Christus in die Tuin

Paasfees 2018[1]

Christ in the garden

Die ding wat my die meeste tref van die nag in Getsemane is die feit dat Jesus juis na daardie spesifieke tuin gegaan het, omdat dit binne die grense van Jerusalem was.  Hy kon daardie aand na Betanië toe gegaan het, soos die vorige aande, maar hoekom het Hy nie?  Weet jy nie dat die Israeliete volgens die Levitiese wet op daardie Paasnag binne Jerusalem se grense moes slaap nie?  Wanneer hulle na die Tempel toe gekom het om die Paasfees te hou, moes hulle daar bly totdat die Paasnag verby was.  Ons Here het dus ’n ontmoetingsplek gekies wat binne die grense van die wet en die stad lê: Hy wou selfs nie die geringste jota of tittel van die wet oortree nie.

Verder het Jesus hiérdie tuin gekies uit ander digby Jerusalem, want Judas het die plek geken.  Hy wou rustigheid hê, nie ’n skuilplek nie.  Dit was egter nie asof Christus Homself oorgegee het nie – dit sou grens aan selfmoord!  Dit was ook nie dat Hy wou wegkruip nie: dit sou lafhartig wees.  Daarom gaan Hy na ’n plek waarvan Hy seker was dat Judas, wat Sy kom-en-gaan geken het, sou weet dat Hy gewoonlik soontoe gaan.  En dit is dáár wat Hy – ver van beangstheid om Sy dood tegemoet te gaan – vurig dors na die doop waarmee Hy gedoop sou word.  Hy wag op die krisis wat Hy so duidelik voorspel het.  Dit was asof Hy gesê het: “As hulle My soek, sal ek wees waar hulle my maklik kan kry en dan kan weglei.”

Ek dink ons moet, elke keer wat ons deur ’n tuin stap, die tuin onthou waar ons Verlosser geloop het – en die smarte wat daar oor Hom gekom het.  Verder wonder ek of Hy ’n tuin gekies het omdat ons almal so baie van sulke plekke hou.  Só kan ons die tye wat ons ontspan, koppel aan ernstige herinneringe aan Hom?  Het Hy onthou hoe vergeetagtig ons is en dáárom Sy bloed op die tuingrond laat val sodat ons elke keer wat ons tuingrond omspit, ons gedagtes kan ophef tot Hom wat die grond bemes het, en wat ons verlos het van die vloek daarvan deur die krag van Sy eie pyn en smarte?

Christus se geestelike lyding was geheel en al agter die voorhangsel.  Niemand kon dit sien of beskryf nie.  Sy sielestryd het egter ’n paar getuies gehad; nie die gepeupel of skares nie.  Hulle het sy liggaamlike lyding gesien, want dit was al wat hulle kon verstaan en dus toegelaat is om te sien.  Net so het Jesus hulle dikwels as’t ware die vlees getoon, of die wêreldse dinge van Sy onderwysing, wanneer Hy ’n gelykenis vertel het.  Hy het hulle egter nooit die siel, die verborge lewe van Sy lering, getoon nie.  Dít het Hy vir Sy dissipels gehou.

So was dit ook in Sy lyding: Griek en Romein het Hy toegelaat om saam te kom in bespotting, om te sien hoe Sy liggaam gekruisig en geskeur word, en bloei tot die dood toe.  Hy het hulle egter nie saam met Hom geneem na die tuin toe om Sy smarte te aanskou nie.  Slegs Sy dissipels is hier toegelaat; en nie almal was daar nie…

Daar was ten minste honderd-en-twintig dissipels, maar slegs elf het Hom na Getsemane toe vergesel.  Daardie elf moes die donker Kedronspruit saam met Hom oorsteek – en agt van hulle moes aan die rand bly, hulle gesigte teen die wind om te sit en toekyk: slegs drie het saam met Jesus die tuin ingegaan.  Daardie drie sien iets van Sy lyding: hulle kyk toe hoe die lyding begin – steeds op ’n afstand.

Hy gaan ’n klipgooi ver van hulle af weg, want Hy moes die parskuip alleen betree: die priesterlike lyer mag niemand saamneem wanneer Hy die offer aan God bring nie.  Uiteindelik was daar net een toeskouer.  Die verkore drie het aan die slaap geraak en slegs die wakker oog van God het neergekyk op Sy Seun.  Slegs die Vader se oor het die jammerlike uitroepe van die Verlosser gehoor:

He knelt, the Saviour knelt and prayed,

When but His Father’s eye

Look’d through the lonely garden’s shade

On that dread agony:

The Lord of all above, beneath,

Was bow’d with sorrow unto death!

Toe kom daar ’n onverwagte gas.  Verwondering het die hemel toegedraai toe engele sien hoe die Christus bloed sweet – vir ons!  “Gaan versterk Christus,” het die Vader aan ’n engel gesê.

The astonished seraph bow’d his head,

And flew from worlds on high.

Die engel was nie daar om te veg nie, want Christus moes alleen veg.  Al wat hy kon doen, was om Hom te versterk met ’n heilige salwing vir die verdrukte Kampioen wat gereed was om flou te word.  Hy, ons groot Verlosser, het krag ontvang van bo en opgestaan vir Sy laaste stryd…

Is dit vir ons ’n les dat die buitewêreld niks weet van Christus se sielestryd nie?  Hulle teken prentjies van Hom, kerf ’n stuk hout of ivoor uit, maar van Sy sielestryd weet hulle niks nie; en kan dit nie ingaan nie!  Nee selfs die meerderheid van Sy eie mense ken dit nie, want hulle is nie deur ’n geestelike gemeenskap geskik gemaak vir daardie lyding nie.

Ons het nie daardie skerp sin vir geestelike dinge dat ons met sulke smarte as wat Hy gely het, kan meegevoel hê nie.  Self Sy drie gunstelinge, uitverkore onder die uitverkorenes, wat geestelike gawes besit het en wat dus die meeste sou ly, het nie insig gehad in die volheid van hierdie groot geheimenis nie.  God alleen ken die siele-angs van die Verlosser toe Hy groot druppels bloed gesweet het.  Engele het dit gesien, maar dit nie verstaan nie.  Hulle moes meer verwonderd gewees het toe hulle die Here van lewe en heerlikheid sien, vol toenemende droefheid, selfs tot die dood toe, as toe hulle die ontstaan van die pragtige wêreld uit niks sien opspring het – of toe hulle gesien het hoe Jahweh die hemele versier het met Sy Gees; en met Sy hand die bose slang gevorm het.

Ons kan nie verwag om die lengte en breedte en hoogte van hierdie dinge te ken nie.  As ons eie ervaring egter verdiep, sal ons meer en meer weet van wat Christus vir ons gely het in die tuin.

Charles Spurgeon

 

[1] Uit The Gospel Truth tydskrif, No. 67, p. 34-35.  Vertaal deur Esta Jefferies

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Jesus, Paasfees. Bookmark the permalink.