God se beheer oor die siklone in Amerika

Hurricane Irma

In Job 26:2-4 is Job aan die woord.  Hy praat eers met Bildad in antwoord op wat hy vir Job te sê gehad het.  Die opskrif van verse 5-14 in die 1983-Afrikaanse Vertaling is Wie verstaan die dade van God?

 

5 “Dié wat reeds dood is, bewe, die doderyk en al sy bewoners.  6Die plek van die dood lê oop voor God, niks bedek die doderyk vir Hom nie.  7 God sprei die hemel uit oor die leë ruimte, Hy laat die aarde hang waar niks is nie.  8Hy versamel die water in die wolke, en hulle skeur nie onder die las nie.  9Hy bedek sy troon, Hy sprei wolke daaroor uit.  10 Hy plaas die horison op die see, ‘n grens tussen lig en donker.  11 Die pilare van die hemel skud, hulle sidder vir sy dreigende woede.  12Deur sy krag bring Hy die see tot rus, deur sy insig verpletter Hy vir Rahab!  13Met die wind waai Hy die lug skoon, met sy krag deurboor Hy die seemonster.  14 Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde. Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan?”

 

Daar is niemand wat met God vergelyk kan word nie.  Hy alleen is God.  Dit is Hy wat alles geskep het wat geskape is.

 

Die wêreld het die afgelope paar weke dít gesien waarvan Job in vers 11 praat.  Ons kan beeld materiaal sien waarin God se Almag duidelik sigbaar is.  Hý het die hemel geskud.  Die Ou Vertaling sê: “Die pilare van die hemel wankel en staan verstom weens sy dreiging.”  En het ons nie verstom gestaan voor die woede van die storm nie?  Dit was ongelooflik.  Wie van ons het ooit kon dink dat die stormwind sóveel geweld ten toon kan stel?

Orkane Harvey, Irma en Jose het die afgelope paar weke amok gemaak op die eilande in die Atlantiese Oseaan en aan die Ooskus van die VSA (veral in Florida) en die kus van Mexico.  Nóg ’n orkaan, Maria, het kort op Jose se hakke gevolg.

Ons het met ons “eie oë” op internet, die TV, ens. gesien hoe hierdie magtige winde geboue platvee, die see opdroog by die Bahamas en op ander plekke die see toelaat om die grense wat vir hom gestel is, oor te steek!  Dit is skrikwekkend om te sien hoe wind groot Boeings oplig en die lug in gooi!  En dan word die wind deur ’n onsigbare hand opgelig en raak alles stil… (kyk Job 26:12) en waai Hy die lig skoon (v. 13).

Ons kan saam met Job die Here loof, want “Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde.” (26:14a).

 

Ons dien ’n wonderlike, Almagtige God!

Anoniem

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in God, Nuusbrokkies. Bookmark the permalink.