Spyt kom te laat

Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel — Jesaja 61:10

Net voordat jy iets nuuts koop, beleef jy ’n gevoel van opgewonde afwagting wat deel is van die heerlike ervaring wanneer ’n mens iets nuuts kry. Maar het jy al ooit spyt gekry omdat jy iets gekoop het? Spyt spoel soms skielik oor jou soos’n golf wat breek: Het ek die item regtig nodig? Moes ek nie eerder die geld gespaar het nie?

In Genesis 3 kry ons die eerste rekord van ’n koper se spyt. Die slang was om Eva soos ’n vaardige verkoopsman/dame, gereed om haar te oorrompel met sy vlytige verkoopstaktiek. En hy hét Eva oorreed om God se Woord in twyfel te trek…

Die geslepe slang het Eva eers oorgehaal om God se Woord in twyfel te trek, en daarna het hy haar onsekerheid misbruik deur twyfel te saai oor God se karakter! Hy het belowe dat haar oë sal oopgaan, en dat sy soos God sal word.

En Eva het geëet. Adam het ook geëet. En sonde het die wêreld binnegekom.

Maar die eerste man en vrou het meer gekry as wat hulle afgebyt het!

Natuurlik het hulle oë oopgegaan, maar hulle het nie soos God geword nie; trouens, hulle het onmiddellik vir Hom gaan wegkruip!

Die sonde het aaklige gevolge. Dit weerhou die beste gawes van God van ons. Maar God het in sy liefde en genade die mens geklee in klere wat Hy gemaak het van die vel van diere. Die bloed van ’n dier of diere moes vloei sodat Hy vir hulle klere kon maak. Dit is ’n skadubeeld (vooruitsig) van wat Jesus vir ons sou doen deur aan die kruis te sterf vir ons sondes.

Jesus het in ons plek gesterf vir ons sondes. Aan die kruis het Hy ons sonde en ongeregtigheid op Hom geneem. Sy bloed is gestort sodat ons beklee kon word met Sy geregtigheid – sonder spyt van enige aard! As jy nie die Here Jesus ken as Verlosser en Saligmaker nie, wil ek nóú by jou aandring: Bring jou sondes vandag nog na Hom toe, die Offerlam van God. Môre kan dalk te laat wees… 

This entry was posted in Oordenking. Bookmark the permalink.