Ouderlinge in ’n Lukwartboom

‘n Huldeblyk aan Dirk Jakobus Gerhardus Coetzee

8 Desember 1932 tot 9 Julie 2017

Related image

Dirk Jakobus Gerhardus Coetzee, die oudste van drie kinders, is op 8 Desember 1932 op Waterval-Boven gebore. Ongeveer drie jaar later, het sy familie Kenia toe getrek. Hulle het tot 1976 daar gebly.

Dirk is op 7 Februarie 1959 op Goedeverwachting getroud met Réna Rousseau. Uit hierdie huwelik is vier kinders gebore: Edith, Ticky, Dirk Jakobus Gerhardus en Myrena. Hulle seuntjie is in die ouderdom van twee jaar op tragiese wyse oorlede en het ’n diep seer gelaat in die lewe van hierdie twee wonderlike mense. Dirk het baie goed opgang gemaak in die sakewêreld en was ’n leidende figuur in Ford Kenia. As gevolg van veranderende politiek het hy egter sy pos verloor en besluit om na Suid-Afrika terug te keer.

Vir ongeveer ’n jaar het hulle in die Bonaero Park omgewing gewoon. Dirk het skoene deurgeloop op soek na werk en eindelik het dit vrug afgewerp. Op ’n dag het hy ’n advertensie gesien van Alderson and Flittin wat op soek was na ’n bestuurder vir hulle tak in Louis Trichardt. Nou was die pad Noord en Louis Trichardt het hulle tuiste geword tot ongeveer 2011. Sowat vier maande na hulle daar gevestig is, is die maatskappy insolvent verklaar. Dirk het ’n groot stap in die geloof geneem en die besigheid gekoop. Hy het die hulp gehad van ’n vriend wat hom vertrou het.So het Intercity Delta Motorhandelaars in Louis Trichardt tot stand gekom.

Daar was egter ’n verder geloofstap wat hierdie godvresende paar geneem het. Hulle het vir ’n tyd lank by oom Frans van Niekerk gewoon. Oom Frans was die pa van Schalk van Niekerk, wat op daardie stadium uit die bediening was. Dirk en Réna het na ’n plot gaan kyk sowat 10 kilometer buite die dorp, hoog teen die Soutpansberg, naby Hanglip. Hier het die pragtige Twin Gables, hulle tuiste geword vir meer as dertig jaar. Dirk het hierdie plot gekoop met geen geld nie, slegs sy integriteit wat die ou dame oortuig het van sy eerlikheid. Hy het onderneem om haar maandeliks af te betaal. Sy het dit aanvaar en hy het sy woord gestand gedoen. Dirk het elke dag droë hout teen die berg opgetel, gesaag en in plastiek sakke verpak en aan ’n handelaar verkoop as braaihout. Dit was deel van sy plan om die plot vinnig af te betaal.

Dirk en Réna het dadelik hulle gewig by die klein groepie Baptiste gelowiges ingegooi en staatmaker lidmate geword. Tydens hulle verblyf daar het verskeie leraars die gemeente bedien: Kallie Fourie, Johann Odendaal, André Bay en Johan Marais. Dit was wonderlike tye, maar ook tye van teleurstelling.

Aan die begin van 1987 het die groepie gelowiges besluit om elkeen maar sy eie geestelike tuiste te gaan soek. Dirk, Réna en vyf ander lidmate het egter besluit om weereens ’n stap in die geloof te neem. Tydens die Algemene Jaarvergadering van die ABK te Kempton Park in 1987, het Dirk ’n hoflikheidsbesoek aan die vergadering gebring. Die voorsitter het hom ’n spreekbeurt gegee. Hy het ’n beroep op die vergadering gedoen om oor te kom na Louis Trichardt en te kom help─’n soort Masedoniese noodkreet. Die skrywer van hierdie artikel was in die hart getref en het in Julie 1987 daarheen verhuis. Daar was unieke tye van bekerings, toewyding, antwoorde op gebed en groei. Jongmanne en ouer manne het hulle roeping tot die bediening ontvang en vandag verkondig hulle die evangelie. Tydens ons bediening saam het 217 mense by die gemeente aangesluit.

Dirk se leiding in die gemeente was dié van ’n nederige, sagmoedige mens en hy het hom as ouderling onderskei as ’n ware Barnabas, ’n man wat baie lief was vir die Woord van God. Hy het by baie geleenthede gepreek, Bybelstudies gelei en was ’n getroue lid van die Gideons, wat gereeld Bybels gaan plaas het in skole, gevangenisse en hospitale.

Een van die merkwaardigste Kerkraadsvergaderings, het in die mikke van ’n Lukwartboom plaasgevind. Teen die berg, sowat vyftig meter van Twin Gables het Oom Dirk, soos ek hom geken het, in die boom geklim en my geroep: ‘Kom Doom, kom ons sit hier en eet Lukwarte en dan lê ons familie uit en praat oor die bediening.’ Dit was inderdaad ’n besondere geleentheid wat ek altyd sal onthou.

Dirk was ’n ywerige leser van teologiese boeke en het graag die waarde daarvan gedeel. Hy was ’n wyd belese man, ’n visserman van formaat en hy het aan die Grootwild Jagtersorde van Oos-Afrika behoort. Hy kon nie eers onthou hoeveel buffels en olifante hy gejag het nie, maar eienaardig genoeg het hy vertel dat hy, nadat hy ’n groot maanhaarleeu geskiet het, baie spyt was en dit nooit weer gedoen het nie. Hy kon baie stories vertel: van Gaboen adders wat hy in hulle tent van kant gemaak het, tot groot Marlyne wat hy aan boord gebring het en ’n gekweste Buffel wat hy bo-op sy vriend doodgeskiet. Die bewyse was daar en die trots was groot.

Dirk was ’n groot man, nie van postuur nie, maar van karakter. Onkreukbaar in sy toewyding aan die Here Jesus. Standvastig, Geesvervuld en ’n wonderlike voorbeeld van wat God van ’n man verwag het in die opvoeding van sy kinders en sy hantering van die huwelik. Hy en Réna het aan ons almal gewys wat dit beteken om die pad saam te loop tot die end. Sy laaste jare was nie maklik nie. Hy is gediagnoseer met Parkinson se siekte, maar selfs hier het sy geloof in God so sterk deurgeskemer dat dit mens opgelig het wanneer jy hom besoek het.

Réna was die toonbeeld van die vrou waarvan ons in Titus 2 lees. Sy het hom tot die einde toe bygestaan. Na 58 jaar van getroude lewe het Dirk op 9 Julie 2017 na sy ewige rus verhuis. Hy dien nou as ’n trofee van God se genade op die vertoonkas van die geskiedenis van Baptiste gelowiges in Suid-Afrika.

Johann Odendaal

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Huldeblyk. Bookmark the permalink.