Daniël Johannes Odendaal: ’n Huldeblyk

Gebore 15 November 1932, oorlede 1 Februarie 2018

Cornelia Vrystaat

“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie!”

(Johannes 11:25-26).

Dit het ons Almagtige God – die God en Vader van ons Here Jesus Christus wat lewe gee en neem volgens Sy soewereine wil – behaag om Daniël Johannes Odendaal op 1 Februarie 2018 van ons weg te neem.  Al is ons hartseer dank ons ons Verlosser (en ook sý Verlosser) vir ’n lewe wat aan ons geleen is.  Ons is egter ook opgewonde en sien uit na Jesus se Wederkoms op die wolke van die hemel.

 

(Van al die kinders, agt kleinkinders en vyf agterkleinkinders, ’n broer, ander familie en vriende, asook broers en susters uit talle gemeentes).

 

Daniël Johannes Odendaal is op 15 November 1932 op die plaas Inhoek in die distrik Vrede gebore.  Hy was die derde kind van Willem en Sannie Odendaal.  Daan, soos almal hom genoem het, het in ’n Godvresende huis grootgeword.  Tydens sy laerskool jare het hy vir ’n tyd by sy ouma skoolgegaan op die familieplaas Kalkoenkrans.  Sy kinderjare was gelukkig en as 10-jarige het hy die Here Jesus as sy Verlosser en Here ontmoet.  Hy is kort daarna gedoop.  Hy het in 1949 aan die Hoërskool Vrede gematrikuleer en is daarna plaas toe om sy pa, wat toe gesukkel het met sy gesondheid, by te staan met die boerdery.

 

Op 28 Mei 1955 tree Daan Odendaal in die huwelik met Annie Susan van den Heever. Die huwelik het 57 jaar geduur tot en met Tannie Anne se afsterwe.  Uit hierdie huwelik is drie kinders gebore: Johann, Daan jnr. en Anzette.  Oom Daan en Tannie Anne het vir meer as 40 jaar op sy geboorteplaas geboer voordat hy afgetree en ’n aantal jare in Villiers gewoon het.  Hy was ’n eerlike, Godvresende en hardwerkende man.  Op sy plaas het hy van die begin af  gelei: hy het nooit opdragte gegee sonder om self betrokke te wees nie.

 

In al die jare van sy lewe het ons hom nooit met iemand hoor lelik praat nie.  Van die plaaswerkers wat saam met hom begin het, het saam met hom afgetree.  Sy menseverhoudings was altyd mooi en iets om na te volg.

 

Oom Daan was ’n gewaardeerde deel van die Cornelia boerdery-gemeenskap.  Hy het stil-stil sy gang gegaan en saam met sy vrou hulle kinders in die vrees van die Here grootgemaak.  Hy het baie opofferings gemaak vir almal om hom en veral sy optrede teenoor sy ouers was vir ons mooi om te sien.  As lidmate van die gemeente te Cornelia en later in Frankfort, het Oom Daan en Tannie Anne altyd meer gedoen as wat van hulle gevra is. Paasfees konferensies was die hoogtepunt van ons jaar.  Oom Daan en Tannie Anne het ook hier baie sterk leiding geneem d.m.v. die praktiese dienswerk en die organisasie van kos en verblyf.  Tannie Anne het die sang begelei.  Dit was wonderlik.

 

Oom Daan se kinders het hom nooit hoor kla nie, en hulle het nooit ’n erediens gemis vir onbenullighede nie.  Hulle moes altyd 20 minute voor die tyd sit en “stil word voor die Here.”  Hulle het hom geniet.  Hulle het saam met hom op die plaas rondgestap en perd gery.  Hy het sy kinders leer skiet en om met hulle hande te werk.  Die kinders het koeie gemelk en in die winter skaap en bees geslag.  ’n Mens onthou nou nog die reuse biltonge wat gehang het om droog te word.

 

Die gesin het saam vleis gebraai met droë mieliestronke.  Die droëwors het altyd voor die tyd sommerso van die draad geval tot in sy hand, doelbewus, maar om te geniet.  Hy het altyd probeer om al sy kinders se sportbyeenkomste by te woon. Naweke met die kinders by die huis van die koshuis af, het heel dikwels op Vrydagaande in ’n stoeigeveg in hulle slaapkamer geëindig.  Oom Daan was lief vir sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders; sy fyn humorsin het gelei tot groot vermaak van almal.

 

Daan Odendaal het as volwassene nooit een dag begin sonder om uit sy Bybel te lees en te bid nie.  Naweke en skoolvakansies is elke dag afgesluit met Skriflesing en gebed. Wat ’n voorbeeld was hy nie!   Hy was iemand met ’n leerbare gees.  Hy wou altyd weet wat elke vers beteken en hoe om elkeen te interpreteer.  Oom Daan wou nooit ’n oorlas wees nie en was in alles dankbaar.  Sy grootste nalatenskap was ’n les wat hy vroeg in sy lewe geleer en eendag met sy kind gedeel het: “Wees tevrede met wat jy het, dien die Here en krap jou eie potjie; selfs al val sy boom uit!”

 

Oom Daan se laaste jare op aarde was stil, maar vrugbaar.  Hy het met mense gepraat oor Jesus.  Hy het vir mense gebid en teenoor hulle getuig van die liefde van die Here.  Selfs in sy lyding met die kanker het hy vir die mense by die Onkologie hospitaal traktaatjies uitgedeel en vir hulle gebid.  Sy grootste dankbaarheid was sy laaste jaar as lidmaat van die Antipas Gereformeerde Baptistekerk waar hy weer in Afrikaans die boodskap van Christus se versoening kon hoor, glo en verstaan.

 

Saam met sy familie loof ons die Here vir Oom Daan se nalatenskap en sy geloof in Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis.

 

Hierdie man het ons gewys wat dit beteken om jou vrou getrou lief te hê tot die einde. As pa het Daan Odendaal sy kinders aan die Here voorgestel en hulle liefgehad.  As ouer was hy een wat deur dik en dun by sy beginsels gestaan het.  As lidmaat van die Kerk van Jesus was hy bekend vir sy getrouheid en volharding tot die einde toe.

 

Daniël Johannes Odendaal is ‘n Christen as geken aan sy navolging van Jesus Christus, sodat ons kan sê – Soli Deo Gloria!

 

Johann Odendaal

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Huldeblyk, Uncategorized. Bookmark the permalink.