Het jy vandag vir jou predikant gebid?

Presbyterian elders

Dit was Sondagmiddag ’n paar jaar gelede toe die vrou van ’n invloedryke diaken gevra het: “Terloops, wie preek vanaand?”[1]  Die predikant was weg.  Ander reëlings is getref vir die Woordbediening daardie aand.  Die vrou se vraag en die manier waarop dit gevra is het ’n sonde verberg wat deesdae té alledaags geword het onder God se kinders: die versuim om baie te bid vir diegene wat arbei in die Woord en leerstellings.  Dit is baie maklik om die kerkgebou ingesweef te kom in die gees van een wat verwag om vir die volgende uur of wat besig gehou te word.

 

Paulus, die groot Apostel, het in Romeine 15:30 sy meesterlike verduideliking en toepassing van die Evangelie begin afsluit met die volgende woorde:

 

Maar ek vermaan julle, broeders, by onse Here Jesus Christus en by die liefde van die Gees, om saam met my in die gebede te stry vir my by God

 

Sy versoek, nee sy vurige pleidooi, vir gebed is insiggewend.  Paulus, moontlik die grootste man op aarde – buiten vir Jesus Christus – ’n man van geweldige intellek, ongewone welsprekendheid, onvermoeide energie en intense ywer vir die Waarheid van God, pleit nederig om die gebede van die gelowiges.

 

’n Apostel soos Paulus het gebed nodig gehad en was afhanklik daarvan.  Hoeveel te meer het die predikante wie se taak dit vandag is om die kudde te voed – die kudde van Christus, die Groot Herder wat Sy lewe afgelê het – dit dan nie nodig nie!  Dit lei tot nog ’n vraag: Hoe dikwels en hoe vurig bid jy vir jou predikant?

 

Gardiner Spring skryf: “Oh, it is at fearful expense that ministers are ever allowed to enter the pulpit without being preceded, accompanied and followed by the earnest prayers of the churches.  It is no marvel that the pulpit is so powerless, and ministers so often disheartened when there are so few to hold up their hands.”

 

In die wyse ekonomie van God se voorsienigheid het Christus, die Hoof van die Kerk, nie net ’n samehorigheid tussen Hom en die liggaam beskik nie, maar ook eenheid tussen die lidmate.  In Bybelse terme beteken dit: koinonia, die gemeenskap van die gelowiges; ’n gemeenskaplike ervaring van en deelname aan God se genadewerk in die wêreld.  Wanneer elke deel van die liggaam dus, soos Paulus in Efesiërs 4 verduidelik, sy deel doen, is daar groei en toename in genade.

 

Watter toepassing het dit nou wanneer dit kom by mense wat vir hulle leraars moet bid?  Is dit nie belangriker om net aan te gaan met die praktiese deel van Christelike werk nie?  Nee!  God het bepaal dat gebed moet saamgaan om Sy bevel uit te voer.  Die verslag van Israel se geveg teen Amalek in Eksodus 17 dien as ’n herinnering aan hoe Moses, toe sy arms moeg geword het soos die veldslag aangegaan het, die hulp van Aäron en Hur nodig gehad het.  Hierdie fisiese hulp wat hy nodig gehad het, is ’n  beeld van die hulp wat Christus se “onder-herders”, ons predikante, geestelik nodig het.

 

Afgesien van die groot verantwoordelikheid wat manne in invloedryke posisies, gesag en leierskap in Christus se kerk dra, is hulle vandag merkbare teikens vir Satan en sy bose handlangers.  Die metode van ‘slaan die herder sodat die skape in verwarring gebring kan word’ is hoog op die prioriteitsleer in die strategieë van die bose.

 

Het jy al ooit nagedink oor die volle strekking van verantwoordelikhede wat jou predikant het?  Sommige daarvan is redelik tong-in-die-kies genoem in die volgende uittreksel, getiteld The Perfect Pastor:

 

[1] Daar word onder andere van hom verwag om van agt in die oggend tot middernag te werk.  Hy is ook sekretaris, is agt-en-twintig jaar oud en preek al vir dertig jaar!

 

[2] Hy het die brandende begeerte om met tieners te werk, maar bestee al sy tyd aan senior burgers.

 

[3] Hy maak vyftig oproepe per dag na gesinne in die gemeente (en besoek bed-lêendes, en diegene in die hospitaal) en bestee al sy tyd om kerkloses te evangeliseer.

 

[4] En hy is altyd in sy studeerkamer wanneer iemand hom nodig het…

 

Op ’n ernstige noot: die lys van verantwoordelikhede is skrikwekkend.  Hy moet self ’n man van gebed wees, waarvoor hy ononderbroke tyd nodig het; so ook vir sy voorbereiding vir die bediening van die Woord.  Die ontwikkeling van ’n sin van God se teenwoordigheid is nie iets wat verwoed gedoen kan word tussen onderbrekings van telefoonoproepe, pogings om aandag te skenk aan ’n foutiewe luidsprekerstelsel, en reëlings om iemand te kry wat ’n gasspreker op die lughawe kan gaan haal.

 

En dan is jou predikant nie net ’n verkondiger nie, maar ook ’n verdediger van die Waarheid.  Mense moet reggehelp en tereggewys word – en geleer word en opgelei word in geregtigheid.  Diegene wat die Waarheid teenstaan, moet gesien word en, waar moontlik reggehelp word.  Die las van berading het baie genade nodig om te volhard in die pastorale bediening.

 

Bewustheid van jou predikant se wye strekking van verantwoordelikhede is noodsaaklik as jy instaat moet wees om effektief vir hom te bid.  Bruce Jenkins wys in sy artikel oor gebed daarop dat gebed baie spesifiek moet wees.  Daar is spesifieke sake waarvoor gebid moet word, bo en behalwe: “Here, seën asseblief ons predikant en gebruik hom kragtig.”  Dit sluit gebed vir hom in op die volgende gebiede:

 

  • Sy fisiese gesondheid en welsyn. ’n Moeë liggaam en ’n vermoeide gees gaan dikwels hand aan hand.
  • Sy toename in heiligheid. Volgens Paulus (in 1Tessalonisense 4:3) is dit die Here se wil.  “A holy minister is an awful weapon in the hand of God.” (Robert Murray M’Cheyne).  Bid dat hy inderdaard ’n voorbeeld sal stel vir die gelowiges, onder andere in reinheid (1Timoteus 4:12).
  • Sy gesinslewe. Hy moet ’n godvresende man wees vir sy vrou en hoof van sy huis.  Hiervoor het hy God se genade en hulp nodig.
  • Sy begrip van die Waarheid. Christus, die Groot Profeet, is die Een wat ’n begrip gee van die Waarheid van Sy Woord.  Bid vir jou predikant dat hy geseën mag wees met ’n vrugbare begrip van Leerstellings en dat hy die vermoë mag hê om dit met wysheid toe te pas op die lewens van ander.
  • Sy moed in die lig van druk om te kompromitteer in verskeie plekke van die geloof en praktyk. Bid dat hy onwankelbaar sal wees, soos Daniël, in sy weiering om toe te gee aan druk.
  • Sy verhouding met mense van veskeie agtergronde. As daar ooit ’n roeping is wat ’n mens in die posisie plaas waar hy ’n onvoorspelbaar wye reeks mense en hulle meegaande probleme moet hanteer, is die pastoraat daardie een.
  • Sy teleurstellings en ontmoedigings. Die feit dat hy ’n predikant is, maak hom nie immuun teen sulke ervarings nie.
  • Persoonlike versoekings. Hy loop nie net die risiko om in die sonde van die vlees, soos wellus en luiheid te val nie, maar kan ook versoek word om onbekwaam te wees in sy tydsbesteding.  Hy is, meer as ander mense, in gevaar om familiêr te raak met dit wat heilig is, en om sy vrees vir God en Sy weë te verloor, of nie in stand te hou nie.  Hy staan ’n beter kans om die warm geloof in Christus te vervang met iets kouds en bloot akademies.
  • Die aanval van duiwelse magte. Spring maak die punt: predikante is “frail men, fallible … exposed to every snare, to temptation in every form and, from the very post of occupation they occupy, the fairer mark for the fiery darts of the foe.  They are no mean victims the great Adversary is seeking, when he would wound and cripple Christ’s ministers.  One victim is worth more to the kingdom of darkness than a score of common men.

 

Op ’n praktiese noot: daar is verskeie maniere waarop jy tot bemoediging kan wees van jou predikant, in sy wete dat jy hom daagliks na die Troon van Genade toe bring:

 

  • Maak seker dat jy gereeld in jou persoonlike stiltetyd vir jou herder bid.
  • Maak in jou Huisgodsdiens ’n punt daarvan om die pastorale bediening van jou gemeente voor die Here te bring in gebed.
  • Maak ’n punt daarvan om teenwoordig te wees by die weeklikse biduur by die kerk en te verseker dat die bediening van die Woord hoog op die lys van versoeke bly!
  • Wanneer jy die geleentheid het, praat met die ander in die gemeente en beklemtoon hulle verantwoordelikheid om gereeld spesifiek vir die predikant te bid.
  • Herinner jou predikant gereeld daaraan dat jy vir hom bid. Lig hom ook in waarvoor jy spesifiek vir hom gebid het.  Vra hom of daar enige spesiale versoek is, sodat jy hom kan bemoedig en bystaan in hierdie areas.

 

Dit bring alles ’n voller sin van deelname in die lewe en bediening van enige plaaslike gemeente.  Die Engelse gesegde: No man is an island, is waar – en die predikant die minste!  Spring druk dit so goed uit wanneer hy skryf:

 

How perilous the condition of that minister, then, whose heart is not encouraged, whose hands are not strengthened, and who is not upheld by the prayers of his people!  It is not in his own closet and on his knees alone that he finds security and comfort, and ennobling, humbling and purifying thoughts and joys; but it is where they also seek them in his behalf, that he becomes a better and happier man, and a more useful minister of the everlasting Gospel.

 

Mag God aan Sy kerk nie net predikante na Sy eie hart gee nie, maar ook mense wat daarin belangstel om die bediening in gebed te ondersteun.

 

The labours of the ministry are fitly compared to the toil of men in harvest, to the labours of a woman in travail, and to the agonies of soldiers in the extremity of a battle.

(John Flavel)

Jim Holmes

 

[1]  Uit Reformation Africa South, First Quarter, 1992, p.1.  Vertaal deur Esta Jefferies.  Gebruik met toestemming.

 

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Gebed, Uncategorized. Bookmark the permalink.