Hoe lief het jy jou Bybel?

Love the Bible

Ek het ’n tyd gelede ’n WhatsApp ontvang met die volgende kosbare aanbieding van Wayne Cordeiro oor sy ondervinding in China.  Verskeie van die lesers het waarskynlik ook die WhatsApp ontvang, maar ek het gedink dat dit noodsaaklik is dat hierdie boodskap elke Christen in Suid-Afrika bereik.  Miskien sal DIE GOEIE TYDING ’n goeie begin wees.

Wayne Cordeiro vertel:

Ons gaan van tyd tot tyd China toe om Christen leiers op te lei. Op ’n keer het ons 22 leiers van die Hunan Provinsie in China gebring vir opleiding.  Hulle het 13 ure lank per trein gery om by ons hotel uit te kom.  Daar het hulle twee-twee met die hysbak boontoe gekom, sodat hulle nie sou aandag trek nie.  So het hulle by ons klein 700 vt2 woonstelletjie gekom.

Wanneer ’n mens in China onderrig, begin jy 08h00 in die oggend, en jy is nie klaar voor 17h00 nie.  Jy leer die mense die HELE dag. Die sitkamertjie was klein. Daar was geen lugversorging nie en die vloer was ’n harde houtvloer.  Die 22 het daar gesit. Ek het rondgekyk en gevra: “As ons nou gevang word, wat sal met mý gebeur?” “O, jy sal binne 24 uur gedeporteer word en ons sal vir 3 jaar tronk toe gaan,” het hulle gesê.

“Julle maak ’n grap,” het ek gesê. “Hoeveel van julle was al in die tronk vir julle geloof?” Uit die 22 het 18 hulle hande opgesteek.  “Dit kan nie waar wees nie!” het ek gesê. Ek het na hulle gekyk en gesê: “Julle 22, oor hoeveel mense is julle opsieners?”  Hulle was klein-groepleiers van ondergrondse kerke in die Hunan Provinsie. “As julle al die mense onder julle ampsgebied bymekaar tel, hoeveel sal dit wees?” het ek gevra.

Hulle het ’n rukkie geneem om alles bymekaar te tel en toe gesê: “Net oor die 20 miljoen.” “Wát?” het ek gesê – jy sien, ons vergeet dat daar 1.3 biljoen mense in China is!  “Dis ongelooflik!” Wel, ek het vyftien Bybels gehad wat ek uitgedeel het. Natuurlik was daar sewe wat nie gekry het nie.

“Kom ons blaai na 2Petrus 1,” het ek gesê, “ons gaan dit lees.” Op daardie punt het een vrou hare gegee aan iemand wat langs haar gesit het. Ek het gedink: dit is interessant!  Toe ons die Skrifgedeelte begin lees, het ek verstaan waarom die vrou haar Bybel weggegee het. Sy het die hele gedeelte gememoriseer en sy het die hele hoofstuk voorgedra!

Toe die sessie klaar was, het ek tydens die breek na haar toe gegaan. ”Jy het die hele hoofstuk opgesê,” het ek gesê. “O ja, ek het baie hoofstukke gememoriseer.” “Waar het jy so baie hoofstukke gememoriseer?” het ek gevra. Haar antwoord het my stom geslaan: “In die tronk.” “Het julle baie tyd in die tronk?” het ek gevra.

“Konfiskeer hulle nie die Bybel nie?” “O ja!  Maar mense bring Skrifgedeeltes in wat op stukkies papier geskryf is.” “Maar as hulle die stuk papier by jou kry, sal hulle dit nie konfiskeer nie?” “O ja,” het sy gesê, “dit is hoekom jy dit so gou as moontlik memoriseer.  Al kan hulle die papier wegneem, kan hulle nie vat wat in jou hart gebêre is nie!” “Wow!”ek het gedink. Na drie dae kry jy hierdie mense lief!

Toe die opleidingsessie klaar is, het ek vir hulle gevra hoe ek vir hulle kan bid, want ek gaan nou terug Amerika toe.  “Julle was so wonderlik,” het ek gesê, “Hoe kan ek vir julle bid?” Hulle het gesê: “Jy weet, julle kan in Amerika enige tyd bymekaar kom soos ons nou het.  Kan jy bid dat ons eendag nét soos julle kan wees?”

Ek het na hulle gekyk en gesê: “Ek sal dit nie doen nie.” Hulle het my met groot oë aangekyk en gevra: “Hoekom nie?!” Ek het geantwoord: “Want julle het vir 13 uur met ’n trein gery om hier te kom. As jy in my land vir meer as ’n uur moet ry, kom die mense nie. Julle het drie dae lank op ’n houtvloer gesit. In my land, as mense vir langer as 40 minute moet sit, loop hulle.

Julle het nie net drie dae lank op ’n harde houtvloer gesit nie, maar dit was sonder lugversorging. As daar in my land nie sagte banke is met lugversorging nie, kom die mense dikwels nie terug nie. “In my land het ons ’n gemiddeld van twee Bybels per gesin.  Maar ons lees dit nie! Julle het feitlik geen Bybels nie, en julle memoriseer dit van stukkies papier af. Ek sal nie bid dat julle net soos ons word nie.  Maar ek sal bid dat ons net soos julle word!

Vertaling van ’n aanbieding deur

Wayne Cordeiro op YouTube by:

https://www.youtube.com/watch?v=M9IvG-vVI2k

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Bybel. Bookmark the permalink.