Wanneer mense ‘n kerk verlaat

Leaving the church

Jare gelede het ek Geoff Thomas van Aberystwyth hoor verwys na een van die grootste beproewings in ’n predikant se lewe: wanneer mense wat hy vertrou het hom inlig dat hulle die gemeente verlaat.  Wanneer die oorsaak die predikant se onbevoegdheid is, of sy onvermoë om God se kudde (deur Christus gekoop met Sy eie bloed) te voed, is dit verstaanbaar dat mense sou weggaan op soek na beter weiding.  Die lewe is kort en ons kan dit nie bekostig om ons tyd te mors deur te oorleef op ’n dieet van kaf nie (veral nie as die Bybel ’n graanskuur vol van suiwer koring is nie).

 

Wanneer dit egter gebeur dat mense die kerk verlaat net omdat hulle ontevrede is, of omdat hulle deur Satan gekul en mislei is, of dalk omdat hulle moeg geword het van die soliede waarheidsdieet, is dit altyd ’n hartseer saak.  Watter predikant wil graag sien dat mense vir wie hy gebid het en wat hy liefgehad het, en vir wie hy selfs tyd en krag opgeoffer het, bedank (dikwels sonder om ’n rede te gee en soms met ongeregverdige aantygings)?

 

Is daar troos wanneer sulke verliese gely word?  Daar is!  Dit het met Jesus gebeur, die prediker par excellence, die Seun van God, wie se perfekte lewe en bediening die skares aangetrek het.  Nadat Hy ’n briljante preek oor die leerstellings van vrye genade met sy dissipels gedeel het, het“baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.” (Joh. 6:66).  Dit is opmerklik om te sien dat, toe ons Here by hierdie geleentheid verlaat is, Hy sopas waarhede wat baie belydende Christene onaangenaam vind, eenvoudig en beginselvas uitgespel het.  Hierdie einste vers wat die versaking beskryf, is byvoorbeeld voorafgegaan deur die stelling: “Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie.” (v.65).  As Jesus dissipels verloor het wat “teruggedraai het en Hom nie meer gevolg het nie,” is ons, Sy dienaars, groter as ons Meester dat die nie met ons sou gebeur nie?

 

Gedurende die Paulus se laaste dae op aarde, toe hy op die punt was om tereggestel te word, het hy ’n paar pynlike woorde neergeskryf toe hy verwys het na mense wat eens lojaal was aan hom, maar hom in ’n oogwink versaak het.  Paulus was onder huisarres in Rome waar hy by sy aankoms hartlik verwelkom is deur entoesiastiese Christene, maar nou moet hy aan Timoteus skryf dat dit alles verander het: “In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat.” (2Timoteus 4:16).  Hy het die erns daarvan gevoel, want dienaars van God is afhanklik van mense se bemoediging terwyl hulle hulle moeilike bediening aan die gang hou.  Hy voeg by: “Mag dit hulle nie toegereken word nie!”  Dink ’n bietjie daaraan: naas Christus was hy die grootste prediker, ’n briljante man wat onder God so baie kerke geplant het, ’n dienaar van Christus – verlate!

 

Hoekom gebeur dit?

[1] Dit bewys die onbestendigheid van die mens; selfs belydende Christene. Ons is op ons beste geknakte riete en dowwe lamppitte.  As ons op onsself aangewese is, raak ons bittere teleurstellings vir die Koning en Sy Koninkryk.  Daar is net een manier om sulke swakheid te vermy: handhaaf ’n godvresende wandel en ’n besig-wees met die Hoof van die Kerk.

[2] Dit is die resultaat van die vreemde voorsienigheid van God wanneer Hy probleme toelaat en bepaal om ’n Kerk teë te staan, sodat die ware onderskei kan word van die valse. In 1Korintiërs 11:18-19 word ons eerlik en duidelik geleer: “Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit.  Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word.”  God se kinders is betroubaar en laat nie tydelike omwentelings in ’n kerk toe om hulle te verskrik van ’n lojale gehegtheid aan die liggaam van gelowiges nie.  So pynlik as wat verdeeldheid mag wees, kan dit uiteindelik tot groot seën wees vir ’n plaaslike gemeente wat maar altyd bedreig word deur swak skakels in die ketting van gelowiges.

[3] Vals gelowiges word dikwels so geïdentifiseer. Alhoewel dit beslis nie waar is van almal wat ’n gemeente verlaat dat hulle namaaksels is nie, is dit beslis waar van baie.  In die gelykenis van die saaier verwys Jesus na dié wat “as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir ’n tyd.” (Markus 4:16,17a).  As daar ten minste ’n poging is tot ’n goeie kanselbediening, sal diegene wat lojaal is aan die saak vir Christus geken word aan hulle voortreflike liefde vir die Groot Herder van die skape – en vir hulle passie vir Waarheid.  Enigiets anders, insluitend die predikant, sal ver ondertoe lê op hulle prioriteitslys.  Hulle sal gevolglik nie maklik oorgee en die saak van die Here versaak nie.

[4] Sommige sal weggaan omdat hulle nie die dissipline van die aanbeweeg “van melk na vleis” en die besig wees met diepe nadenke oor Bybelse waarheid aanvaar nie. Timoteus is gewaarsku dat ’n tyd sal kom “wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, … en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” (2Timoteus 4:3-4).

 

Evangelisasie het in ons dag verflou tot die punt waar letterlik duisende heeltemal tevrede is met die seepbel van “Christelike-vermaak”, drama, kort prekies, godsdienstige opwinding sonder diepte en ’n Christelikheid wat meer belangstel in kwantiteit as in kwaliteit.

 

Hoe moet ons reageer wanneer mense die gemeente verlaat omdat hulle in die war gebring word deur minder belangrike sake?

 

  • Ons moet ons getrouheid aan God en aan Sy roeping bewys, want niks anders behaag Hom meer as getrouheid wat met vasberade volharding weier om op te gee met die Kerk.
  • Ons behoort dankbaar te wees vir diegene wat bly. Toe Jesus na die twaalf toe draai nadat so baie Hom verlaat het, en hulle vra of hulle nie ook wil gaan nie, het Simon Petrus namens die res gepraat en ’n diep liefde getoon vir Sy lering toe hy sê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.” (Johannes 6:68).  Al is hulle skaars artikels, is die Here se juwele die mense wat nie genoeg kan kry van die Woord nie, en wat, deur terug te kom vir nog, wys van watter stoffasie hulle gemaak is.  Ons moet hulle na waarde skat en liefhê.
  • Ons moet aanhou met evangelisasie, want die Here sal by Sy Kerk voeg dié wat Hy bestem het tot die ewige lewe – totdat Hy weer kom. Die siftingsproses sal voortduur en ons moet onsself staal teen die menslike teleurstellings wat by geleentheid opduik.  Die wat egter toegevoeg word, sal die toets van die tyd deurstaan: “Ek sal my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matteus 16:18).

 

Where God does not find a mouth to speak,

you must not find an ear to hear,

nor a heart to believe.

(Thomas Lye)

Martin Holdt

Uit Reformation Africa South, Third and Fourth Quarters, 1991, p.1

Gebruik met toestemming

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Kerk. Bookmark the permalink.