Die relevansie van Kerkgeskiedenis

Deel 1

Church history

Hoe definieer ons Kerkgeskiedenis? Is dit nodig om dit te doen? Ek glo dat dit beslis nodig is.  Jy sien, geskiedenis is niks anders nie as die hand van God, die Almagtige Skepper van hemel en aarde, in die handelinge van die gevalle mensdom.  Hierdie definisie is dalk nie so omvattend soos sommige dit sou wou hê nie, maar dit spreek ons gewetens genoegsaam aan, sodat ons in diepe verwondering oor die ontvouing van Sy genade in Jesus Christus voor Hom alleen sal buig.

 

Die lang geskiedenis van die Christelike Kerk is die verhaal van ’n panorama van lig en skaduwees; van groot ontdekkings en verdeeldheid; van oorwinnings en neerlae.  Dit is ’n tentoonstelling van God se lewensveranderende werk in mense; ’n blootlegging van die vervallenheid waartoe die mens in staat is.  Dit blyk dat die mens in sy verlorenheid geen perke ken nie – van materialisme wat onbegrens nagejaag word, tot by die naywer van kernoorloë wat die vermoë het om die hele menslike bestaan tot ’n stilstand te ruk.

 

Tog kan geen Christen na die Kerk kyk sonder onwrikbare vertroue in die suksesvolle ontvouing van God se skeppingsdoel met haar aan die einde van die tyd nie.  Belangrike veranderings het in die geskiedenis plaasgevind – soms deur bloedige stryd – maar oral is God se hand sigbaar soos Hy Sy Kerk na die einde lei met Jesus se woorde duidelik in ons ore: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word sal Ek die mense self na My toe trek.”[1]

 

Ek het al dikwels mense hoor sê dat die geskiedenis stories is oor dooie mense!   Dit is waar, maar dit is juis hiérdie dooie mense se lewe en sterwe wat getuig van die lewende God in aksie.  God is!  En juis omdat Hy is, bestaan ons.  Daarom moet ons daagliks daaraan herinner word om te let op hoe Hy wil hê ons hier op aarde moet lewe.

 

Die hele Christelike geskiedenis spreek sterk tot ons.  Dit vorm en leer ons, positief sowel as negatief, hoe ons met vertroue kan leef m.b.t. die toekoms.  Die geskiedenis van die Kerk vorm ’n belangrike skakel tussen die Skrif en praktiese teologie: dit wys hoe mense die Skrif gehoorsaam en ongehoorsaam was.

 

Die geskiedenis van die Kerk is ’n lewende illustrasie en kommentaar op die prediking van die Woord. Dit verbind ons met ’n lang ry van getroue predikers uit die verlede (en die lys word by die jaar langer): Paulus, Polikarpus, Tertullianus, Athanasius, Augustinus, Luther, Calvyn, Edwards, Carey, Spurgeon, Lloyd-Jones en vele meer.

 

Verder voorsien dit herders en leraars van die Kerk met ’n praktiese handleiding oor die ontstaan en ontwikkeling van elke denkbare teologiese vraagstuk waarmee ons te doen kry. Die geskiedenis van die Kerk bevestig die waarheid van die evangelie.

 

Ongelukkig is daar te veel geskiedkundiges wat net “geskiedenis” wil skryf sonder om die vraag te vra: waarom? As dit net gaan oor koue feite, of om só relevant te probeer wees dat ons God se hand in die geskiedenis miskyk, mis ons in albei gevalle die punt. Ons moet die tema van die boek Nehemia byvoorbeeld, deurgaans voor oë hou: Neh. 2:8 en 18

 

“…En die koning het my dit toegestaan volgens die goeie hand van my God oor myEn ek vertel hulle van die hand van my God wat goed was oor my, en ook van die woorde van die koning wat hy my gesê het. En hulle sê: Ons sal ons klaarmaak en bou! En hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk.”

 

Die Patristiek

Vir baie klink ‘patristiek’ vreemd, maar dit is hierdie post-apostoliese kerkvaders wat juis vir ons baie relevant is.  Hulle het geleef vanaf 100 – 450 n.C.  Wat hulle so effektief met ons verbind, is die feit dat hulle in ’n pre-Christelike, pre-moderne en pluralistiese samelewing sin moes maak van die lewe en die hoop wat in hulle gebrand het.  Ons bevind ons tans in ’n post-Christelike, post-moderne en pluralistiese samelewing.

 

Die eerste groot uitdaging van die patristiek was om Bybels te definieer wie Jesus Christus is.  Dit was ’n lang en moeisame stryd wat die kerk soms byna op haar knieë gehad het.  Dit was so erg, dat die afgevaardigdes tydens die Niceense Kerkvergadering in 325 n.C. vir Athanasius gesê het dat hy vrede moet maak met Arius se standpunt, omdat die “hele wêreld teen hom, Athanasius, is.”  Sy antwoord was eenvoudig: “Wel, dan is ek teen die hele wêreld, maar Jesus Christus IS volkome God en volkome mens!”  Hierdie “swart dwerg” uit Afrika, soos hy genoem is, was die instrument in God se hand wat vir ons hierdie ongelooflike leerstuk – dat Jesus Christus volkome God en mens is – Bybels-teologies kon definieer.

 

Dit is juis die Heerskappy van Christus en Sy genoegsaamheid wat in ons tyd so wreed onder skoot is.  Die kreet van vandag is steeds: “Weg met Jesus!”  Sy mensheid en Godheid word bevraagteken.  Die patristiek bied juis vir ons relevante argumente.  Hierdie stryd het nie in 325 n.C. in Nicea geëindig nie, maar het voortgeduur tot en met die vergadering in Chalcedon in 451 n.C.  Het dit daar geëindig?  Nee.  Maar dit het die basis gevorm waarop die latere Kerk kon steun te midde van vals lering en prediking oor die Persoon en werk van Jesus Christus.

 

Verder word die gesag, inspirasie en genoegsaamheid van die Skrif baie sterk bevraagteken.  Dit is letterlik ’n kwessie van “die stryd teen die Bybel.”  In hierdie geval was dit weer die reaksie van Tertullianus uit Noord-Afrika waarop gelet kan word.  Hy het aan Marcion geskryf dat hy sý eie “sogenaamde Bybel” moet gebruik en die Christene se Bybel vir húlle moet los.

 

Hierdie vurige voormalige prokureur uit Kartago in Noord-Afrika, het nie slegs die gesag van die Skrif verdedig nie, maar hy is ook die vader van wat ons vandag die Leer oor die Drie-eenheid noem.  Let maar net op dat mense, toe hy gepraat het van die Trinitas, baie opgewonde was oor die “nuwe leer.”  Sy antwoord was eenvoudig: ‘Dit is nie iets wat ek uitgevind het nie, maar eenvoudig dit wat die Woord duidelik deur die profete verkondig, wat Christus geleef het, en waarop die apostels voortgebou het.’

 

Tertullianus en Clement het erkende probleme beantwoord, soos: “Hoe kan ’n goeie God alomteenwoordig en in volle beheer wees in ’n wêreld vol tragedie?”  Tertullianus se antwoord op “inhegtenisneming sonder verhoor” was briljant.  Sy antwoord was eenvoudig: ‘Wanneer ons weergebore is, kan geen regering of magte van watter aard ons gees opsluit nie.  Ons vryheid in Christus se regverdiging aan die Kruis het ons vry verklaar van aardse oorheersing.’

 

Hy het antwoorde gehad oor die armoede-kwessies van sy tyd en die onnodige uitspattige verleiding van die vroulike geslag van sy tyd.  Trouens, hy het vroue met onbehoorlike gedrag en kleding beskou as “die poort na die hel.”  Baie sou hom beskou het as ’n chauvinis, maar sy briewe aan sy vrou en hulle verhouding het onomwonde die teendeel bewys.

 

Tyd en plek verhoed dat ons na meer teoloë kan verwys, veral dié uit Afrika.  Die volgende sal ter opsomming genoeg wees.  Daar is vandag byna geen situasie waarvan die wortels nie in die geskiedenis terug herlei kan word nie. Alhoewel die vroeë Kerk kronologies ver van ons verwyder is, kan daar duidelike ooreenkoms getref word tussen “hulle” en ons.  Dit is binne hierdie ooreenkomste wat die vroeë Kerk vir ons rigtingwysers kan bied oor die vrae van ons tyd.

 

Die geskiedenis van die Kerk is slegs relevant wanneer dit verstaan en toegepas word, maar dan met verantwoordelikheid en objektiwiteit.  Veronderstellings moet deeglik oordink word, soos byvoorbeeld dat ons as Baptiste direkte navolgers is van Johannes die Doper.  Alhoewel daar raakpunte is, sou dit ietwat naïef en onverantwoordelik wees om so te sê.

 

Ek sal D.V. in die volgende artikel ’n Christelike perspektief gee op die geskiedenis, met Bybelse modelle en Skrifgedeeltes.  Verder sal ek ook poog om aan te toon hoe die Koptiese Kerk in Egipte die Islamitiese aanslag weerstaan het, bloot omdat hulle die Skrif in hulle eie taal gehad het.  Ek sien uit daarna om te gesels.

Johann Odendaal

 

[1] Hierdie paragraaf is min of meer die opsomming wat Williston Walker, A History of the Christian Church, (Revised edition; T&T Clark, Edinburgh) gee as definisie van die geskiedenis van die Kerk. (1963:545).

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Geskiedenis, Uncategorized. Bookmark the permalink.