Jesus se hande in Brakpan

Poor man crying

Ek geniet die kuier by ons gemeente se seniors, veral die enkellopendes. So hoor en sien ek hoe opgewonde tannie Ina van der Schyff vertel van hoe hulle serpe brei, vetkoeke bak en soms net ‘n lekker koue bottel water uitdeel aan bedelaars en karwagte.  Dit het begin by haar en die dames in haar woonstel blok.

Ek vra toe of ons dit as uitreik kan doen vir ons gemeente se vrouediens projek en sy was baie opgewonde.  Ons het skenkings gevra by die vroue in ons gemeente en self wol aangekoop en ander vroue het begin brei aan serpe.  Ongeveer 170 serpe is gebrei, vetkoeke is gebak en gesmeer vir 30 Mei 2018 se uitreik wat om 09h30 in Springs en Brakpan sou plaasvind.

Die persone wat die serpe ontvang het, was baie dankbaar maar die terugvoer en ander tipe dankbaarheid van elke vrou wat die diens gelewer het, was eintlik die sukses uitreik geleentheid.  Ons voete van bereidheid het iemand se hart getref, die glimlagte terwyl ons uitdeel, het vir iemand hoop gegee dat die wêreld nog omgee.

Ek deel graag een dame se terugvoer: “Ek het weereens besef dat dit wat ek het, net genade is. Die onbekendheid van ‘n karwag of selfs ‘n boemelaar het my laat besef dat ons nie weet wat in elkeen se lewe gebeur het nie. Ons het familie en vriende wat omgee. Dit was verblydend om die glimlag te sien en ‘n dankie te hoor. Ons sien immers elke dag mense wat swaar kry. Dit was vir my ‘n leerskool.”

Henriëtte Dercksen, ons predikant se vrou, is altyd betrokke en is ook hier besig met die uitdeel en bemoediging van hierdie mense. Mag hierdie stukkie wat jy nou gelees het, vir jou ‘n bietjie insig gee in die boemelaar en karwag se lewe. Is dit ‘n keuse, of is dit omstandighede? Kom ons vra die Here om ons te leer om vir ‘n paar ure net in iemand anders se skoene te staan. Mag ons almal as ons gaan slaap waardering, dankbaarheid en liefde ervaar en God dank vir Sy genade is ons lewens.

Nederige tannie Ina en haar helpers begin weer in Junie brei vir volgende jaar se projek!

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Praktiese Christenskap. Bookmark the permalink.