William Gordon: Verlate, Beproef, Getreiter

Writing letter with feather

In die ou kerkhof in Glassford naby Glasgow, staan daar ’n monument van meer as sewe voet hoog.  Hierdie gedenkteken dui die plek aan waar ’n paar bang ‘Covenanters’, vlugtelinge van die rampspoedige nederlaag by Bothwell Bridge in 1670, William Gordon van Earlston se oorskot begrawe het.  Die koning se dragonders het Gordon genadeloos geskiet en so is hy uiteindelik bevry uit die tronk van sy lyding om die suiwer lug van die hemel binne te gaan.  Intussen het die dragonders op hulle perde gespring en weggejaag op hulle moorddadige pad, sonder om hulle verder aan Gordon te steur.

 

Dit was net soos Samuel Rutherford 42 jaar tevore aan William Gordon, toe ’n blote tiener, geskryf het: “So is dit met die Here se hoopvolle prisoniers: maande en jare sal geleidelik een na die ander klippie van hierdie modderhut uitgrawe totdat daar mettertyd ’n redelike groot deur is waardeur die gevange siel uitgestuur kan word na die vry lug van die hemel.”

 

William was Alexander Gordon van Earlston se oudste seun.  Hy was vroeg reeds in die leerskool van vervolging om Christus ontwil.  Hy was ’n waardige seun vir sy pa.  Die vier briewe wat sy pa in 1637 aan hom geskryf het, getuig van die geestelike ywer van hierdie jongman, en van die diepte van sy Christelike ervaring reeds op so ’n jong leeftyd.

 

Christene wat in tye ver verwyder van die sewentiende eeu leef, mag dalk dink dat ’n lewe van vervolging eerder die uitsondering was as die reël.  Dit was egter nie altyd so nie.  Samuel Rutherford het aan William geskryf: “Ek is oortuig daarvan dat dit deel is van die hoof doel van ons lewe … om vir ’n tyd lank hier tussen ons vyande te bly.  As dit nie so was nie, sou Hy mos die hemel op ons laat wag het by ons geboorte en ons gedra het na ons tuisland, sonder dat ons eens ’n voet gesit het in hierdie verwarde, doring-besaaide lewe!”  Hierdie mense het ’n lewe van lyding verwag, en het met reikhalsende verlange uitgesien na ’n beter wêreld.  “O dag, skone dag, O ewige somerdag, breek glinsterend aan!  Breek uit onder die donker nag en skitter!”

 

So ’n brief moes naderhand verflenterd en verslete geraak het van al die oor-en-oor lees daarvan wanneer William Gordon ongegronde teistering en voortdurende beproewing moes deurmaak.  Sy naam verskyn weer en weer in dokumente van daardie tyd: eers op een aanklag, dan op ’n ander, maar altyd oor kwessies waar kompromie ’n miskenning sou beteken van die Reformasie waarhede wat van pa na seun aangegee is, en wat deur elk van die Gordons van Earlston persoonlik toegeëien is.

 

Gabriel Semple was een van die vroeë predikers van die Verbondstoelogie wat in die veld begin preek het nadat die Wet van 1663, bekend as die ‘Bishop’s Drag-Net’, wat geheime samekomste of samekomste in die veld verbied het, uitgevaardig is.  Dit is hy wat dikwels na die Woods of Airds gekom, en daar, versteek deur die digte plantegroei, gepreek het vir gemeentes wat gretig en aandagtig geluister het.  Iemand het egter gaan nuus dra oor hierdie onwettige samekomste.  Dit was William Gordon wat die skerp slag van vervolging gevoel het, omdat hy geweier het om gehoor te gee aan die Raad se eis dat hy nie sulke vergaderings moes bywoon, of toelaat dat dit op sy grond gehou word nie.  ’n Swaar boete het gevolg tesame met ’n bevel van verbanning.  Alhoewel William waarskynlik nie lank uit die land was nie, moes hy verseker gaan skuil het.

 

Hy en sy gesin het ’n klein skuiling gebou.  Wanneer die koning se dragonders hulle kom soek het, het hulle hierheen ontsnap.  Soms, wanneer hulle nie betyds gewaarsku is nie, moes die beblaarde takke van ’n vriendelike eikeboom naby die huis ’n vinnige skuilplek bied.  ’n Ou knoesterige eikeboom, verweer deur ouderdom en storms, en  waarskynlik die einste boom, is steeds te sien nie ver van die kasteel af nie.  Die gesin se huis is uiteindelik in 1667 geplunder en verander in ’n garnisoen vir die koning se roofbendes.  Hiervandaan het die berugte Sir William Bannantyne sy wrede klopjagte op die onskuldige landvolk van Galloway gelei.  Hy is hulle geïntimideer, beroof en selfs by tye gemartel.  Waar William Gordon en sy gesin gedurende hierdie tyd geskuil het, is nie bekend nie.  Dalk het die donker, klam wegkruipplek in die woud ’n meer permanente skuiling geword.  Alhoewel daar waarskynlik menige soektogte moes gewees het, is die skuiling nooit gevind nie.

 

Niks behalwe ’n geloof soos William Gordon s’n, geanker in die waarhede van die Skrif en deur God Self onuitwisbaar geskryf op die hart, kon enigeen instaat gestel het om met sulke onwankelbare moed toe te sien hoe sy eiendom verniel word nie.  Dit was hierdie geloof wat Samuel Rutherford in die vroeë jare aangetrokke gemaak het tot hom en die uitgeweke prediker instaat gestel het om te sê: “Ek het jou brief ontvang en dit het my siel verkwik.”

 

Die vriendskap en besorgdheid wat deur die ouer man bewys is, moes ’n bron van krag gewees het in die donker, verontruste dae van Gordon se lewe.  Sy briewe is vol van sy ontdekkings van Christus se goedheid aan dié wat geroep is om om Christus ontwil te ly: “Hoe soet is die kruis van my Here nie!  Die seën van God op die kruis van my Here Jesus!  My vyande het bygedra (sonder dat hulle beplan het) om my geseënd te laat wees.  Dit is my paleis, nie my tronk nie.”  En verder: “Kom tog alle kruise.  Welkom, welkom! sodat my hart kan vol word van my Here Jesus.”

 

Die ongewone opregtheid waarmee Rutherford instaat was om sy geestelike ervarings met ’n man baie jonger as hyself te deel, straal uit die vier briewe wat hy aan William geskryf het.  “Nee wat, ek was voorheen regtig ’n kind … Ek wens ek kon in alle erns ’n Christen wees … Maar die waarheid is, buiten vir my hartseer, skuld Christus my niks, want vertroosting het my siel verfris.”  Verder in dieselfde brief bely hy: “Ek het nooit gedink dat dit so moeilik is om dood te wees vir my begeertes en vir die wêreld nie.”

 

Sulke eerlikheid moes ’n jong Christen wat gesukkel het met sy tekortkominge, maar wat steeds begeer het om Christus se teenwoordigheid te belewe, bemoedig het.  Daar is skaars ’n meer insigryke tog opbeurende brief in die hele versameling as die een aan William Gordon, gedateer 16 Junie 1637.  Nadat hy sy korrespondent gewaarsku het oor die geestelike gevare van jeugdigheid, laai Rutherford hierdie brief met raad, troos en aansporing.  Dit sou lyk asof Gordon ’n brief vol geestelike klagtes en probleme geskryf het, en dat Rutherford hulle geduldig en metodies een vir een hanteer, en met ’n bietjie humor byvoeg: “Iemand wat sy saak kan stel en só ’n brief soos wat hy Aberdeen toe gestuur het, hemel toe kan stuur, sal waarskynlik daarmee ook suksesvol wees by Christus.”

 

Sondige gedagtes, ’n besef van onwaardigheid wat lei tot die verlies van versekering, die wegsteek van Christus se gesig en die onderskeid tussen regverdigmaking en heiligmaking word sorgvuldig beantwoord met Skriftuurlike argumentering.  “Al Christus se goeie kinders gaan hemel toe met letsels aan die kop, en met ’n krom been en al,” het Rutherford geskryf.  Hierdie brief het van William Gordon se tyd af verligting gebring aan menige angstige gelowige.

 

“O, as ons geloof net op die hoë, trotse branders en winde kon ry wanneer die see lyk asof dit aan die brand is!”  Rutherford het vir William Gordon geskryf, want hy het geweet dat sy eie lyding maar net die begin was van die smarte vir Christene in Skotland.  Dit was net omdat Gordon se geloof stewig geanker was in die Rots dat dit die storm deurstaan het.  Teen 1679 het agtien jaar van genadelose vervolging ’n groot deel van die kerk van Jesus Christus in Skotland verwoes.  ’n Verstrooide, lydende oorblyfsel het desperate pogings aangewend om die tiranniese juk van verdrukking af te gooi.  Die Slag van Bothwell Bridge was moontlik een van die hartseerste tonele wat afgespeel het in die annale van die geskiedenis van daardie era vol beroeringe.  Die verhale van heldhaftigheid, gekoppel aan tragedie toe ’n verdeelde leierskap onder die ‘Covenanters’, die trompette met onsekerheid laat klink het, kan die lesers net vul met jammerte en hartseer.  Dit was nuttelose weerstand, gedoem tot onheil en het gelei tot ’n toename in die lyding van die ‘Covenanters’, aangesien wrede vergeldings gevolg het op hulle skandelike nederlaag.  Dalk het William Gordon aangevoel dat hierdie veldslag sy laaste was.  Hy het sy seun, Alexander, vooruit gestuur saam met die ‘Covenanters’ se magte terwyl hyself eers sy sake in orde gekry en later gevolg het.  Alexander het ter nouernood aan die dood ontkom deur vinnig ’n boerin se klere te leen en haar baba se bedjie te wieg terwyl woedende dragonders verby gestorm het en al die ongelukkiges op die veg front, doodgemaak het.  William het Bothwell Bridge nooit bereik nie, want toe hy naderkom, moes vlugtende ‘Covenanters’ vir hom gesê het dat alles verby was.  So is hy dood waar die dragonders hom gekry het en hom sonder genade geskiet en sy liggaam in ’n sloot ingeskop het.  Daar het ’n man gesterf wat deur John Howie beskryf is met die woorde: “’n ware heer van goeie karakter en talente; aan godsdiens en godsvrug toegewy … ’n a patriot, goeie Christen, geloofsgetuie en, kan ek byvoeg, ’n martelaar vir Jesus Christus.”

 

Dit is goed dat hierdie ‘Covenanters’ met vertroue kon uitsien na ’n beter wêreld, want hulle vroeëre lot was een van voortdurende veragtering, verlies, onregverdigheid en pyn. “ons water is so vlak dat dit nie eens tot by ons kenne kom nie; laat nie eens ons asemhaling ophou nie.  Ek mag dalk droë land sien (as ek oë by Christus sou leen), en dit is naby,”  het Samuel Rutherford lank terug aan William Gordon geskryf, en voort gegaan: “Waarom sou ons dan nie lag oor teenspoed en ons nuutgebore en reeds-sterwende versoekings nie?”

 

So het William Gordon se deur-storm-verslingerde vaartuig uiteindelik daardie “droë land” bereik.  Hy kon nou daardie vreugdes geniet wat Rutherford lank tevore verwag het, terwyl hy verby die tydelike dinge gekyk het na die ewigheid.  “O, skoonste onder die mensekinders, hoekom talm U so lank?  O hemele, jaag; tyd, maak gou, maak gou en bespoedig die huweliksdag! want liefde word getart deur vertragings … O geseënde geeste wat nou Sy gesig sien, verheerlik Hom! want as julle jul harpe verslyt het om Hom te vereer, is dit te min, nee niks, om die geur van lofsange oor daardie skoonste Blom, die Roos van Sharon, oor die lande te verstrooi nie.”

 

Vertaal uit:

Samuel Rutherford and his Friends, hfst. 9

deur Faith Cook

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Biografie, Geskiedenis. Bookmark the permalink.