
’n Woord om die uitverkorenes van God te versterk.
Handelinge 18:9-11
Die boek Handelinge vertel van die ontstaan van die kerk van Jesus Christus wat gesê het: “Ek (sal) my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt.16:18). En hier is Hy nou besig om Sy kerk te bou.
Paulus is hier op sy tweede sendingreis. Hy het alreeds deur verskeie plekke gereis, en nou is hy in Korinte. Hy het reeds vir Áquila ontmoet wat saam met sy vrou Priscílla onlangs in Korinte aangekom het, nadat Claudius al die Jode uit Rome verjaag het. Hulle was, net soos Paulus, tentmakers van beroep en Paulus het by hulle gaan bly en saam met hulle gewerk.
Paulus het eers elke Sabbat in die Sinagoge gepreek, maar toe Silas en Timotheus kom, raak hy heeltemal betrokke in die prediking van die evangelie. Dinge raak egter ’n bietjie moeilik vir Paulus wat emosioneel effens ontmoedig is en homself ’n bietjie wil terugtrek. Trouens, hy wil selfs weggaan van Korinte af omdat dit nie so goed gaan nie. Al ís daar geleenthede, is daar vyandigheid. Sy bediening lyk nie vir hom suksesvol nie. En nou sien hy ’n gesig in ’n droom.
9En die Here het deur ’n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; 10want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad. 11En hy het daar gebly ’n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer.
Aan die begin van die teks sê die Here vir Paulus: “Moenie bang wees nie. Hou aan met die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus in Korinte. Moenie stilbly nie!” Wanneer ’n mens dit alles saamgooi, kan dit impliseer dat Paulus versoek is om stil te bly. Wanneer vervolging kom, mag ons versoek word om stil te bly oor die evangelie, want dit is nie maklik nie. Dit is selfs moeilik om oor die evangelie te praat, want dit is bokant ons vuurmaakplek. Verder is ons huiwerig om mense van hierdie boodskap te vertel, want dit bring teenkanting.
Wie van ons het die evangelie in die laaste week, twee weke, of selfs die laaste maand met iemand gedeel? Dit is moeilik. Ek praat nie van wanneer ons in ’n gesprek met iemand net bolangs na God of Jesus verwys nie. Ek praat van ’n gesprek met iemand waarin jy die evangelie met hulle deel. Jy vertel vir hulle wie God is en dat hulle teen Hom sondig. Jy vertel hulle hoe Jesus Christus gekom het om daardie sonde weg te neem; om daarmee af te reken. En dan deel jy met hulle die uitdaging van die evangelie: dat hulle moet reageer op hierdie boodskap; dat hulle hulle moet bekeer en hulle vertroue in Jesus moet stel. Met ander woorde jy nooi hulle uit om hulle vertroue in Jesus te plaas.
Daar is amper ’n huiwering by Paulus, amper ’n vrees om dit te doen. Maar die Here sê: ‘Moenie bang wees nie.’ Paulus het uit Efese briewe geskryf aan die Korintiër gemeente. Hierin erken hy: “Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing;” (1Kor.2:3). Wat was dit wat Paulus versoek het om stil te bly oor die evangelie? Hoekom was dit vir hom nodig om te sê: ‘Ek skaam my nie vir die evangelie’ nie? Hoekom huiwer ek en jy en enige Christen dan en is ons ontmoedig en vol vrees wanneer ons moet getuig van die Here?
Ons kry ’n bietjie van ’n idee in 1Korintiërs 1:18: “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;”. Hy noem hier twee sake: “verlore gaan” en “gered.” Dit is vernietiging en verlossing en dit is ’n boodskap vir mense wat die gevaar staan om verlore te gaan. Dit gaan daaroor dat hulle nodig het om gered te word. Dit is die boodskap wat ons verkondig.
Dit neem ons reguit na die boodskap van die kruis waarvan ons nie kan ontsnap nie. Dit is ’n moeilike boodskap in ’n samelewing waar mense dit nie graag van God wil hoor nie. Martyn Lloyd-Jones sê die volgende hieroor: “As jy nog nooit skaam was om die gekruisigde Christus met ander te deel nie, is dit nie omdat jý so ’n groot Christen is nie. Dit is omdat jou begrip van die evangelie nog nooit duidelik was nie, want enigeen wat die aard van hierdie boodskap verstaan—dat dit handel oor sonde en verdoemenis en die hel en dat die mens nodig het om daaruit gered te word—weet en verstaan waarom dit so ’n moeilike boodskap is.”
Die wêreld is onder God se toorn. Hulle is verlore, op pad na die ewige verdoemenis en het verlossing nodig.
Nadat ons vir die mense gewys het dat hulle sondaars is wat redding nodig het, moet ons ook vir hulle wys dat dit die God van die heelal is wat aan ’n kruis kom sterf; ’n skandelike hout kruis. Dit is dwaasheid! Maar God is tevrede om diegene wat glo, te red “deur die dwaasheid van die prediking …” (v.21).
Hierdie boodskap is egter vir ons ’n uitdaging. mense dink dit is net te maklik. Verder is daar nét een weg: Jesus. Handelinge 4:12 stel dit duidelik: “want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” Daar is géén ander weg nie. Vir ons wat gered is, is die boodskap van die kruis “die krag van God” wat slegs diegene red wat die evangelie glo.
Daar is net hierdie een Weg!
Om in die wêreld waarin ons leef (’n wêreld wat wil hê dat ons aanpasbaar moet wees; ons moet verdraagsaam wees in ons denke: almal is reg), te sê dat Jesus die enigste Weg is na die Vader en dat alle ander weë lei na die hel, is heeltemal te moeilik. Ons kan beslis glad nie dink dat ons skares gaan lok nie.
Dit is egter presies wat Paulus in Handelinge 18 doen. Hy preek hierdie boodskap vir die mense in Korinte: jy is dood in jou sonde en staan onder die oordeel van die heilige God en daar is geen ander Weg om gered te word as die een wat gaan deur ’n gekruisigde God nie. Dit is ’n eng en veroordelende boodskap, maar niks anders kan vir jou redding bewerk nie. Dit het vir hulle vyandigheid gebring en dit is die agtergrond vir dit wat Paulus in Korinte beleef het.
As ons na al hierdie dinge kyk, sal ons vra: “Hoe gaan dit werk?” Watter hoop het ons? Ons is nie mense van aansien nie. Paulus (en ons) het hierdie eng, veroordelende en verdoemende boodskap gebring van die God van die heelal wat op die skandelikste wyse ooit, aan ’n kruis sterf as ’n misdadiger…
Dit bring ons terug by Handelinge 18. Soos reeds gesê, is Paulus op sy tweede sendingreis en hy is nou in Korinte waar hy hom vasloop in hierdie teenstand. Maar ons kan bemoediging kry uit hierdie teks, daarom gaan ons kyk na drie waarhede:
- Verkondig die Woord
Wat gaan ons doen sodat ons die evangelie sal verkondig? Hoe kan ons die vrees vir die mense oorkom; hierdie huiwering wat maak dat ons terugdeins sodat ons ons nie sal skaam vir die evangelie nie? Ons vind die antwoord in vers 10: “want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” God is dus teenwoordig. Dit is belangrik vir ons.
Ek weet nie waardeur jy tans gaan nie, liewe leser. Miskien is jy vandag net so ontmoedig as wat ek soms is. Dalk is jy moeg of word jy versoek om om een of ander rede wanhopig te wees. Vir jou wil die God van die heelal sê: “Moenie bang wees nie, want Ek is met jou.” Dít is goeie nuus vir enige Christen.
Vandag sê die Here vir ons om die evangelie te deel omdat dit waar is. Vir Paulus was daar in Korinte die versoeking om stil te bly; om te midde van al die teenkanting nie die evangelie te deel nie. Elke keer wat hy sy mond oopgemaak het, was daar net teenkanting. Daar was allerhande verskillende idiologieë en baie immoraliteit. Die godin van liefde was daar, daar was tempelprostitusie en dit was goed om immoreel te wees. Dit was amper soos vandag hier by ons…
Maar die Here sê: “Gaan! Maak dissipels.” Hy sê in Matteus 28:20 vir elkeen van ons: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Elke Christen het dieselfde verantwoordelikheid. Ons moet die evangelie gaan verkondig. Moenie stilbly nie, want Hy is by jou en Hy sal jou help! Hou aan verkondig.
- God is jou Beskermer
Die Here sê: “Niemand sal jou kwaad aandoen nie.” Hierdie waarheid kan nie doodeenvoudig oorgeplaas word na ons toe nie. Die Here sê nie dat ons nie aangeval kan word nie. Ons kan sê dat Paulus deur baie beproewinge is. Wat God hier vir hom gesê het, het so uitgewerk; trouens, as ons kyk na alles wat met Paulus gebeur het, sien ons dat hy vroeër in Korinte gestenig is, uit die stad gejaag is, in die tronk gegooi is. Nou is hy weer in Korinte, maar hierdie keer sê die Here vir hom: “Ek sal nie toelaat dat enigiemand jou aanval of jou kwaad aandoen nie.”
Ons sien in vers 12 dat Gállio wat goewerneur van Acháje was, en dat die Jode eenparig teen Paulus opgestaan het en hom voor die regterstoel gebring het. Hulle was op die oorlogpad teen Paulus, maar hy het onaangeraak daaruit gekom, al was Sósthenes nie so gelukkig nie (v.17). Ons lewe deur die genade nie in presies dieselfde vyandigheid wat Paulus beleef het in Korinte nie. Ons gehoor is egter net so vyandig wanneer ons hierdie evangelie verkondig aan mense wat in sonde teen ’n heilige God leef; mense wat in sonde lewe en in Christus moet glo, sodat hulle sonde weggewas kan word. (Ons sal beskuldig word van haatspraak!)
Ons kan dus nie so ver gaan om te sê dat nie een van ons aangeval of skade aangedoen sal word nie. Dit laat my dink aan wat met John Paton, ’n sendeling in die 1800’s, in die New Hebrides gebeur het. Hy het 4 jaar lank alleen op Tanna, ’n klein eilandjie, gebly. Hy het een na die ander krisis belewe. Dit was ’n riller! Hy skryf: “Our continuous danger caused me now oftentimes to sleep with my clothes on, that I might start at a moment’s warning. May faithful dog Clutha would give a sharp bark and awake me. . . . God made them fear this precious creature, and often used her in saving our lives.” Dit was die omstandighede waarin hy gelewe het. Wat my egter opgeval het, was die volgende:
“My enemies seldom slackened their hateful designs against my life, however calmed or baffled for the moment…. A wild chief followed me around for four hours with his loaded musket, and, though often directed towards me, God restrained his hand. I spoke kindly to him, and attended to my work as if he had not been there, fully persuaded that my God had placed me there, and would protect me till my allotted task was finished. Looking up in unceasing prayer to our dear Lord Jesus, I left all in his hands, and felt immortal till my work was done. Trials and hairbreadth escapes strengthened my faith, and seemed only to nerve me for more to follow; and they did tread swiftly upon each other’s heels.”
Na vier jaar daar is Paton beskuldig dat hy verantwoordelik was vir die uitbreek van ’n epidemie wat oor die eiland versprei het. Hy is op ’n wonderbaarlike wyse gered toe ’n skip op ’n kritieke stadium daar aangekom het en hom weggeneem het van die plek af.
Ander sendelinge het nie dieselfde beskerming belewe nie. Ons troos in hierdie situasie rus egter nie op immuniteit teen aanval en skade, of teen rampe en dood nie.
John en Betty Stam was Amerikaanse sendelinge in China gedurende die Chinese Burgeroorlog. John is in 1934 deur die Kommuniste onthoof en Betty is saam met ’n Chinese winkeleienaar wat hulle probeer help het, oomblikke later vermoor. Dit is ’n hele ander storie. Ons word nie immuniteit teen sulke dinge gewaarborg nie. Maar wat ons kan weet, is dat God aan ons, deur ons geloof in Sy Seun, die ewige lewe skenk in ’n ewige Koninkryk wat nooit sal vergaan nie. Matteus 10:28 sê: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.”
Jesus het gesê dat Hy Sy kerk sal bou en dat die poorte van die hel dit nie sal oorweldig nie.
- God is jou Krag
Dit is God wat gemeentes instaat stel om kerkgeboue op te rig of aan te bou. Wanneer ons God vertrou vir die gemeente se behoeftes, sal Hy op só ’n manier voorsien dat ons sal kan sien dat dit Hy is wat dit doen.
Paulus het gehoor wat die Here sê, nl. dat Hy baie mense in Korinte het, sê die Bybel: “En hy het daar gebly ’n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer.” (v.11). Kyk net watter verandering het die wete dat God by hom is, in Paulus gebring. God het ’n duidelike plan gehad om diegene wat Hy gekies het voor die grondlegging van die aarde, by te voeg by Sy kudde, Sy kerk. Dit het die verantwoordelikheid om die boodskap met die mense te deel, wakker gemaak in Paulus, want God gebruik die prediking van die Woord om mense te red. “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” (Rom.10:17).
Toe Paulus hoor dat daar baie van God se mense in die stad was, het hy dus die vrymoedigheid gehad om die evangelie te verkondig, want God was daar! Dit is God se krag wat gemaak het dat Paulus nie kon swyg nie.
In sy eerste brief aan die Korintiërs vertel Paulus vanuit Efese aan hulle hoe dit alles gebeur het: “dit (het) God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;” (1Kor. 1:21). Net soos Paulus in Titus 1:1 gesê het: “Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God” (1983-vertaling), is hy ook Korinte toe omdat hy die opdrag ontvang het om soontoe te gaan. Hy het die evangelie gepreek, en mense het tot geloof gekom, want “…vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.” (v.24; 1983-vertaling). Die Here het die mense wat geglo het, geroep om te glo, omdat Sy krag die hart van die een wat glo, kan laat herlewe, sodat hy kan reageer op die boodskap. Dit is nie ’n blote uitnodiging nie.
Diegene wat glo, is die mense wat deur God geroep is. Want “wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam,” (v.27). Wie is hierdie mense? Dit is hulle wat God voor die grondlegging van die aarde gekies het om deel te wees van Sy Koninkryk.
Ons, wat geen invloed in die gemeenskap het nie, gaan dus nie in ons eie krag uit met hierdie ‘vir-die-wêreld-onmoontlike’ boodskap nie, want God vind vreugde daarin om die wat glo, te red. Dit is die moeilike deel van hierdie boodskap. Daar is baie besware teen die soewereiniteit van God; selfs onder evangeliese leiers. Die president van ’n Christelike universiteit sê onder andere hiervan dat dit onredelik is (’n skandelike boodskap), die mens verneder en nie tot eer van die Here is nie. Nog ’n bekende teoloog beweer dat hierdie siening mense laat wegdraai van die God van die Bybel, asof hulle wegdraai van ’n “monster.”
Maar dit is wat die Bybel leer! Gaan jy dit aanvaar, of gaan jy vashou aan iets anders? Waaraan gaan jy vashou—want dit is ’n skandelike boodskap? Ons dink ons is te groot om te glo in die krag wat God het om ons te red. Ons wil dit self doen, self deel hê daaraan; ’n mede-redder wees… Maar die Bybel leer dat, tensy God intree en ons in Sy soewereine genade roep, sal ons almal die teenoorgestelde kies.
Wat bly daar nou oor vir ons om te doen? Ons moet soos Paulus wees. Ons moenie probeer slim of mooi vir die oog wees nie, nie iets probeer doen wat allerhande soorte mense gaan inbring wat net vir die verkeerde redes kom nie. Nee! Ons taak is om aan te hou om die evangelie te verkondig! Moenie stilbly nie. Verkondig die Woord van God, al is dit ’n moeilike boodskap om te begryp. Ons moet soos Paulus sê: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.” (1Kor.2:2). En dít is wat hy gedoen het. Hy sê in v.1: “Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie.” (1983-vertaling). Hy sê verder: “Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.” (v.4,5 – 1983-vertaling).
God se krag! God se krag is die enigste manier. Wanneer God se Woord in Sy krag gepreek word en die Waarheid van die evangelie verkondig word, word mense gered.
’n Christen student vertel hoe hy deur ’n groot geloofskrisis gegaan het. Hy moes ’n toespraak lewer as deel van sy studies. Hy het die volgende oor die toespraak besluit: “Ek wil die evangelie preek; ek wil dit in my toespraak deel.” Hy was op ’n sekulêre Universiteit vol ateïste, ongelowiges en mense wat nie hierdie boodskap wou hoor nie. Hy het die evangelie toe ingesluit en die Here gevra vir moed. Toe sy toespraak klaar was, het hy dadelik gevra vir moed, empatie en klaarheid.
Die hand van ’n jong meisie in die agterste ry het op gegaan. “Wil jy vir my sê,” het sy gesê, “as ek nie glo in Jesus nie, gaan ek, wanneer ek doodgaan, die ewigheid in die hel deurbring?”
“Jane, ons het almal gesondig en dit skei ons van God. Dit maak nie saak hoeveel goeie dade ons doen om te probeer ontslae raak van daardie sonde nie. Maar die wonder is dit: Jesus het gekom om daardie sonde weg te neem; om die prys te betaal vir ons sonde. Dus moet ek sê: Ja, Jane, tensy jy jou vertroue in Hom stel, sal jy in jou sonde sterf en die pyn vir jou sonde vir ewig moet beleef,” het hy met soveel empatie as moontlik gesê.
Hy het vertel dat hy daardie dag die ongewildste mens was; die verkrampte Christen…
Jane het hom buite ontmoet en gesê: “Ek wil net hê jy moet weet dat dit die arrogantste, mees bekrompe, kleingeestigste ding is wat iemand nog óóit vir my gesê het! Dat jý kan sê dat ek… net omdat ek nie glo wat jý glo nie, ons almal op pad is na die ewige verdoemenis…” Daarmee het sy weggeloop.
Ek is seker jy het al so-iets ervaar. Jy is in besit van wonderlike Goeie Nuus wat blykbaar daardie soort reaksie uitlok. Die goeie nuus is, al het dit gelyk asof alles tevergeefs was, is Jane, nadat die jongman dikwels met haar gepraat het, gered! Sy het na ’n ruk, na ’n vakansie, terug gekom na hom toe en gesê dat sy die waarheid van hierdie boodskap besef het; dat sy gered is. Hy het besef, ongeag die hoë mure wat ons kultuur oprig teen die evangelie—jy weet: “Ek hét my kerk!”—tuimel hulle inmekaar deur die krag van ’n groot God wat die mag het om sondaars te red!
Glo ons dit? Glo ons dat hierdie evangelie die mag het om te red? Ons teks sê dat God red en as ons dit glo, is ons verplig om daardie boodskap te deel. Vir my is dit oortuigend wanneer ek besef dat my huiwerigheid en my vrees miskien eenvoudig ’n gebrek aan geloof in daardie krag is; ’n ongeloof dat die evangelie sy werk kan doen.
Die vraag is nou: Sal ons praat? Ons word beveel om te praat… Gaan ons bang wees op die kansel, of as individue in die strate van ons dorp? Of gaan ons die evangelie deel, al neem mense aanstoot?
Die goeie nuus word vooraf gegaan deur die slegte nuus en dit is regtig goeie nuus.
As jy ’n volgeling van Jesus Christus is, wil ek jou aanmoedig om die evangelie te deel. Moedig elkeen aan wat in die kansel staan om Christus te deel, en Hom as gekruisigde. Niks anders nie, want dit is ons boodskap, die boodskap wat red.
Ek wil jou uitdaag om te dink aan iemand wat jy ken met wie jy die evangelie kan deel. Vra die Here om vir jou ’n passie te gee tewyl jy soek na ’n gepaste geleentheid om die evangelie van redding met die persoon te deel. Bid vir die persoon. Onthou om die Here te vertrou om die persoon se hart voor te berei.
Rob Ayliffe