Skrifgebondenheid: ‘n Waarde wat jou lewe definieer

Holding Bible to heart

Wat ag ek waardevol in my lewe?  Hierdie dinge gaan my besluite oorheers.  As iets vir my waardevol en kosbaar is, dan neem ek besluite daarvolgens en ek rig my lewe in daarvolgens.

As kind van die Here, as gelowige, moet ek vooraf saam met die Here bepaal wat my waardes gaan wees.  Wat gaan die maatstaf wees waarvolgens ek lewe? Ek kan dit nie maar net opmaak soos wat ek aangaan nie.  Salomo gee in Spreuke 4:26-27 vir sy seun die volgende raad: “26Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. 27Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.”  Met hierdie waardes baken ek saam met die Here ’n koers vir my lewe af.  As ek dit nie vooraf saam met die Here en saam met ander gelowiges gaan doen nie, gaan ek dit wel later maak – met die wêreld!

Ons sou miskien hierdie artikel ook kon noem: “Hoe om nie die verlore skaap te word nie,” of “Hoe om nie die verlore seun te word nie”.

Die volgende waardes hou my op die regte pad:

[1] ’n Ware verhouding met die Here.

[2] ’n Goeie verhouding met Mense.  Hier is daar waardes wat my lewe definieer.

Skrifgebondenheid: Ek onderhandel nie oor die Woord nie. God Said it – That Settles it!

Ons teks is Psalm 119:1-11. Net eers ’n paar vinnige feite oor die Psalm:

  • Dit is die langste Psalm met 176 verse.
  • As jy aanmekaar lees, sal dit jou 30 minute neem om die Psalm deur te lees.
  • Die Hebreeuse Alfabet het 22 letters (ons s’n het 26 letters).
  • Psalm 119 bestaan uit 22 dele waarvan elke deel begin met ’n Hebreeuse letter – in die regte volgorde.  Daar is 22 dele (strofes) en elke deel het 8 verse.
  • Elke vers begin met ’n woord wat met die letter begin wat korrespondeer met daardie perikoop (strofe).
  • In hierdie 176 verse word daar 177 op verskillende wyses verwys na die Woord.
  • Hierdie Psalm is ’n kunswerk in die Hebreeus.  Selfs in vandag se literêre omgewing, beïndruk Psalm 119.  Dit is nie omdat die rym so goed is nie, maar omdat die gedig literêr so goed uiteengesit is:

 

[a] As ek alleen is, dink ek aan U, ek bedink U Woord.

[b] Anders as my tydgenote soek ek net na U, U Woorde vergeet ek nie.

[c] Aanslae van die vyand maak my nie bang nie, die Waarheid sal ewig staan.

[d] Afgesien van wat almal dink, rus ek in U, U Woorde gee my vrede.

[e] Bedrieglik is die leuens wat vertel word, maar ek glo dit nie.

[f] Bedrog staan my nie aan nie.  Ek hou by die beproefde pad.

[g] By U is die absolute waarheid, U Woord is betroubaar.

[h] Behalwe vir U Woord, is daar vir my niks waardevol in hierdie wêreld nie.

[i] Christus is my Redder. My oë is op Hom.

[j] Chaos kan maar druis en dreun, my voete sal nie struikel nie.

[k] Clichés is waaraan mense vashou, maar dit verwoes hulle lewens.

[l] Celsius kan maar styg, aan die U Woord sal ek bly vashou.

 

Dit is die waardes wat my lewe definieer. Kom ons kyk na hierdie waarde wat my op die regte koers hou.  Ek onderhandel nie oor die Woord nie.  Wat wil die Here deur sy Woord in my lewe doen?  Wat is die voordele van Skrifgebondenheid in my lewe?

 

(1) Die Woord hou my op die regte pad

9Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! 10Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. 11 Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U.” (Ps. 119:9-11).

Wanneer ek Skrifgebonde lewe, sal ek op die regte pad bly.  Wanneer ek die Woord die finale gesag in my lewe maak, gaan ek nie iewers ’n groot flater maak waaroor ek spyt sal wees nie.

Ek sien dit in my eie lewe.  Die dinge waaroor ek spyt is, is die dinge wat ek gedoen het wanneer ek nie my lewe aan die Woord onderwerp het nie.  Dit is daardie kere toe ek my vrou seer gemaak het; die kere toe ek mense teleurgestel het.  Dit is die kere wat mense Jesus nie in my kon sien nie.

Die Ou Vertaling (1953) stel dit mooi: “10 Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. 11Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.”

Die Christelike lewe gaan nie oor wette, reëls en regulasies nie.  Dit gaan oor ’n verhouding met die Here Jesus.  Dit gaan oor die beste maak van hierdie lewe, en dit gaan oor die uitleef van my lewensroeping. Wanneer die Woord die finale gesag in my lewe het, loop ek op die pad waar die Here my lei.

Te veel mense vra vir tekens.  Hulle bid: ‘Gee vir my tekens sodat ek weet wat om te doen.’  Maar die Woord is voldoende.  Daar is immers nie tekens en mense wat jou moet kom besweer en al hierdie vreemde dinge nie.  Die Woord is genoeg.  As ons by die Woord hou, loop ons klaar die pad wat die Here ons wil laat loop.

 

(2) Die Woord gee my lewe ware betekenis

37Weerhou my van ’n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys. 38Vervul ook aan my die belofte wat U gegee het aan dié wat U dien.” (Ps. 119:37-38).

Die Woord wys my nie net die regte pad aan vir my lewe nie; dit gee my lewe betekenis.  Die Psalmis vra die Here mooi: “Here – weerhou my van ’n nuttelose lewe!”  Hy is besig om ’n saak uit te maak – hy is besig om ’n gedig van 176 verse te skryf om te sê:

As ek my hou aan die Woord, sal my lewe nie nutteloos wees nie.  My lewe sal betekenis hê.  Wanneer ek die Woord bestudeer, sal ek dit oordink en dit uitleef.  Dan beleef ek vervulling.  Ek beleef tevredenheid.  My lewe kry betekenis. Wanneer ek lewe volgens die Woord, belê ek my lewe reg en my lewe lewer goeie dividende.  Daar is niks so bevredigend as om vir die Here te lewe nie.  Daar is niks wat my lewe soveel betekenis gee, as om volgens die Woord te wandel nie.

Wanneer ek dus volgens die Woord van God lewe is daar nie net minder dinge waaroor ek spyt is nie, maar my lewe bring goeie vrug voort waaroor ek bly is en wat my lewe vol maak.

 

(3) Die Woord gee my stabiliteit

89U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel. 90U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde gemaak, en dit staan vas.” (Ps. 119:89-90).

Almal van ons sal deur moelike tye gaan.  Hierdie lewe bied baie onsekerheid.  Daar is baie dinge wat ‘my hok kom ruk’. Soms is daar storms. Christene word nie gevrywaar van moeilike tye nie. Dinge gebeur:

  • Ek verloor my werk, ek word siek.
  • My lewensomstandighede verander.  Hierdie dinge gebeur. Dit kan met enigiemand gebeur.  Die feit dat ek ’n Christen is, beteken nie dat my besigheid nie deur ’n moeilike tyd kan gaan nie.  Maar dit is nie my finansies, gesondheid of verhoudings wat my stabiliteit gee nie. Dit is die Woord van die Here wat dit doen.
  • My omstandighede sal verander – maar die Woord van die Here sal NOOIT verander nie!
  • My bankbalans kan fluktueer, maar die Woord van die Here bly dieselfde. “Ek, die Here, het nie verander nie, daarom het julle nie te gronde gegaan nie”(Mal. 3:6).

 

Die Here verander nie. Sy Woord verander nie. Daarom gee dit vir ons voorspelbaarheid en stabiliteit in ’n vinnig veranderende wêreld.

 

(4) Die Woord gee my vreugde

111U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my ’n vreugde. 112Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer.” (Ps. 119:111-112).

Die Woord van God hou my nie net my op die (1) regte pad nie.  Die bring nie net vir my groot (2) bevrediging nie en gee nie net vir my (3) stabiliteit nie.  Die Woord gee ook vir my groot vreugde!

Die sleutel is weereens ’n verhouding met God!  As ek nie ’n verhouding met die Here het nie, verstaan ek nie die Woord nie.  Waarom sal ek my lewe wil inrig volgens ’n boek wat oor die laaste 3,400 geskryf is?  Dit maak nie sin nie.

Wanneer ek nie ’n lewende verhouding met die Vader het nie, maak die Bybel nie sin nie.  Maar wanneer ek ’n verhouding met die Vader het, word die Bybel my verhoudingsboek.  Die Bybel help my om die Here nog beter te leer ken.  Die Bybel wys my die pad van seën.  Dit wys my die pad van vrede en vreugde. Dit maak my bly om naby aan die Here te lewe. Dit maak my bly wanneer ek sien hoe my vrou en kinders die vrugte pluk van my verhouding met die Here.

 

(5) Die Woord gee my sekuriteit

165Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat  struikel nie. 166Ek vestig my hoop op hulp van U, Here, u gebooie gehoorsaam ek” (Ps. 119:165-166).

Die Woord gee my net nie voorspelbaarheid en stabiliteit nie.  Wanneer ek die Woord in my hart bêre, bied dit ook vir my sekerheid.  Hebreërs 13:6 sê: “Daarom kan ons met vertroue sê: ‘Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?’”

Die Here se Woord bied vir ons sekuriteit:

  • Ek is meer as ’n oorwinnaar(Rom. 8:37).
  • Daar is geen veroordeling nie (Rom. 8:1).
  • Ek is vrygemaak van die wet van sonde (Rom. 8:2a).
  • Ek is vrygemaak van die Dood(Rom. 8:2b).
  • Ek het oorwinning oor Sonde (1Joh. 5:4).
  • Ek het oorwinning oor die dood (1Kor. 15:55).

 

Maar een van my gunsteling verse is: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie.  Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh. 10:28). Jy sien, hoe meer ek my verdiep in die Woord, hoe meer ek my verdiep in my verhouding met die Here, hoe dieper word my sekerheid.  Dit is een van die tekens van geestelike volwassenheid – geloofsekerheid. Ons lewe nie meer in en met vrees nie.

 

(6) Die Woord wys my die pad na redding

“Ek smag na u redding, ek vertrou op u woord.” (Ps. 119:81).

Die Psalmis sê Hy vertrou op die Here vir sy redding – soos Hy beloof het.  Dit is die Woord wat my die pad wys na Redding. As ek na die skepping kyk, wéét ek daar is ’n God.  Daar is ’n 100 biljoen waarneembare sterre.  As jy al die teleskope inspan, kan hulle ’n beraamde 100 biljoen ‘tel’.  Van hierdie 100 biljoen kan ons ongeveer 9,000 met die oog sien, 4,500 in die Suidelike- en 4,500 in die Noordelike Halfrond.  Onder al 100 biljoen sterre, is daar net konkrete bewys van lewe op een planeet: ons s’n!  Wanneer ek na God se skepping kyk, dan moet ek erken dat daar ’n God is.

Wanneer ek na die skepping kyk, weet ek mos iemand moes dit maak.  Wanneer ek in die middel van die somer deur Namakwaland ry, lyk dit dor en dood.  Kom ek daar in September, is daar tienduisende blomme.

As ek kyk hoe die natuur werk, die geslote ekologie wat alles vanself doen, dan weet ek mos daar is Iemand wat betrokke moes wees om dit te maak. Dit is soos in my huis. Die skottelgoedwasser het mos nie ontstaan deur evolusie, net omdat daar ’n behoefte was nie.  Nee, iemand het dit gemaak.  Net so weet ek dat Iemand die hele skepping gemaak het.

Deur die skepping kan ek sien dat daar ’n God moet wees.  Maar ek kan nie deur die Skepping sien wie hierdie Maker is nie.  Ek het iemand nodig om my te vertel.  Ek het iets nodig om dit vir my te sê.  Dit is die Woord wat my toelaat en help om God te leer ken.  Dit is die Woord wat my vertel van die Here Jesus Christus.

In Johannes 14:6 sê Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”  Dit is die Woord wat vir my die pad wys na redding.  Johannes sê in die eerste hoofstuk van sy Evangelie (1:12): “Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”  Johannes sê verder: “As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Joh. 3:3). “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe” (Hand. 2:38).

Skrifgebondenheid is nie ’n waarde wat net iewers teen ’n muur moet hang nie.  Dit is ’n waarde wat op ons harte geskryf moet staan. Dit is God se Gees wat my deur die Woord:

  • In die regte verhouding met God bring.
  • Help om nie op die verkeerde pad te beland nie.
  • Leer hoe om reg te lewe en hoe om my kinders groot te maak.
  • Vreugde, vrede en blydskap gee.

 

Dit is die Woord wat my vertel van die kruis van die Here Jesus, want ek weet ek is verlore sonder Christus; verlore in my sonde.  Maar dit is die Woord wat my weer terugbring na die Vader toe.  Dit is die Woord wat my uitdaag om die Here Jesus aan te neem as Verlosser en Saligmaker; wat lei tot my redding.

Ons moet Skrifgebonde lewe. Ons mag nie hier onderhandel nie.  Ek kan mos nie vir my siel en redding onderhandel nie, of hoe?

Johan Delport

This entry was posted in Bybel. Bookmark the permalink.