Helderberg Baptiste Kerk

Die handelinge van ’n klein groepie gelowiges

Image result for somerset west

Vir die afgelope drie-en-’n-half jaar is dit die handelinge van ’n klein groepie gelowiges wat my weer kom wys het wat dit werklik beteken om kerk van Jesus Christus te wees; ’n Handelinge kerk.

Eenvoud. Mededeelsaamheid. Vaste vertroue. Geloof ten spyte van ontbering, tekort en heelwat seer. Liefde vir mekaar—maar sonder dat God se waarheid verkrag word onder die vaandel van liefde. Suiwer Woord. Nie tema-prediking ingekleur met ’n vers of twee nie. Nie ’n afgewaterde saamgeflansde preek, los van wat God werklik wil sê nie! Nee, daar is detail uitleg van die Bybel deur ’n gesant van die Here wat erns maak daarmee!

Ja, ons moes deur ’n paar diep riviere stap en by tye moes ons onsself afvra of dit regtig die Here se wil is om Sondag na Sondag steeds bymekaar te kom. Na die Here ons deur hierdie uitdagende tye geneem het, het Hy ons die afgelope nege maande, via tegnologie, kom seën met sy Woord deur Ds. Willem Nel van Krugersdorp Baptistekerk. Ons het sopas klaargemaak met ’n baie geseënde agt maande reis deur die boek Nehemia.

Net soos die Israeliete van ouds moes ons gemeente fisies en geestelik weer opgebou word. Ons het weer besef hoe belangrik dit is om biddend voor die Here sy wil te soek, diensbaar te wees aan mekaar en, die belangrikste: ons geestelik opnuut toe te wy aan ons Here. Ons werk nou deur ’n reeks boodskappe oor Judas en ons kan nie wag vir wat kom nie!https://scontent-jnb1-1.xx.fbcdn.net/v/t1.0-9/9601_692385844234348_6237311084723473395_n.jpg?_nc_cat=101&_nc_ht=scontent-jnb1-1.xx&oh=01dec55d765d2011d6a1df3eec50a06e&oe=5D183566

Ons is vandag ’n klein groepie mense, net so 20 siele, wat elke Sondagoggend bymekaarkom. Ons loof die Here opreg saam deur sang, met net ’n kitaar of twee. Ons luister dan saam na die audio-opnames van Ds. Nel. Ons sit by tafels om te kan skryf wat die Here vir ons sê. Baie keer gesels ons lekker saam oor dít wat ons gehoor het of sommer net om te hoor hoe dit met almal gaan.

Ons het ’n WhatsApp gebedsversoekgroep en op Woensdagaande kom van ons getrou saam om lief en leed te deel, die Woord saam oop te breek en ons knieë voor die Here te buig. Ons beplan ook om binnekort saam deur leringmateriaal te werk ná die diens op ’n Sondagoggend!

Nee, ons het nie op die oomblik ’n herder nie, geen ingewikkelde strukture nie, geen salarisse wat betaal moet word nie en nie ’n gebou van ons eie nie… Wat ons wel het, is suiwer en passievolle Woordverkondiging, ’n opregte gemeenskap van gelowiges en mense wat waarlik omgee vir mekaar.

Ons het ’n plek waar jy op ’n Sondagoggend kan kom stil raak en kan luister na die stem van God. Tyd is nie meer ’n kwessie nie. Nog nooit was ’n 50 minute boodskap so kort nie. Meer Here. Ons begeer om meer te leer.

Ja, daar is ’n lekker koppie koffie, tee of ’n koeldrank en iemand wat sal luister en waarlik belangstel. Wat ’n voorreg om so te kan handel en in alle eenvoud tot God te nader.

Ons koester hierdie seisoen in Helderberg Baptiste Kerk se bestaan. Jy is welkom om dit saam met ons te kom beleef. Kom maak ’n draai as jy weer in die mooiste Kaap is. Die toekoms? Ons kyk op na die berge…

Liefdegroete

Stéphan Pieterse

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Gemeente nuus. Bookmark the permalink.