Die Onopsigtelike Evangelis van Georgestraat

Image result for mr frank genor

Dit is ’n verhaal van Mnr. Genor (eintlik Frank Jenner), ’n bejaarde man wat in Sydney, Australië, gewoon het. As ’n jong matroos is hy op ’n wonderbaarlike wyse gered. Uit dankbaarheid aan die Here het hy belowe dat hy sou probeer om elke dag vir tien mense te vertel van Jesus. Hy het die belofte na die beste van sy vermoë gehou. Nadat hy afgetree het, het hy in Georgestraat gestaan en eenvoudig traktaatjies met die evangelie uitgedeel. Hy het die mense gevra of hulle gered was, en of hulle geweet het waarheen hulle sou gaan, sou hulle daardie aand sterf.

Mnr. Genor het tot 2 weke voor sy dood nooit geweet van één persoon wat ooit gered is as gevolg van sy getroue getuienis nie.

***

Die vertelling het jare terug in ’n Baptistekerk in Crystal Palace, in die Suide van London, afgeskop. Die Sondag oggenddiens was sopas verby toe ’n vreemde man agter in die kerk sy hand opsteek en sê: “Verskoon my, Dominee, kan ek asseblief ’n kort getuienis met julle deel?” Die predikant het na sy horlosie gekyk, en gesê: “Jy het drie minute.”

Die man het sy storie begin:

Ek het sopas hierheen verhuis. Ek het eers in ’n ander deel van London gewoon. Ek kom oorspronklik van Sydney in Australië af. ’n Paar maande gelede het ek familie van my daar gaan besoek. Op ’n dag het ek met Georgestraat afgeloop—jy weet waar Georgestraat is: dit loop van die besigheidsarea af na The Rocks, die koloniale area. ’n Vreemde, witkop mannetjie het vanuit die ingang van ’n winkel voor my ingetree. Hy het ’n pamflet in my hand gestop en gesê: “Verskoon my, Meneer, is jy gered? As jy vannag sou sterf, gaan jy hemel toe?” Sy woorde het my dronkgeslaan. Niemand het dit ooit tevore vir my gevra nie. Ek het hom beleefd bedank. Die hele vlug terug na Heathrow Lughawe toe was ek egter deurmekaar.  Ek het ’n vriend geskakel wat in die nuwe area woon waar ek nou bly. Ek dank die Here dat hy ’n Christen is. Hy het my na die Here gelei. Ek is ‘n Christen en ek sal graag hier wil aanbid.

Baptiste hou van sulke getuienisse. Almal het vir die man hande geklap en hom in hulle gemeente verwelkom. Die volgende week moes die Baptisteleraar Adelaide, Australië, toe vlieg. Tien dae later, in die middel van ’n 3-dag reeks in ’n Baptistekerk in Adelaide, het ’n vrou na hom toe gekom vir berading. Hy wou eers vasstel waar sy met Christus staan.

“Ek het eers in Sydney gewoon. Net ’n paar maande gelede het ek vriende in Sydney gaan besoek. Ek het ’n paar inkopies gaan doen in Georgestraat voordat ek weer sou teruggaan Adelaide toe. ’n Vreemde, witkop man, ’n ouerige man, het uit ’n winkeldeur tevoorskyn gekom. Hy het vir my ’n pamflet gegee en gesê: “Verskoon my, Mevrou, is jy gered? As jý vanaand sou sterf, sal jy hemel toe gaan?”

Sy het gesê: “Daardie woorde het my omgekrap. Toe ek in Adelaide kom, het ek na ’n Baptistepredikant wat ’n blok van my af bly, gegaan. Hy het my na Christus toe gelei. Dus kan ek vir jou sê dat ek ’n Christen is.”

Die Londonse predikant was nou baie deurmekaar. Hy het tweekeer in twee weke dieselfde getuienis gehoor.

Hierna het hy Perth toe gevlieg waar hy in die Mount Pleasant Baptistekerk moes preek. Nadat sy leringsessies oor was, het die senior ouderling van die kerk hom uitgeneem vir ete. Hy het vir hom gevra: “Vriend, hoe het dit gekom dat jy gered is?”

“Ek het in hierdie kerk grootgeword vandat ek 15 was; deur Boys’ Brigade. Ek het nooit ’n toewyding aan die Here Jesus gemaak nie; ek het eenvoudig op die wa gespring en saamgery—soos al die ander. Omdat ek ’n kop vir besigheid het, het ek invloedryk geword. Ek is drie jaar gelede na Sydney in Australië toe vir besigheid. ’n Aanstootlike, haatlike mannetjie het vanuit ’n deuropening van ’n winkel gekom en vir my ’n godsdienstige pamflet—goedkoop gemors!—aangebied en vir my ’n vraag gevra: “Verskoon my, Meneer, is jy gered? As jy vannag sou sterf, gaan jy hemel toe?”

Hy het voortgegaan: “Ek het probeer om vir hom te sê dat ek ’n Baptiste ouderling was. Hy wou nie na my luister nie. Ek het hele vlug van Sydney tot in Perth gekook van woede. Toe het ek vir my predikant daarvan vertel met die gedagte dat hy met my simpatie sou hê! Maar hy het met die mannetjie saamgestem! Hy het reeds vir jare geweet dat ek nie ’n verhouding met Jesus gehad het nie; en hy was reg. My predikant het my drie jaar gelede na die Here Jesus toe gelei…”

Die Londonse predikant het huis toe gevlieg. Tuis gekom, moes hy die Keswick Convention in die Lake District gaan toespreek. Hy het hierdie drie getuienisse daar genoem. Aan die einde van hierdie leersessies het vier ouer predikante na hom toe gekom. Hulle het verduidelik dat hulle tussen 25 en 30 jaar tevore gered is deur daardie selfde klein mannetjie in Georgestraat wat vir hulle ’n pamflet aangebied en dieselfde vraag gevra het.

Die week daarna het hy gevlieg na ’n soortgelyke Keswick Convention vir sendelinge in die Karibbiese See. Hy het weer dieselfde getuienisse daar gedeel. Aan die einde van die leersessie het drie sendelinge na vore gekom en gesê dat hulle ook, tussen 15 en 25 jaar tevore, deur dieselfde klein mannetjie se getuienis tot redding gekom het… hulle is dieselfde vraag gevra in Georgestraat in Sydney!

Op pad terug na London, het die predikant buite Atlanta, Georgia, oorgebly om by ’n Konvensie vir Vloot Kapelaans te gaan praat. Hy het hier drie dae lank met meer as 1000 Vloot Kapelaans gepraat oor die wen van siele vir Jesus. Na die tyd het die Kapelaan-Generaal hom uitgeneem vir ete. Hy het die Kapelaan gevra hoe dit gekom het dat hy ’n Christen geword het.

“Dit was ’n wonderwerk. Ek het op ’n vegskip van die Vloot gewerk. Daar het ek ’n losbandige lewe gelei. Die Vloot was in die suide van die Stille Oseaan besig met oefensessies. Die skip het in die Sydney hawe vasgemeer om voorrade aan te vul. Ons het Kings Cross met mening aangedurf! Ek was smoordronk en het op die verkeerde bus beland. Ek moes in Georgestraat afklim. Toe ek uit die bus klim, het ek gedink ek sien ’n spook! Hierdie ou, witkop man het van nêrens voor my ingespring, ’n pamflet in my hand gestop en gesê: ‘Matroos, is jy gered? As jy vannag sterf, gaan jy hemel toe?’

“Die vrees van die Here het my tussen die oë getref. Ek is nugter geskok en het terug gehardloop skip toe. Daar het ek die Kapelaan gaan opsoek. Hy het my na die Here toe gelei. Ek het myself gou, onder sy leiding, begin voorberei vir die bediening. Ek is vandag in beheer van 1000 Kapelaans wat daarop uit is om siele te wen.”

Ses maande later is die London predikant na ’n konferensie vir 5,000 Indiese sendelinge in ’n afgeleë deel van Noord-Oos Indië. Aan die einde van die konferensie het die Hoof sendeling hom na sy nederige huisie toe geneem vir ’n eenvoudige ete. Die prediker het die sendeling gevra hoe hy wat ’n Hindoe was, ’n Christen geword het.

“Ek het in ’n baie bevoorregte posisie grootgeword. Ek het vir die Indiese Diplomatieke Sending gewerk en het dwarsoor die wêreld gereis. Ek is so dankbaar vir die vergifnis van Christus en Sy bloed wat my sonde bedek, want ek sou baie skaam wees as mense moes uitvind waarin ek was.

“Op ’n keer het die Diplomatieke diens my Sydney toe geneem. Voor my terugkeer huis toe het ek ’n paar laaste inkopies gedoen, soos klere en speelgoed vir my kinders. Ek het met Georgestraat langs gestap toe ’n bedagsame witkop man voor my ingestap het. Hy het vir my ‘n pamflet aangebied en gesê: ‘Verskoon my, Meneer, is jy gered? As jy vanaand sterf, gaan jy hemel toe?’

“Ek het hom bedank, maar dit het my omgekrap. Toe ek terug was in my tuisdorp, het ek ons Hindoe priester gaan sien. Hy kon my nie help nie, maar het my aangeraai om my nuuskierigheid te bevredig. Ek moes met die sendeling in die sendinghuis aan die punt van die straat gaan praat. Dit was goeie advies, want die sendeling het my daardie selfde dag na Christus gelei. Ek het Hindoeïsme onmiddellik vaarwel toegeroep en begin om my voor te  berei vir die bediening. Ek het die Diplomatieke Diens verlaat—en hier is ek vandag deur God se genade, in beheer van al hierdie sendelinge wat altesaam 100,000 mense na Christus toe gelei het.

Agt maande later het daardie Londonse predikant in Sydney gaan preek. Hy het vir die plaaslike Baptiste Leraar gevra of hy weet van ’n klein ou mannetjie met wit hare wat traktaatjies uitdeel in Georgestraat. Sy antwoord was: “Ja, ek ken hom. Sy naam is Frank Jenner (gewoonlik verkeerdelik geskryf as Mnr. Genor). Maar ek dink nie hy doen dit meer nie, want hy is so verswak en oud.”

Twee aande later is die twee leraars saam na die ou man se woonstel om hom te gaan sien. Hulle het geklop en is begroet deur ’n klein, verswakte ou mannetjie. Hy het hulle gevra om te sit. Daarna het hy vir hulle tee gemaak. Hy was so swak dat die tee die piering vol gemors het omdat sy hande so gebewe het.

Die Londonse predikant het vir Mnr. Jenner (Genor) van al die getuienisse vertel wat hy oor die vorige paar maande gehoor het; van al die bekerings. Die trane het oor die ou man se wange gestroom. Toe vertel hy vir hulle sý verhaal.

“Ek was in die vloot, op ’n Australiese oorlogskip. Ek het ’n goddelose lewe gelei. Toe kom daar ’n krisis en ek het in die uiterste nood verkeer. Een van my kollegas vir wie ek letterlik vrot behandel het, het tot my hulp gekom. Hy het my na Jesus gelei. Die verandering in my lewe was soos nag wat verander het in dag—binne 24 uur! Ek was só dankbaar aan die Here. Ek het ’n belofte aan Hom gemaak: ek het belowe om Jesus elke dag in ’n eenvoudige getuienis te deel met ten minste 10 mense. Dit het ek gedoen soos die Here my die krag gegee het. Soms was ek siek en kon ek dit nie doen nie, maar ek het op ander dae opgemaak vir die dae wat ek gemis het. Maar ek was nie fanaties daaroor nie. Ek het dit vir 40 jaar gedoen.

“Nadat ek op pensioen gegaan het, was Georgestraat die beste plek waar ek honderde mense per dag gesien het. Baie mense het my aanbod verwerp, maar baie ander het die traktaatjie beleefd aanvaar. In die 40 jaar wat ek dit gedoen het, het ek nooit gehoor van een enkele mens wat na Jesus gekom het nie—tot vandag!”

Jy weet, ek sou sê dat dít toewyding was. Om dankbaarheid en liefde vir Jesus te bewys deur dit te doen vir 40 jaar lank, sonder om te hoor van enige sukses, wil gedoen word! Daardie eenvoudige Baptiste mannetjie sonder veel charisma het waarskynlik teenoor 147,000 mense getuig! Ek dink dat wat die Here vir die Baptiste predikant van London gewys het, maar net die punt van die punt van die ysberg was… Net die Here weet hoeveel meer mense gewen is vir Christus; hoeveel besig is met groot werk op die sendingvelde.

Mnr. Frank Jenner (Genor) is twee weke later oorlede. Kan jy jou indink watter beloning vir hom gewag het in die hemel? Ek twyfel of sy foto ooit op die Charisma Magazine sou verskyn. Ek twyfel dat daar ooit ’n foto en ’n artikel sou wees in Billy Graham se Decision tydskrif. Niemand behalwe ’n klein groepie Baptiste in Sydney het geweet van Mnr. Frank Jenner nie. Maar ek sê nou vir jou: sy naam was beroemd in die hemel. Die hemel het Mnr. Frank Jenner geken. Dink jou net die verwelkoming en die rooi tapyt en die fanfare in wat hy ontvang het toe verhuis het na die Heerlike teenwoordigheid van God!

Vry vertaal deur Esta Jefferies

 

https://www.christianstogether.net/Articles/82079/Christians_Together_in/Christian_Life/Reaching_Out/Mr_Jenner_and/Mr_Frank_Jenner.aspx

https://en.wikipedia.org/wiki/Frank_Jenner

Advertisements

About baptistekerkkemptonpark

Commissionerstraat 85
This entry was posted in Afgodery, Biografie, Evangelisasie. Bookmark the permalink.