waar daar ’n Methodistekerk was,’n Sondagskool.  Hy het besef dat die kind die erfgenaam was, en dat die kerk gebou word wanneer die kind gewen word.

 

Raikes was nie net op Sondae ’n Sondagskoolonderwyser nie.  Waar hy ookal met kinders te doen gekry het, het hy hulle geleer.  Hy was gereed om te onderrig – en sy hart was in sy werk!

Een oggend was die evangelie vir die dag Lukas 17.  Raikes vertel wat gebeur het:

“’Who can tell met,’ says I, ‘what we are to understand by that expression, “the kingdom of God is within you”?’  They were all silent for some minutes.  At last the boy who was reading, said, ‘I believe it means when the Spirit of God is in our hearts.’”

 

Die antwoord het Raikes verheug.

 

Natuurlik was daar diegene wat Raikes teëgegaan het.  In Gloucester, sy eie stad, het hy groot teenkanting ondervind (vgl. wat in Nasaret gebeur het in Lukas 4:14-30).  Die vooroordeel oor die onderrig van die kinders van armes het vinnig toegeneem.  William Pitt het beoog om dit staatskwessie te maak in die Parlement.  Hy wou wetgewing inbring wat Sondagskole sou onderdruk.

 

Die welbekende Rowland Hill het egter ’n preek gelewer wat ook bekend sou word: Apology[2] for Sunday Schools.  Die gevolg was dat Robert Raikes se Sondagskole uit “’n klein mosterdsaadjie” gegroei het om baie lande met sy skaduwee te bereik.

 

’n Ou man van vyf-en-sestig het gesê: “People may say what they like, but Robert Raikes seemed quite angelic as he walked through the streets of Gloucester – there was no one like him.”

 

Vele kinders het Christelike waardes in ’n Sondagskool geleer; sommige is gered.  God het Robert Raikes van Gloucester gebruik om dit te laat gebeur: “Soli Deo Gloria.”

 

Nou kan ek en jy onsself gerus die volgende vraag afvra:  Doen ek as Christen my plig om my kinders in die weë van die Here groot te maak?  Of laat ons die plig oor aan die Sondagskool?  Onthou: die Sondagskool is nie die ideaal nie, maar as die ouers hulle plig versuim, kan die Sondagskool help om die kind te vorm.

 

[1] Apology beteken hier “verdedig”

[2] Robert Raikes: the Man who Founded the Sunday School deur J. Henry Harris (Uitgewers: The National Sunday School Union – geen datum).

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie, Sondagskool. Bookmark the permalink.