So onthou ek oom Andries Rossouw…

Related image

Die Vroeë Jare

Ek weet nie veel van oom Andries se kinderjare nie, behalwe dat hy op 20 Februarie 1933 gebore is, dat hy in die Baptistekerk op Standerton grootgeword het, gereeld die Cornelia Paaskampe bygewoon het, en as jong seun daar gedoop is. Ek weet ook dat hy as jong man in Empangeni en Durban gewerk het. Hy het as ‘n stoker op die treine begin. ‘Ek het 14 ton steenkool per dag gestook,’ het hy eenkeer vir my gesê. Oom Andries het later ‘n treindrywer geword. In die laat 1970’s het hy en sy gesin Kemptonpark toe verhuis waar oom Andries by die spoorweg kollege in Esselenpark opleiding gegee het.

 

’n Deeglike Man

Oom Andries het ‘n groot dubbelverdieping huis gehad. Hy het dit met sy eie hande gebou. Ek was beïndruk toe ek die eerste keer in sy huis was. Ek het gedink: ‘Hierdie man het goed met sy geld gewerk.’ Sy huis was altyd netjies en ordelik. Dit was onder andere hierdie eienskap van oom Andries wat my laat dink het hy sal ‘n goeie tesourier maak. En was hy nie ‘n goeie tesourier nie! By ons gemeentevergaderings het hy die hele jaar se finansies─elke liewe uitgawe op die finansiële staat, rand en sent─sonder ‘n papier voor hom voorgedra en verduidelik hoekom ‘die fotostaat geld in Mei-maand R82-37 meer was as in April!’ Ek het ná die vergadering na hom toe gestap en gesê: ‘Oom het die hele jaar se finansies sonder ‘n papier voor oom opgesê!’ Met ‘n glimlag op sy gesig en ‘n fonkel in sy oë het hy gereageer: ‘Ja, maar ek het dit darem twee keer deurgelees voor ek gekom het.’

Dalk sal iemand sê dat oom Andries ‘n bietjie suinig was met die kerk se geld, maar niemand kan hom daarvan beskuldig dat hy dit gemors het nie. Ek het meer as eenkeer by ‘n ouderlingvergadering vir hom gesê: ‘Oom, kan ons nie R1000 gee vir gemeente so-en-so wat swaarkry nie?’ Hy het sy tong in die hoek van sy mond gesit, sy oë skrefies getrek, ‘n bietjie gedink en gesê: ‘Goed, maar ons kan nie meer as R200 gee nie.’ Ek het gereageer: ‘Kan ons dit nie R500 maak nie, oom?’ Hy het weer vir ‘n rukkie stilgebly en gesê: ‘Goed, maar nie meer as R500 nie; ons kan dit nie bekostig nie.’

Oom Andries was ‘n goeie rentmeester en het mooi na die kerk se geld gekyk. Die kerk se boeke was in orde en die belasting op datum. Hy was getrou om die kerk se geld te bank en die water en ligte rekeninge te betaal. Hy het ook gesorg dat die kerk se geboue instand gehou word. Hy het nie geskroom om sommer self die pastorie se palesades te verf nie. Dit was nooit nodig om hom twee keer vir iets te vra nie. Soms was dit nie eers nodig om te vra nie, want nog voordat jy daaraan gedink het, was dit gedoen. Op die oomblik het ons byna ‘n halfdosyn mense nodig om oom Andries se werk te doen. As ek 15 of 20 jaar jonger was, sou ek sê: ‘Oom Andries was ‘n yster.’

 

’n Humoristiese man

Oom Andries het altyd ‘n grappie gehad. Drie voorbeelde is genoeg om die punt te maak. Hy het eenkeer vir my gesê:

‘Wanneer verjaar jy?’

‘Dinsdag, 30 Mei oom,’ het ek gesê.

‘Sjoe, maar jou ouers is goed. Hoe het hulle dit reggekry dat jy óp jou verjaarsdag gebore is?’

Die laaste jaar of twee van sy lewe het hy baie swaar geloop. Twee weke voor sy dood toe help ek hom van sy kar af in die kerk in. Hy het by my ingehaak. Toe ons ‘n paar tree geloop het, toe sê hy: ‘Jong, as ons so aanhou, sal die mense begin sing: “Here comes the bride… a half dead one!”’ My pa het gereageer: ‘Nee, oom kan nie dit sê nie, “because you’re not all dressed in white.”’ Op daardie oomblik toe klim ‘n hoërskoolmeisie met haar wit bloes en langbroek uit die kar uit. ‘There’s the one all dressed in white,’ het hy gesê.

Toe ek oom Andries eenkeer by sy huis besoek het, het hy gesê: ‘As ek doodgaan, wil ek in bank nr. 3 sterf (die plek waar hy elke Sondag gesit het), of in die tuin. Maar as ek in die tuin sterf, moet my gesig ondertoe kyk, want ek wil nie hê die son moet in my oë skyn nie. Ek wil ook nie op die vloer sterf nie, want ek wil nie koud kry as ek dood is nie.’

Ek dink nie ek onthou ‘n enkele besoek of ouderlingvergadering waarin hy nie iets humoristies te gesê gehad het nie. Dit is seker hoekom hy oor die algemeen so gesond was. “’n Vrolike hart bevorder die genesing” (Spr. 17:22).

 

’n Geestelike man

Oom Andries was lief vir die Here. Hy het getrou gebid en sy Bybel meer gelees as die meeste predikante. Ek onthou dat hy in een jaar die Nuwe Testament vyf keer deurgelees het en die Ou Testament vier keer. In die jare wat ek hom geken het, was dit sy normale patroon om die Bybel drie of vier keer per jaar deur te lees.

Waar het hy die tyd gekry? Omdat hy vroeër in sy lewe skofte gewerk het, het ek hom eenkeer hoor sê: ‘Slaap is vir die voëls.’ Hy het teen 20:30 of 21:00 in die aande gaan slaap. Hy het middernag wakker geword en vir ‘n uur gelees. Nadat hy in die oggend wakker geword het, het hy weer vir 30 minute of ‘n uur gelees. Hy het weer in die middag ‘boeke gevat’ en vir ‘n uur sy Bybel gelees.

Moenie ‘n fout maak om te dink hy het sommer net gelees om klaar te kry nie. Hy het opgelet as hy lees. Hy het dinge gesien en verduidelik wat my verstom het.

Oom Andries se toewyding aan die Woord kon ook gesien word in sy toewyding aan die kerk. Hy was gretig om die Woord te leer en het nie ‘n erediens gemis nie. In die laaste paar maande van sy lewe kon hy nie meer die aanddienste bywoon nie, maar hy was tot en met ‘n week voor sy dood elke Sondag in die kerk.

Hy wou nie net die Woord vir homself leer nie, maar het dit met ander gedeel. Hy het gereeld vertel van geleenthede wat hy gehad het om die evangelie met iemand te deel. Hierin was hy vir my ‘n voorbeeld. Ek wens eerlikwaar dat ek op my oudag sy eerbied en ywer vir die Woord sal hê.

 

’n Streng Man

Oom Andries het nie nonsens gevat nie. Hy het nie mense gevrees nie, maar het hulle geroskam as dit nodig was. Ek self is ‘n keer of wat deur hom geroskam, maar omdat hy reg was en my 99 keer ondersteun het, het ek dit nie persoonlik opgeneem as hy my berispe nie.

Soos wat hy ouer geword het en geestelik gegroei het, was hy nie so streng nie en het hy meer sagmoedig geraak. As hy oor die Here gepraat het, het hy trane in sy oë gekry. Die mense in die gemeente het hom gerespekteer. Die jongmense het van hom gehou en vir ‘n predikant was hy goud werd. Ek het nog nie so iemand in my bediening ontmoet nie, en het ook nie gedink dat ek sulke goeie vriende sal wees met iemand wat oud genoeg was om my oupa te wees nie.

 

Die Einde

Op 16 Julie 2018 om 20:15 het oom Andries se jongste dogter my gebel. ‘Kan jy asseblief dadelik na my pa-hulle se huis toe gaan. Daar is groot fout. Ons is oppad van Alberton af.’ Toe ek daar aankom, het oom Andries op die enkelbank in sy sitkamer gesit. Sy oë was toe en sy asemhaling kort. ‘Hello oom Andries; dis Ivor,’ het ek gesê. Ek het sy hand probeer vat, maar hy het verby my hand in die lug in gegryp. Dit is asof hy iets bo sy kop probeer vat het. Ek het Jes. 43:1-2 vir hom gelees en gebid. Omtrent 5 minute later het hy sy laaste asem uitgeblaas. Tien of twintig minute later het die ambulans daar aangekom. Hulle het hom op die mat neergelê en vir ‘n uur probeer om sy hart aan die gang te kry. Hy was egter al lankal in die hemel. Ek het by sy vrou gebly totdat AVBOB gekom het om sy lyk weg te neem. Ek het teen 23:15 by die huis gekom.

‘n Dag of twee later het een van ons lidmate vir my gesê: ‘Ek het teen 20:00 skielik ‘n las op my hart gehad om vir oom Andries te bid.’ Toe ek my oë toemaak en bid, toe sien ek ‘n wit lig wat opgaan. Ek het geskrik en vir myself gesê: “Nee man!” Maar toe ek my oë weer toemaak, sien ek dit weer. Ek het later die nuus gekry dat oom Andries dood is.’ Sulke dinge is ‘n bietjie vreemd vir Baptiste.

Ons mis vir oom Andries, maar vir hom is dit beter om by die Here te wees: “ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Fil. 1:23).

Ivor Jefferies

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Huldeblyk. Bookmark the permalink.