Kinders en selfone

Image result for child with cellphone

Skokkende berigte oor tieners─en selfs laerskoolkinders─se misbruik van WhatsApp was tot onlangs vir my maar ’n spookstorie. Daar het egter iets gebeur met een van my kleinkinders wat my oë wyd laat oopgaan het. Ek het vroeër gehoor van die tienermeisie wat selfmoord gepleeg het omdat haar maats ’n partytjie gereël het, maar haar nie uitgenooi het nie. Ons het waarskynlik almal een of ander tyd ervaar hoe dit voel om uitgesluit te word. Party van ons kon sê: ‘Nou dan is dit maar so!’ Ander het die verwerping meer negatief ervaar.

Vir ’n tiener is verwerping ’n groot probleem. Daar is bykans geen tiener wat vandag nié ’n selfoon het nie. Die ouers se verskoning is: sodat hulle my kan kontak as hulle dalk in die nood is. Vroeër het kinders hulle ouers gekontak deur by die kantoor te vra dat hulle ouers geskakel moet word… en niemand is daaraan dood nie!

Die probleem is nie met die selfoon as sulks nie, maar met dít wat die kinders daarop te siene kry─en met wat hulle daarop tik. Een groep het ‘grappenderwys’ voorgestel dat een van die tieners in hulle klas ‘n tou moet koop en haarself moet gaan hang. Sy het. Onlangs moes my kinders hulle tiener se selfoon wegneem om haar sódoende al die soortgelyke, aaklige geskinder en katterigheid van haar groep te spaar.

’n Groep tieners het tydens pouse staan en skinder van een van die kinders in hulle graad.

‘Sy is weird,’ het een gesê.

‘Ja, en sy is so arm!’

‘So, ons is ook arm. Wat is fout daarmee?’ het my kleinkind gesê.

‘Aag, dis net ’n joke!’ was die reaksie.

‘Ek sê julle wat, kom ons gee vir die kind ’n stuk tou en sê: ‘Dê, gaan hang jouself.’

‘Jááá! Dit sal sports wees!’ was die groep se reaksie.

‘Nee, sies!’ het my kleinkind gesê, ‘mens doen nie dit nie!’

‘O, nou’s jy ’n pretbederwer. Hoekom verdedig jy die simpel kind?’

‘Dis nie wat die Here wil hê ons moet doen nie.’

Dis seker nie nodig vir my om te sê dat hierdie in-groep haar onmiddellik uitgeskuif het nie. En die hele ding het waarskynlik begin by wat die kinders op hulle selfone, op Facebook gesien het. Hoeveel tieners moet nóg selfmoord pleeg voor mense sal besef en erken watter euwel ’n selfoon in die hand van (die meeste) tieners is?

Is ek en jy bereid om op te staan vir wat reg is in die oë van die Here? Of is ons dalk te bang vir wat ‘die mense sal sê’? Moenie mense vrees nie, vrees God wat die mag het om jou in die helse vuur te gooi.

Vir die tieners onder ons wil ek dít sê: Hou die oë op Jesus. Hy wéét hoe dit voel om verwerp te word. En Hy is gekruisig omdat Hy jou en my verwerplike dade op Hom geneem het, sodat ons nie meer verwerplik sal wees nie, maar genade sal hê met ander─soos met die eienaardige, arm kind in my kleindogter se klas.

Anoniem

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Christelike lewe, Kinders, Praktiese Christenskap. Bookmark the permalink.