Hoekom diëte nie werk nie

Related image

Het jy al ooit gedink dat die Here meer tevrede is met jou omdat jy vir die afgelope twee weke gesond geëet het? As jy ’n bietjie te veel stysel eet, of ’n kilogram optel, is jy nie eers lus om jou Bybel te lees nie en voel jy terneergedruk. In ons diëte het ons sekere wette en rituele. Ons hoop dat hierdie dinge ons beter sal laat voel. Jy voel skuldig as jy nie by die reëls gehou het nie, en voel goed as jy daarin geslaag het om dit na te kom. Jy voel in beheer. Jy vind nie jou vreugde in die Here nie, maar in die onderhouding van die reëls wat jy vir jouself gestel het. Jou liggaam, dieet en die kosse wat jy eet (of nie eet nie) het vir jou ’n afgod geword. Dit is byna asof jy dink dat jou dieet jou meer aanneemlik maak vir die Here. Volgens 1Kor. 8:8 glo jy egter ’n leuen: “Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie”.

Hoe moet ons dan die kwessie van diëte Bybels benader? Dit is nie sonde om ’n dieet te volg nie, maar in die meeste gevalle werk dit nie, want sodra daar ’n wet is, wil jy dit oortree. Sodra jy besluit: ‘Ek moet minder eet,’ is dit skielik ál wat jy wil doen. Jy eet skelm. Jy eet selfs dinge wat jy nie gewoonlik sou eet nie. Jy sal enigiets eet. Selfs as jy een van die rare soort mense is vir wie diëte werk, verskuif jy net jou obsessie: jy het nie meer ’n obsessie met kos nie, maar met jou gespierde liggaam.

Die oplossing is nie om meer wette te maak nie. Reëls kan nie die vlees keer nie: “As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie?—almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan—volgens die gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit ’n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees.” (Kol. 2:20-23).

Wat jy nodig het, is iets sterker as reëls. Om tekste soos 1Kor. 10:31 te gehoorsaam─“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God”─moet jy op Jesus vertrou om jou van die mag van sonde te red en vir die Heilige Gees vra om jou te help om die Bybel te gehoorsaam. Maak ook seker dat jy met die regte motiewe ‘reg’ eet: nie om raakgesien te word of beter oor jouself te voel nie, maar om die Here te verheerlik. Bid oor die probleem en sê vir die Here dat jy Hom in elke area van jou lewe vir verheerlik. Moenie skuldig voel, opgee, jouself kasty of dink die Here is kwaad vir jou omdat jy ’n sjokolade geëet het nie. Die Bybel leer nêrens dat dit sonde is om soetgoed te eet nie. Moet dit egter nie oordoen nie. Vra die Here se hulp om sy gawes in matigheid te geniet: “voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken. Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.” (1Tim. 4:3-5).

Ivor Jefferies

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Praktiese Christenskap, Verslawing. Bookmark the permalink.