Die verinheemsing van die kerk in Afrika

Related image

Die bestudering van die verlede, beskawings en godsdienstige bewegings bied vir ons waardevolle inligting oor hoe ons as mens gekom het waar ons is. Dis egter veral die geskiedenis van die Kerk van Christus wat ons aandag aangryp, want daarin word die pad na die voleinding van die heilsgeskiedenis vir ons ontvou. Dis soms hartseer, soms verblydend, soms opheffend, maar altyd bly die hoop vars en lewend dat Christus weer kom om sy bruid te kom haal. Ons is in Afrika en van Afrika en juis hier in Afrika het God ons tot hiertoe gebruik om ons rol te vervul in die verwesenliking van God se verlossingsplan vir die wêreld.

Die eerste sendeling na hierdie kontinent was die Etiopiese hofdienaar; ’n man waarlik gered en verander om die evangelie verder te dra. Dit was veral in Egipte en Nubia (Soedan en Etiopië) dat die evangelie vinnig versprei en ’n vastrapplek gevind het. Vanuit hierdie geledere het manne verrys deur die hand van God om blywende bydraes tot die verstewiging van die Kerk en gesonde Bybelse teologie te maak.

Tertullianus (155-225 n.C.) van Noord-Afrika het diepsinnige vrae gevra oor “hoe ’n goeie God soewerein kon wees in ’n wêreld wat daagliks geteister word met rampe en ellende?” Athanasius van Alexandrië (die ‘swart dwerg’) in Egipte het te midde van geweldige teenstand volgehou dat Christus beide God en mens is. Augustinus se skerp klem op die totale verdorwenheid van die mens was ’n onweerlegbare argument teen Pelagius. Hierdie manne het hermeneuties-korrek en verantwoordelik met die Skrif omgegaan. Sodoende kon hulle hul eietydse omstandighede met verantwoordelikheid aan die verlede verbind en toepas. Dit het hoop gebied vir die toekoms.

Daar is bykans geen beweging in die godsdienstige wêreld waarvan die oorsprong nie êrens in die verlede gevind kan word nie. Alhoewel ons oor meer as ’n millennium van die vroeë Kerkvaders en hul lering verwyder is, kan ons tog waardevolle raakpunte sien wat van onskatbare waarde is in ons voortgaande bediening van die evangelie hier aan die suidpunt van Afrika. Oral begin die vlamme van regsinnige denkers helder brand onder jongmanne wat verantwoordelik met die Skrif omgaan in lande soos Namibië, Zambië, Zimbabwe, Botswana en Suid-Afrika en bewys lewer dat hulle die geskiedenis verstaan.

Paulus, sê  Roland Allen, het geslaag waar ons misluk het. Paulus het Kerke geplant, terwyl ons Sendingorganisasies op die been gebring het (Tucker: 2011:35). Die Kerk het haarself in die wêreld gevestig sonder kulturele aansien deur die eenvoudige verkondiging van die evangelie van Christus.

Die taal, kultuur en denke van die vroeë Christene in Afrika was Grieks. Tog is die Bybel so vroeg as die derde eeu n.C. in dialekte van die inheemse Koptiese taal vertaal. Die gevolg was die ontstaan van die Koptiese Kerk. Kopt is die antieke Egiptiese woorde HAK KA PTAH. Eenvoudig vertaal, beteken dit “die gees van Ptah,” die Egiptiese god van die skepping. Kopties beteken enige iets verbonde aan Egipte (Hofmeyr en Pillay: 1991:42).

Veral Alexandrië in Noordoos-Afrika het die middelpunt van teologiese ontwikkeling geword. Hier het ’n Kategisme skool ontwikkel wat nuwe Christene voorberei het vir doop en vir lidmaatskap van die Kerk. Deeglike teologiese navorsing is gedoen, aangesien die vrysinnige Origenes verban is omdat sy teologiese standpunt kontroversieel was. Uiteindelik is hy as ketter gebrandmerk. Sy allegoriese interpretasie van die Skrif en later die Ariaanse stryd kon makliker verstaan en aangespreek word, omdat die Koptiese Kerk die Skrif in hulle taal gehad het en binne hulle konteks beter kon verstaan. Vir die Koptiese Christene was Athanasius se stellings eenvoudig en tot die punt in die stryd om die Godheid van Christus: Slegs God kan red; God as die Seun. Jesus Christus alleen is die Verlosser!

’n Eeu later was die Afrika Kerk weer die middelpunt van bespreking oor die kwessie van Maria. Cyril van Alexandrië het geargumenteer as Jesus God is, dan moet Maria die “draer van God” wees. Vir Nestorius was dit een te veel en daar het ’n definitiewe breuk plaasgevind met die Koptiese Kerk in Noordoos-Afrika. Die gevolg was: Verinheemsing.

Die gevolg hiervan was die vorming van groot getalle van die Koptiese Kerk wat hulleself gaan vestig het in die nuutgevonde Kloosters in Egipte. Sommige het hulle in los groepe geskaar by die charismatiese leier van hierdie anchorite kloosters, Antonius die Grote. Ander het in meer georganiseerde kloosters bymekaargekom en as cenobite kloosters bekend gestaan, onder die leierskap van die Egiptiese Pachomius. Hulle uitsluitlike doel was om te ontsnap van die wêreldse invloed op die Kerk.

Die Koptiese Kerk het toenemend verinheems na die Kerkvergadering van Chalcedon in 451n.C. Interessant genoeg is hierdie kerk se karakter gevorm binne hulle kultuur-historiese konteks. Hulle het die Bybel in hulle taal gehad en die beoefening van hulle geloof was eie aan hul menswees as Koptiese Christene. Hulle teologiese debatte het nie buite hulle politieke en etniese oortuigings en belewenisse gebeur nie. Hulle was trots Koptiese en teen 300 n.C. het hulle die Bybel in al die Koptiese dialekte gehad. Binne die kort bestek van ’n paar jaar was Kopties die liturgiese taal en selfs die monnike het dit gebruik in prediking en onderrig. Daar was ’n duidelike wegbeweeg van Grieks en selfs Latyn. Die groei van die Koptiese Kerk is gestimuleer deur die feit dat die Bybel vrylik beskikbaar was in die hoofstroom Koptiese dialekte: Sahidies, Bohairies en Bashmuries. Die gevolg van hierdie eietydse identiteit was Kerkgroei en ’n baie stewige invloed op Egipte (Shaw: 1996:35-37). In sy boek, The growth of the Church in Africa, sê Peter Falk dat die beskikbaarheid van die Skrif in die Koptiese taal die Kerk in staat gestel het om haar onafhanklikheid te behou, ten spyte van die oorheersing deur Moslems in die eeue wat gevolg het (1979:70-71). Al het hulle getalle a.g.v. vervolging afgeneem, behoort 12% van Egipte se bevolking steeds aan die Koptiese Kerk. Hofmeyr en Pillay skryf iets wat ons as Baptiste, veral in die Afrikaanse omgewing, met al sy vertakkings aan die hart moet gryp:

‘The reason why there are still about fourteen million Coptic Christians in this region, is mainly because of the ability of this form of Christianity to indigenise. The Church had a legal status. Their patriarchs directed its ministries, the use of the Bible in the Coptic dialects and the unity of the Church under the leadership of the patriarchs. This helped the Coptic Church to survive twelve centuries of Muslim domination. This resulted in Egyptian Christians nurturing a loyalty towards their Church, a loyalty admired even by their later Muslim rulers.’ (1991:46).

Die vraag is nou: waarom het die Koptiese Kerk dan nie voortgegaan om die evangelie dieper in Afrika in te neem nie? Ek is van mening dit is omdat hulle nie genoeg staatgemaak het op die kragtige werking van die Heilige Gees deur die gesonde prediking van die Woord nie. Hulle het eenvoudig beskerm wat hulle gehad het. Mag dit nooit van ons waar wees dat iemand in die toekoms dieselfde fout aan ons uitwys nie. Daar is vandag meer mense uit ander etniese groeperings in Suid-Afrika wat Afrikaans praat, as dié wat aan ons bekend is. Wat bind ons aan hulle? Die taal wat ons praat.Ons ken dit. Ons ken die mense en die kultuur. Ons moet eenvoudig die lesse uit die verlede leer. Die Here seën u.

In diens van die Meester

Johann Odendaal

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Kerkgeskiedenis. Bookmark the permalink.