Onkundige Afrikaners

Afrikaners

Ek het oor die afgelope paar jaar met meer as 30 Afrikaanse kerkgangers gepraat wat nie vir my die evangelie kon verduidelik nie.  Die kern van ons geloof – wie Jesus Christus is en wat Hy gedoen het – was nie eers op hulle geestelike radar nie.  Toe ek hulle oor hulle redding vra, het hulle nie ‘n woord oor Jesus se kruisdood en opstanding gesê nie.  Hulle hoop vir die hemel is so te sê uitsluitlik op hulle goeie werke gebaseer.

 

‘n Vriend van my het dieselfde ervaar.  Maar in sy geval was dit erger.  Hy het die predikante in sy dorp besoek.  ‘Wat is die evangelie?’ het hy hulle gevra.  Twee van hulle kon vir hom ‘n duidelike antwoord gee.  Vir die res was Jesus se kruisdood nie deel van die evangelie nie; dit het oor goeie werke gegaan.

 

Ek verstaan dat mense soms geïntimideerd voel of senuweeagtig is.  In party gevalle praat mense van bekering en genade, maar nie van Jesus se kruisdood nie.  In sulke gevalle dink ek dat hulle dalk die Here ken, maar nie goeie lering ontvang het nie.

 

Maar in my ervaring is dit die uitsondering en nie die reël nie.  In die meeste gevalle ken hierdie mense nie die Here nie.  Omdat Jesus se offer nie vir hulle belangrik is nie, sal die Here hulle soos offerdiere slag (Jes. 34:6-7).  Kan jy Hom hiervoor kwalik neem as Hy alles gedoen het om sondaars te red, en hulle sy offer verag?  Dit is asof hulle sê: ‘Die Here het nie genoeg gedoen om sondaars te red nie; ons moet iets byvoeg.’

 

Sal die Here ons onkunde verskoon as ons duisende kerke, die Bybel in ons eie taal, en baie ander evangelie-voorregte het?  Hiervoor sal die Here sy swaard ekstra skerp maak en ons met ‘n dubbele oordeel vergeld.

 

Dié wat gereeld die evangelie hoor maar nie ter harte neem nie, sal nóg strenger geoordeel word.  Ek praat van mense soos ek en jy.  “En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.” (Luk. 12:48).

 

Die strengste oordeel wag egter vir dié wat in die Here se diens staan, maar nie die evangelie verkondig nie: “wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” (1Kor. 9:16).  “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.” (Jak. 3:1).

 

In die lig hiervan wil ek vir jou sê om nie gerus te wees omdat jy in ‘n gemeente betrokke is, of omdat jou familie darem in ‘n kerk kom nie.  Glo jy die evangelie?  Hoor en glo jou familie dit?  Hoe verstaan hulle verlossing: vertrou hulle op hulle werke, of rus hulle in niks anders as in Jesus Christus en sy kruisdood vir sondaars nie?

 

As ek aan hierdie dinge dink, heg ek nie veel waarde aan mense wat sê dat ons ‘n ‘Christelike volk’ is nie.  Ek dink ook nie dat dit noodwendig in die verlede so was nie.  Vir my lyk dit asof baie Afrikaners Christelike waardes gehad het, maar nie geweet het wat dit beteken om weergebore te wees nie.

 

Ek wonder partykeer of ‘n sekere jong predikant in Johannesburg reg is: ‘South Africa is a pre-Christian country.’  Ons neem m.a.w. aan dat mense gered is omdat hulle kerk toe gaan, maar eintlik het ons die evangelie dringend nodig.

 

Ek is seker dat Afrikaners dit vir die eerste twee of drie geslagte geglo het.  Maar daarna het ons uit die bus uitgeval.  Talle Afrikaners het geglo dat hulle op grond van hulle Afrikanerdom, die uitverkiesingsleer, die verbond, die doop, hulle aanneming en voorstelling, hulle ouers se geloof of iets anders gered is.

 

In sommige hoofstroom kerke was dit ongehoord om die evangelie met sg. ‘verbondskinders’ te deel.  Die kerk en kinders se ouers het aangeneem dat die volgende geslag gered is, en nie die evangelie met hulle gedeel nie.  So het hulle ‘n heidense geslag grootgemaak – kerkgangers wat nie die eerste dinge van die evangelie verstaan nie.

 

Toe hierdie geslag groot word, het hulle kinders gesien dat hulle op ‘n Sondag vroom in die kerk sit, maar in die week soos die wêreld lewe.  Nou, 35 en 40 jaar later, is hierdie kinders groot.  Baie van hulle voel ‘n veer vir die kerk.  Hulle sal baie eerder op ‘n Sondag fietsry of by ‘n braai wees as om in die kerk te sit.

 

Die ergste van alles is dat hulle nog steeds dink hulle is ‘okay’ met die Here.  Hulle het immers ‘n Christelike agtergrond, is gedoop, en is nog êrens lidmaat by ‘n gemeente.

 

Wat D.A. Carson se kollega van die Amish gemeenskap in Amerika gesê het, is tot ‘n mate waar van ons eie volk:  ‘Die eerste geslag het die evangelie geglo en die uitvloeisel daarvan in hulle lewens gehad.  Die tweede geslag het aanvaar dat hulle die evangelie ken, en op die uitvloeisels gefokus.  Die derde geslag het die evangelie verwerp, en al wat hulle oor gehad het was die uitvloeisels.’

 

Vandag het ons skaars die uitvloeisels oor.  Die gevolge van ‘n sterk evangelie-invloed is vinnig besig om te verdwyn.  Soos die res van die tale in ons land, het Afrikaners die evangelie nodig.  Wie sal dit vir hulle bring?  Sal ons te skaam wees om dit met ons eie mense te deel?

 

Paulus wou hê dat sy stamgenote gered moet word (Rom. 9:3).  En sal ons nie soos hy wees nie?  Wat John Knox van Skotland gesê het, moet ek en jy van ons mede-Afrikaners en die res van ons landgenote sê: ‘Give me Scotland or I die!’  Give me South Africa or I die!

Ivor Jefferies

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Evangelie. Bookmark the permalink.